On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

South Africa

Valke trek voormalige MKP-lid in hof vas op tweede aanklag

───   06:44 Sun, 18 Aug 2024

Valke trek voormalige MKP-lid in hof vas op tweede aanklag | News Article
Bonginkosi Khanyile is in hegtenis geneem oor voorverkiesingsdreigemente van geweld. Foto: Jacaranda FM

“Die kern van die aankondiging was om die burgers van Suid-Afrika aan te spoor om te betoog en geweld oor die hele land te pleeg, sou die politieke party van sy keuse nie op die stembrief wees nie.”

Die Valke het die inhegtenisneming van die voormalige jeugsameroeper van die uMkhonto weSizwe Party (MKP) Bonginkosi Khanyile bevestig.

Valke-lede van KwaZulu-Natal se Crime Against the State-eenheid het die Khanyile (34) Vrydag in hegtenis geneem vir die oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste en sameswering om openbare geweld te pleeg.

Khanyile het tydens ’n mediakonferensie in Maart vanjaar in Johannesburg gedreig “om oorlog te verklaar” indien die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) oudpresident Jacob Zuma of die party van die stembrief verwyder.

“Daar word beweer dat Khanyile ’n openbare aankondiging gemaak het wat in stryd was met die Wet op Oproerige Byeenkomste.

“Die kern van die aankondiging was om die burgers van Suid-Afrika aan te spoor om te betoog en geweld oor die hele land te pleeg, sou die politieke party van sy keuse nie op die stembrief wees nie,” het Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, gesê.

Mogale het verder gesê dat die aankondiging deur Khanyile ook impliseer dat Suid-Afrikaners moet bymekaarkom en die plundering wat in Julie 2021 plaasgevind het, moet herhaal.

Khanyile staan ook tereg op soortgelyke aanklagte as ’n vermeende aanstigter van die dodelike Julie 2021-onluste. Meer as 300 mense is dood en dele van Gauteng en KwaZulu-Natal het biljoene se skade en ekonomiese agteruitgang beleef.

Vir sy Maart-uitsprake is ’n kriminele saak teen Khanyile by die Brixton-polisiekantoor aangemeld en hy is in die Durban-landdroshof gearresteer terwyl hy vir die 2021-saak verskyn het. Hy is op borgtog vrygelaat en sal weer op 23 September 2024 vir albei sake in dieselfde hof verskyn.

Terselfdertyd is Khanyile met R150 000 beboet deur die Verkiesingskommissie oor dieselfde voorval.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.