On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Mthethwa sterf ná val van 22ste verdieping van hotel in Frankryk

───   14:58 Tue, 30 Sep 2025

Mthethwa sterf ná val van 22ste verdieping van hotel in Frankryk | News Article
Nathi Mathethwa. Foto: X

Nathi Mthethwa (58), Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk en oudminister van polisie, is dood nadat hy Dinsdag van die 22ste verdieping van die Hyatt Hotel in Parys geval het.

Die diplomaat is Maandag as vermis aangemeld deur sy vrou, wat volgens die Paryse aanklaerskantoor die aand ’n ontstellende boodskap van hom ontvang het, berig die Daily Mirror. Sy liggaam is Dinsdag naby die Hyatt Hotel in Porte Maillot gevind. 

Beamptes het bevestig dat hy ’n kamer op die 22ste verdieping bespreek het, waar die beveiligde venster oopgedwing was. 

Die aanvanklike soektog na hom was gefokus op die Bois de Boulogne – ’n groot park en botaniese tuin in die weste van Parys – waar die laaste sein van sy selfoon ontvang is. Die polisie, wat selfdood gevrees het, het hul honde-eenhede ontplooi, maar kon hom nie daar opspoor nie.

Verskeie kabinetsposte

Mthethwa is in Februarie 2024 as ambassadeur in Frankryk aangestel en het ook as Suid-Afrika se permanente afgevaardigde by Unesco gedien. Voor sy diplomatieke aanstelling het hy verskeie ministersampte in die Suid-Afrikaanse regering beklee, onder meer as minster van polisie van 2008 tot 2014, en minister van kuns en kultuur van 2014 tot 2023, met die portefeulje sport wat in 2019 bygekom het.

Tussen 2007 en 2022 was hy lid van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC, en het ook in die party se nasionale werkskomitee gedien, wat verantwoordelik is vir die daaglikse bestuur en beleidsaanbevelings aan die NUK.

Die Franse en Suid-Afrikaanse regering het nog geen amptelike verklarings oor die voorval uitgereik nie. Die Paryse polisie het ’n ondersoek begin, en ’n landdros is ook na die toneel gestuur. Mthethwa se familielede is glo reeds deur beamptes ondervra.

By inmenging betrek

EWN het vroeër berig Nhlanhla Mkhwanazi, KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, het Mthethwa vroeër voor die Madlanga-kommissie in ondersoek by onreëlmatige inmenging betrek. 

Hy het getuig Mthethwa het in 2011 glo ingemeng in die korrupsiesaak teen Richard Mdluli deur die destydse inspekteur-generaal vanintelligensie, Faith Radebe, te beïnvloed om strafregtelike klagte teen hom terug te trek. 

Mdluli, wat destyds hoof van misdaadintelligensie was, is daarvan beskuldig dat hy tussen 2008 en 2012 die polisie se geheime fonds misbruik het vir privaat reise en die persoonlike gebruik van veilige huise. Mkhwanazi, wat toe as waarnemende polisiekommissaris gedien het, beweer hy kon nie met vervolging voortgaan nie weens politieke inmenging.

BusinessTech berig ’n woordvoerder van Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking sê hulle is “bewus van ongelukkige berigte rakende ambassadeur Mthethwa” en sal ’n verklaring uitreik sodra daar amptelike inligting beskikbaar is.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.