South Africa
Afrikaans 100! Opwindende Taaldagviering vir Bloemfontein beplan─── 06:00 Thu, 08 May 2025

Die Ou Presidensie Historiese Vereniging (OPHV) se Taaldagviering van Afrikaans 100 in die planetarium op Naval Hill beloof om feestelik wees, sê André Bartleman, OPHV-voorsitter.
Die planetarium, op die ikoniese Naval Hill in Bloemfontein, is deur twee Amerikaanse ingenieurs ontwerp. Hulle droom was om ’n planetarium in die Suidelike Halfrond op te rig.
Die planetarium, op die ikoniese Naval Hill in Bloemfontein, is deur twee Amerikaanse ingenieurs ontwerp. Hulle droom was om ’n planetarium in die Suidelike Halfrond op te rig.
Die planetarium is nie net vir sterrekyk nie, maar bied ook aan Bloemfonteiners ’n wonderlike terrein waar fees gehou kan word en dit is juis wat die OPHV vanjaar benut vir die viering van Afrikaans se 100ste verjaardag as amptelike taal.
Feesgangers kan ’n groot verskeidenheid aktiwiteite te wagte wees.
Die aankoms van die Winburg-kuiergroep en oprigting van die stalletjies is van 12:00 tot 13:15. Ongelukkig kan net voertuie van mense wat stalletjies bedryf, binne parkeer.
’n Konsert om 14:00 in die Planetarium – “Afrikaans op ons manier”. Kom vier die 100ste jaar van Afrikaans as ’n amptelike taal saam met die OPHV en die gewilde musiekduo Petro Engelbrecht en Ilse Fourie.
Die planetarium bied ’n wonderlike terrein waar fees gehou kan. Foto verskaf
Die program bring aan die een kant ’n ander kleur en geur aan bekende Afrikaanse liedere en aan die ander kant nooi ons die gehoor uit om saam te sing ter 100-jarige vieringe van Afrikaans: trots Afrikaans, deur dik en dun!
Konsertgangers moet hul kaartjies by Computicket bespreek. Dit is die enigste aktiwiteit op die fees waar toegangsgeld gevra word,
Kom reik saam na die sterre onder leiding van prof. Matie Hoffman. Foto verskaf
Prof. Matie Hoffman bied om 15:15 ’n program, “Ek reik na die sterre”, aan en neem feesgangers na die buitenste ruimte. Dit beloof om ’n opwindende ervaring te wees.
Vir die spekskieters en raai-raai-riepers is daar ook iets. Spekskieters kry geleentheid om van 15:45 hulle stories (waar of onwaar) te vertel en daar is selfs ’n wenprys van R150 vir die beste spelers.
Storievertellers is hartlik welkom om deel te neem. Ná al die spekskietery kom raai-raai-riepa aan die beurt. Deelnemers se kennis van Afrikaans gaan getoets word en daar is gawe pryse op die spel.
Pretstap, Springkasteel, Kosstalletjies, Oudhede en Musiek (plate, CD’s): Besoekers kan ’n verskeidenheid stalletjies te wagte wees op Afrikaans se groot dag. Dit is veral die kosstalletjies met egte Afrikaanse gebak wat aftrek behoort te kry.
Die pretstap is ’n stap vir gesinne (of draf) rondom die planetarium – daar is twee afstande. Die springkasteel is deurlopend vir kinders beskikbaar.
“Dit gaan ’n groot kuier wees. Almal is hartlik welkom. Kom kuier solank as wat jy wil,” sê Bartleman.