On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

Meer as 100 witrenosters suksesvol in plaaslike reservate hervestig

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:17 Tue, 11 Jun 2024

Meer as 100 witrenosters suksesvol in plaaslike reservate hervestig | News Article
Die hervestiging vorm deel van Afrika Parke se Rhino Rewild-projek. Foto: Cathan Moore

“Dit is egter ook ’n stropingsbrandpunt weens die vraag na horings in Asië, waar dit in tradisionele medisyne gebruik word.”

Altesaam 120 suidelike witrenosters is suksesvol in reservate in Mpumalanga en Limpopo hervestig, terwyl almal onthoring is om die gevaar van stropery te beperk.

Die hervestiging vorm deel van Afrika Parke se Rhino Rewild-projek, wat daarop gemik is om 2 000 suidelike witrenosters oor die volgende tien jaar in veilige, beskermde gebiede in Afrika te hervestig. Die stap word beskou as die tweede fase van een van die grootste wildhervestigingsprojekte in Afrika.

Die Omgewingsbeskermingstigting van die Groter-Kruger-gebied (GKEPF), wat in 2016 gestig is, is ’n alliansie van nege privaat reservate, ’n provinsiale en ’n nasionale park wat toegewy is aan die beskerming van die westelike en oostelike buffers van die Nasionale Krugerwildtuin en die Groter-Limpopo-oorgrenspark.

Die stap word beskou as die tweede fase van een van die grootste wildhervestigingsprojekte in Afrika. Foto: Cathan Moore

Afrika Parke, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat deur skenkers soos die Europese Unie, USAID en onafhanklike internasionale stigtings gefinansier word, het in September ’n renosterplaas van 7 800 ha gekoop. Dis die grootste in sy soort ter wêreld en huisves 2 000 renosters.

Die stap kom op ’n tydstip dat stropergetalle binne GKEPF-reservate aansienlik afgeneem het, sê Peter Fearnhead, uitvoerende hoof van African Parks, wat die doeltreffendheid van sekuriteits- en anti-stropingsmaatreëls beklemtoon.

“Om 120 renosters onder die Rhino Rewild-projek na GKEPF te skuif sal die bestaande renosterbevolking in die Groter-Kruger uitbrei en verseker dat hierdie renosters hul rol vervul in hul natuurlike omgewing, wat van die begin af ons visie was.”

Die veiligheid van die onthoringde renosters word vooropgestel. Foto: Michael Dexter

Die wildhervestiging getuig van die kumulatiewe kennis, vennootskappe en insigte wat voortgespruit het uit ’n lang tydperk van teenstroperypogings in die Groter-Kruger-omgewing, meen Sharon Haussmann, uitvoerende hoof van die GKEPF. Sy beskou dit ook as ’n beloning aan almal wat die afgelope tien tot 15 jaar getrou gewerk het om renosterbevolkings te beskerm in uiters uitdagende omstandighede.

’n Topprioriteit is om die veiligheid van die onthoringde renosters te verseker. “Die renosters sal onthoring aankom, ’n baie doeltreffende manier om die stroperyrisiko te verminder,” sê Markus Hofmeyr, wildveearts en direkteur van die Renosterherstelfonds. “Dit sal die eerste hervestiging van renosters in hierdie landskap in sowat 50 jaar wees,” voeg hy by.

Vier uit elke vyf van die wêreld se renosters is in Suid-Afrika. Foto: Michael Dexter

Op 20 Mei is die eerste 40 onthoringde renosters aan die Munywana-bewaringsgebied in KwaZulu-Natal geskenk om die renosterbevolking ’n hupstoot te gee. Suid-Afrika is die tuiste van sowat vier uit vyf van die wêreld se renosters.

Al die renosters is onthoring om die gevaar van stropery te beperk. Foto: Michael Dexter

“Dis ’n belangrike stap in die beveiliging van die witrenoster, wat ’n bedreigde spesie is en deur uitwissing in die gesig gestaar word. Dit is egter ook ’n stropingsbrandpunt weens die vraag na horings in Asië, waar dit in tradisionele medisyne gebruik word,” sê Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.