South Africa
Vaart na Gasa: Mandla Mandela glo deur Israel aangehou─── 10:10 Thu, 02 Oct 2025

Die Suid-Afrikaanse veroordeel die voorval waarin die parlementslid en kleinseun van Nelson Mandela, Mandla Mandela, glo deur Israelse magte “ontvoer is” nadat die Global Sumud Flotilla (GSF) op ’n vaart na Gasa onderskep is.
Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking het bevestig dat 23 Suid-Afrikaners, insluitend Mandela, aan boord van vaartuie in die GSF was, altesaam 45 bote uit 44 lande wat voedsel en mediese voorrade vervoer het. Die bote het verlede maand uit Spanje vertrek, berig The Citizen.
Die Israeliese vloot het die konvooi omsingel en gedwing om na ’n Israeliese hawe te vaar. Amptenare het gesê die bote was op pad na ’n “aktiewe gevegsone”.
Mandla Mandela. Foto: X
Die GSF het gesê aanvanklik is die vloot se kommunikasie ontwrig. Die Israeliese vloot het teen een boot vasgejaag en waterkanonne op ander afgevuur.
Hulle het dit ’n “onwettige aanval op ongewapende humanitêre werkers” genoem.
Voor sy aanhouding het Mandela ’n video opgeneem waarin hy gesê het hy verwag dat hy en ander mense op die vaartuie aangehou sou word. Hy het Israel ’n “apartheidstaat” genoem en die Suid-Afrikaanse regering gevra om druk vir sy vrylating toe te pas.
Wêreldwye solidariteit word ondermyn
Pres. Cyril Ramaphosa het Israel se onderskepping van die vaartuie sterk veroordeel. Hy het ’n oproep gedoen vir die onmiddellike vrylating van die Suid-Afrikaners en ander internasionale burgers wat glo ontvoer is, insluitend Mandela en Suid-Afrikaners soos die skrywer en aktivis Zukiswa Wanner en Reaaz Moolla, ook ’n aktivis.
Die regering wag nog op inligting oor die lot van ander Suid-Afrikaners wat aan die vaart deelgeneem het.
Ramaphosa sê die onderskepping in internasionale waters skend internasionale reg, ondermyn wêreldwye solidariteit en vererger die lyding van die Palestynse volk, insluitend die heersende hongersnood. Hy beklemtoon dat die GSF se sending vreedsaam en humanitêr is, en nie konfronterend nie.
Hy ondersteun die VN se oproep dat Israel die blokkade van Gasa moet ophef en lewensreddende hulpverlening aan burgerlikes moet toelaat, in ooreenstemming met Suid-Afrika se standpunt oor menseregte, soewereiniteit en die noodsaaklikheid van vrede in die Midde-Ooste.
Die gebeure het sterk reaksie van ander politieke partye ontlok. Brett Herron, sekretaris-generaal van die Good-party, sê op X ’n Mandela wat weer gevange geneem word terwyl hy veg vir menseregte en geregtigheid, is ’n skokkende herhaling van geskiedenis.
Die African Transformation Movement (ATM) betuig sy onwrikbare solidariteit met hom en alle aktiviste “wat onregverdig deur Israeliese magte aangehou word. Ons doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om onmiddellik op te tree om hul onvoorwaardelike vrylating te verseker.”
Mandla Mandela releases a statement from the Sumud Flotilla as interception becomes imminent ???? pic.twitter.com/Y3ZChhItJo
— #Africa4Palestine (@Africa4Pal) October 1, 2025
Die GSF, wat aktiviste en politici van verskeie lande insluit – onder andere die Sweedse klimaatsaktivis Greta Thunberg en die Frans-Palestynse EU-parlementslid Rima Hassan – het Spanje in September verlaat met die doel om deur die Israeliese blokkade van Gasa te breek.
Die VN het intussen bevestig hongersnood het in die gebied begin posvat.
Volgens verklarings van die organisasie is die vloot met hommeltuie en waterkanonne aangeval, en verskeie afgevaardigdes word aangehou. Die Alma en Sirius, twee van die hoofskepe, is glo deur Israeliese oorlogskepe geteiken en geïntimideer.
Die vloot vaartuie in veiliger vaarwater. Foto: X
Die internasionale reaksie wissel. Spanje en Italië het hul vlootbegeleiding onttrek en versoek dat die skepe nie die uitsluitingsone binnegaan nie.
Die Franse minister van buitelandse sake, Jean-Noël Barrot, het op X bevestig dat Israeliese magte besig was om vaartuie in die vloot te betree. Italië se premier Giorgia Meloni het gewaarsku dat die sending die jongste VSA-bemiddelde vredesplan vir Gaza in gevaar kan stel.
Die GSF het ’n dringende beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om die onvoorwaardelike vrylating van alle afgevaardigdes te eis, en op Israel om internasionale reg en humanitêre beginsels te respekteer.
OFM Nuus mvh