On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

South Africa

Wes-Kaapse polisie ondersoek brandstigting ná Joshlin Smith-uitspraak

───   11:56 Sat, 03 May 2025

Wes-Kaapse polisie ondersoek brandstigting ná Joshlin Smith-uitspraak | News Article
Die ontvoerder en mensehandelaar Kelly Smith. Foto: X

Ure nadat Kelly Smith Vrydag (2/5) skuldig bevind is aan mensehandel en ontvoering, wat verband hou met die verdwyning van haar sesjarige dogter, Joshlin Smith, is haar huis in Middelpos, Saldanhabaai, aan die brand gesteek.

’n Vrou is vir ondervraging in hegtenis geneem in verband met die brand wat die woning Vrydagaand vernietig het.

Smith, saam met haar kêrel, Jacquen Appollis, en medebeskuldigde, Stevano van Rhyn, is skuldig bevind aan die orkestrering van Joshlin se verdwyning. Die hof het beslis dat hulle saamgesweer het om die kind vir uitbuiting te verkoop.

Die getuienis van ’n evangelis, asook die besluit van die drie beskuldigdes om nie te getuig nie, was sleutelelemente wat gelei het tot hul skuldigbevinding in die Joshlin Smith-mensehandelverhoor, som The Daily Maverick dit op.

Dié skuldigbevindings deur regter Nathan Erasmus in Saldanhabaai is ’n mylpaaluitspraak, volgens Nicollette Bell, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap. Regter Erasmus het en die aanklaers – advokate Aradhana Heeramun en Zelda Swanepoel – en die ondersoekspan geloof vir hul harde werk.

“Mensehandel is algemeen. Die wetgewing is nuut, en dit is ’n belangrike uitspraak vir ons. So van hier af kan ons nog bou, maar tragies genoeg is die dogtertjie Joshlin nog steeds daar buite. Die soektog na haar moet dus voortgaan,” het Bell gesê,

Joshlin het in Februarie 2024 verdwyn, en ten spyte van die skuldigbevindings word sy steeds vermis.

Ná die uitspraak het Joshlin se ouma aan moederskant, Amanda Smith Daniels, antwoorde van Kelly Smith geëis en daarop aangedring dat sy inligting bekend maak oor waar haar kleinkind haar bevind. Intussen het haar ouma aan vaderskant, Louretta Yon, die skuldigbevinding verwelkom, maar sy beklemtoon die dringende behoefte om die vermiste meisie op te spoor.

Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Thembisile Patekile, het bevestig dat die ondersoek na Joshlin se verdwyning oop bly. Die veroordeelde trio sal op 9 Mei terugkeer hof toe vir vonnisoplegging.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.