On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Ondersoekdirektoraat hark Gigaba nader, maar ‘nie oor Transnet-kaping’

───   15:17 Fri, 07 Nov 2025

Ondersoekdirektoraat hark Gigaba nader, maar ‘nie oor Transnet-kaping’ | News Article
Malusi Gigaba is een van die kernfigure wie se naam met die staatskapingsage verbind word. Foto: X

Die ANC-swaargewig Malusi Gigaba ontken ’n gesprek Vrydag tussen hom en die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie (IDAC) hou verband met ondersoeke na onreëlmatige verkrygingspraktyke by Transnet.

In wat gelyk het na nog ’n stap om die net al nouer te span om beweerde staatskapers moes Gigaba, ’n voormalige minister van openbare ondernemings, Vrydag (7/11) Idac te woord staan. Dié lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee het vroeër die dag sy woning verlaat onder die indruk dat hy hom aan die owerhede sou oorgee in verband met ’n korrupsie-ondersoek. 

Hy het aanvanklik op sosiale media aangekondig dat hy gedagvaar is om in die hof te verskyn op korrupsieklagte. Hy het verwag om in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof te verskyn. 

Malusi Gigaba was in oudpres. Jacob Zuma se termyn minister van openbare ondernemings. Foto: X

Idac het dit egter ontken. Gigaba is nie in hegtenis geneem nie en geen hofverskyning is beplan nie, het Idac-woordvoerder Henry Mamothame gesê. 

Gigaba het later verduidelik Idac se ondersoek hou nie verband hou met onreëlmatige verkrygingspraktyke, maar wel met aantygings dat hy ’n onverdiende voordeel ontvang het tydens sy ampstermyn in die kabinet, berig EWN.

Daar is wel ondersoeke aan die gang wat verband hou met onreëlmatige kontrakte tydens sy termyn as minister tussen 2010 en 2014 – ’n tydperk waarin die omstrede Transnet-lokomotiefkontrak  van R54 miljard goedgekeur is, berig IOL

‘Argitekte van staatskaping’

Gigaba is een van die kernfigure wat in die staatskapingsage genoem word.

Deel 2 van die Zondo-verslag wy meer as 500 bladsye aan Transnet – ’n entiteit wat volgens die kommissie vasgevang was in ’n sistematiese netwerk van korrupte invloed en besluitneming, berig Daily Maverick.

Gigaba, finansiële hoof Anoj Singh, waarnemende uitvoerende hoof Siyabonga Gama en uitvoerende hoof Brian Molefe is almal in die Zondo-verslag uitgewys – met Molefe, Singh en Gama wat spesifiek geïdentifiseer is as “die primêre argitekte en uitvoerders van staatskaping by Transnet”.

Gewete is skoon

In Junie 2025 is Transnet se sogenaamde “Groot Vier” – Molefe, Singh, Gama en hoofingenieur Thamsanqa Jiyane – in hegtenis geneem en later op borgtog van R50 000 vrygelaat. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die Maatskappywet. 

Die verhoor begin in Oktober, berig Daily Maverick.

Hoewel Gigaba se naam herhaaldelik in verband gebring is met die Gupta-netwerk, ontken hy enige wangedrag en beskryf die aantygings as polities gemotiveerd, volgens EWN. Hy hou steeds vol hy respekteer die regstelsel en sy gewete is skoon. “My optrede in die amp is altyd gerig deur beleid, prosesse en die waarde van aanspreeklikheid.” 

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.