On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Dringende optrede gevra om klipgooiery op Kaapse snelweë stop te sit

───   MORNÉ VAN ROOYEN 10:26 Tue, 18 Nov 2025

Dringende optrede gevra om klipgooiery op Kaapse snelweë stop te sit | News Article
Verkeer op die N2 in Kaapstad. Foto: Facebook/Cape Town Freeways

Vakansiegangers uit Sentraal-Suid-Afrika wat dié Kerstyd die Moederstad besoek, moet op hul hoede wees vir klipgooiers op die N2 en R300.

Die VF Plus het talle klagtes ontvang van motoriste wat onlangs slagoffers van dié misdaad was, sê Emre Uygun, Kaapse stadsraadslid. “Kaapstad se hoofweë het oorlogsones vir motoriste geword.”

In een voorval het ’n gesin van Johannesburg, onder wie ’n baba, deurgeloop toe ’n klip hul voertuig omstreeks 20:00 op Dinsdag 11 November getref het. “Die voorval het groot skade aan die motor aangerig en die gesin ernstig getraumatiseer,” vertel Uygun.

Sy party het telefonies met ’n dokter van Somerset-Wes gepraat wat Donderdag (13/11) omstreeks 19:00 naby die Borchards Quarry-afrit aangeval is. Hy het borsbeserings opgedoen en is in die hospitaal opgeneem.

Klipgooiers is vroeër vanjaar deur ’n veiligheidskamera afgeneem. Foto: Facebook/Cape Town Freeways

Intussen het ’n vrou op sosiale media van haar seun se skokkende ervaring vertel toe sy voertuig vroeër vandeesmaand met ’n klip gegooi is op die Stellenbosch-hoofpad kort voor die afdraai op op die R300.

“Nuwe data van die Kaapstadse metropolisie skets ’n onheilspellende prentjie van die situasie,” sê Uygun. “Drastiese maatreëls móét dringend ingestel word om verdere sterftes op hierdie berugte ‘Hell Run’ te voorkom.”

Dié gevaarlik pad verbind Somerset-Wes en die Kaapstadse internasionale lughawe en sluit die R300-aansluiting in.

Emre Uygun, Kaapse stadsraadslid, waarsku Kaapstad se hoofweë het oorlogsones vir motoriste geword. Foto verskaf

In die twaalf maande sedert begin November verlede jaar het wetstoepassers op 2 215 misdaadverwante voorvalle op dié gedeelte van die N2 en die R300 gereageer, waaronder klipgooiery, rooftogte en skietvoorvalle, sê Uygun.

Net rondom die lughawe is van April verlede jaar tot Maart 42 gevalle aangemeld van bakstene wat na voertuie gegooi is. In die afgelope ses maande is minstens vyf bevestigde gevalle van klipgooiery aangeteken.

“Hierdie aanvalle volg ’n ‘koue’ patroon: Klippe of bakstene word vanaf voetgangerbrûe, padskouers of die rand van informele nedersettings gegooi,” sê Uygun. “Dit versplinter ruite en dwing bestuurders om te stop, waarna hulle beroof, gekaap of wreed aangeval word.”

‘Motoriste doen gesigbeserings, trauma en voertuigskade op’

Ten spyte van 285 kringtelevisiekameras en 24/7-snelwegpatrollies maak gebreekte omheinings en onklaar sekerheidstelsels “dit vir oortreders, dikwels jeugdiges uit nabygeleë informele nedersettings, moontlik om toe te slaan en te verdwyn”.

Hy sê die menslike tol neem intussen toe. “Motoriste doen gesigbeserings, trauma en voertuigskade op, terwyl toeriste wat by die lughawe aankom of vertrek, toenemend geteiken word.”

Twee jaar gelede het Sanral meer as 200 soortgelyke voorvalle aangeteken, en die huidige tendens dui daarop dat 2025 selfs erger gaan wees, meen Uygun. Om dié “noodsituasie” die hoof te bied, moet ’n beraad “sonder versuim” tussen die Stad Kaapstad, Sanral, die polisie en die provinsiale regering belê word.

Optrede geëis

Die VF Plus meen daar kan onmiddellik opgetree word deur:

• alle beskadigde snelwegomheinings te herstel en onklaar kring-TV-kameras te herstel;

• permanente gewapende patrollies te ontplooi op die ses hoërisiko-voetgangerbrûe;

• regstreekse voorvalverslagdoening tussen die metropolisie, Sanral en die publiek via die i-TRAFFIC-app te integreer; en

• jeugopleidingsprogramme in Philippi, Nyanga en Crossroads in werking te stel om die oorsake die hoof te bied.

“Voorkoming is nie ’n keuse nie, maar ’n noodsaaklikheid,” sê Uygun. “Elke gebreekte heining en onbewaakte brug is ’n uitnodiging vir die volgende aanval. Die (stadsraad) kan nie sy verantwoordelikheid afskuif nie. As daar nie dringend opgetree word nie, sal die bloed van onskuldige motoriste aan sy hande kleef.”

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.