On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Nuwe teelplase vir leeus binnekort verbied

───   09:49 Wed, 16 Jul 2025

Nuwe teelplase vir leeus binnekort verbied | News Article
Die oprig van nuwe geriewe om leeus te teel word binnekort verbied. Foto: © Giles Laurent, gileslaurent.com, License CC BY-SA

Die regering wil eersdaags ’n kennisgewing uitreik om die oprigting te verbied van nuwe geriewe om leeus vir kommersiële doeleindes in aanhouding te teel.

Dié projek, onder leiding van dr. Dion George, minister van bosbou, visserye en die omgewing, wil skadelike leeuteelpraktyke uitfaseer en wilde diere se welsyn verseker deur bygewerkte regulasies, sê Thobile Zulu-Molobi, departementele woordvoerder.

Die departement maak goeie vordering met die publisering van die kennisgewing wat die verbod instel, wat sal strook met die verbeterde regulasies oor bedreigde of beskermde spesies. Dit is deel van ’n breër poging om biodiversiteit te versterk, aandag te skenk aan bekommernisse in die bedryf en dierewelsyn voorop te stel.

“(Die kennisgewing) dui op ’n keerpunt in ons benadering tot wildbewaring,” sê George. “Deur nuwe teelgeriewe vir leeus in aanhouding te verbied en aandag te skenk aan belangrike maatreëls oor dierewelsyn in die regulasies oor bedreigde of beskermde spesies, is ons daartoe verbind om duidelike, doeltreffende en ferm maatreëls in te stel om Suid-Afrika se natuurerfenis te beskerm en gehoor te gee aan die kommer van die publiek, bewaringskenners en belanghebbendes.”

Die verbod het net betrekking op nuwe geriewe, nie bestaandes nie. Foto ter illustrasie: Facebook/Bagamoya Wildlife Estate

Die Leeuverbodkennisgewing stel ’n belangrike aanbeveling van die ministeriëletaakspan-verslag in werking en strook met die doelwitte van die beleidstandpunt oor die bewaring en volhoubare benutting van olifante, leeus, luiperds en renosters.

“Die kennisgewing verbied die stigting van nuwe geriewe vir die teel van leeus in aanhouding vir kommersiële doeleindes, wat ooreenstem met wêreldbewaringstandaarde en etiese natuurlewebestuurspraktyke,” sê Zulu-Molobi.

Sedert die kennisgewing op 10 Junie aan die Nasionale Raad van Provinsies voorgehou is, het die verpligte 30-dae-oorsigtydperk verstryk. Die departement het intussen die noodsaaklike administratiewe stappe vir afkondigings deur die uitvoerende gesag afgehandel.

Volhoubare toekoms

Daarbenewens skakel die departement met provinsiale LUR’e, ingevolge artikel 87A(3) van die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur: Biodiversiteit, om die implementering van die kennisgewing om die verbod in te stel, te vergemaklik.

George sal verdere terugvoering gee op vergaderings van belanghebbendes, insluitend die komende G20-werksessie in die Krugerwildtuin oor omgewing- en klimaatsvolhoubaarheid.

“Ons werk aan ’n regulatoriese grondslag wat dierewelsyn, biodiversiteitsbeskerming en praktiese wetstoepassing prioritiseer,” het hy gesê. “Die departement bly ten volle verbind tot die finalisering en implementering van hierdie hervormings sonder uitstel, om ’n volhoubare toekoms vir Suid-Afrika se natuurlewe te verseker.”

OFM Nuuscvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.