On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Meer as R1,5 miljoen bestee om slaggate landwyd te herstel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:28 Wed, 07 Aug 2024

Meer as R1,5 miljoen bestee om slaggate landwyd te herstel | News Article
AfriForum vra die gemeenskap om hulle te help met die projek. Foto verskaf

“Teen einde Julie is ’n allemintige 13 200 sakkies teer landwyd gebruik. Anders gestel is bykans R1,2 miljoen in die sentrale streek gebruik om slaggate te herstel.”

’n Burgerregteorganisasie het tot dusver vanjaar R1,5 miljoen bestee om slaggate landwyd te herstel.

“Streeksgewys het die takke in die sentraalstreek, wat die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal insluit, die meeste sakkies teer gebruik om slaggate te herstel,” sê Corné Cronjé, AfriForum se gemeenskapstrukture-bestuurder.

“Teen einde Julie is ’n allemintige 13 200 sakkies teer landwyd gebruik. Anders gestel is bykans R1,2 miljoen in die sentraalstreek gebruik om slaggate te herstel.”

‘Elke tak probeer om soveel moontlik slaggate te herstel’

Cronjé sê AfriForum se takke landwyd neem elke jaar in Junie deel aan die organisasie se slaggatmaandprojek. In hierdie maand probeer elke tak om soveel moontlik slaggate te herstel.

“Hoewel takke in elk geval die hele jaar lank slaggate herstel, word daar spesifiek in Julie daarop gefokus om selfs meer te doen om paaie op te knap en veiliger te maak.” Die takke herstel elke jaar meer slaggate of gebruik meer teer om dit te doen.

AfriForum herstel jaarliks meer slaggate. Foto verskaf

“Die verval van munisipaliteite het oor die afgelope paar jaar versnel en as ons nie self moue oprol om ’n verskil te maak nie gaan die probleme net vermenigvuldig.

“Vanjaar was die burgerregteorganisasie se takke se doelwit om meer as R1 miljoen vir die herstel van slaggate aan te wend. Hierdie doelwit is reeds in Julie ver oorskry en bykans R1,5 miljoen is al bestee om slaggate te vul.” 

‘Samewerking met ander organisasies en rolspelers is belangrik’

Hy beklemtoon die belangrike ding is dat slaggatprojekte, soos enige ander projekte, volhoubaar aangepak moet word. “AfriForum se takke is ook by verskeie ander volhoubare projekte betrokke wat volgens elke tak of dorp se behoeftes aangepas word. Samewerking met ander organisasies en rolspelers is ook belangrik.”

Cronjé sê AfriForum het vroeër vanjaar ’n samewerkingsooreenkoms met die Tshwane-metro aangegaan, maar daar is ook in verskeie ander dorpe reeds memorandums van verstandhouding met ander munisipaliteite onderteken.

“In Pretoria is daar reeds vyf buurt- en aksiespanne wat daagliks onder meer gras sny, skoonmaak en vullis optel. AfriForum se Centurion-tak het ook ’n herwinningsprojek en in Bloemfontein het die AfriForum-takke ’n vullisverwyderingsdiens vir inwoners wat nie meer só ’n diens van die Mangaung-metro ontvang nie.

‘Hulle wil nog baie slaggate herstel’

“AfriForum beplan om binnekort buurtspanne in ander ankergemeenskappe op die been te bring om sodoende AfriForum se vermoëns verder uit te brei.”

Hulle wil nog baie slaggate herstel en enige hulp vanuit die gemeenskap word opreg waardeer. “Ons moedig ook die publiek aan om by hul plaaslike AfriForum-tak betrokke te raak. Donasies is meer as welkom, maar so ook iemand wat vir ’n uur of twee wil handjie bysit by een van ons projekte.”

OFM Nuus/Charné van der Merwe dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.