South Africa
Onwettige handel gee doodskoot: BAT sluit sigaretfabriek in Suid-Afrika─── 14:38 Thu, 15 Jan 2026
Die einde van ’n era breek aan wanneer British American Tobacco (BAT) einde vanjaar sy enigste sigaretfabriek in Suid-Afrika sluit nadat onwettige tabakprodukte die plaaslike mark oorgeneem het.
BAT Suid-Afrika het aangekondig alle plaaslike produksie van fabriek-vervaardigde sigarette gaan gestaak en die Heidelberg-aanleg in Gauteng teen einde vanjaar finaal gesluit word. BussinessTech berig die maatskappy sê dit is omdat sowat 75% van die Suid-Afrikaanse sigaretmark tans as onwettig beskou word, wat volhoubare vervaardiging onmoontlik maak.
Johnny Moloto, hoof van korporatiewe en reguleringsake by BAT suid van die Sahara, sê die aanleg word teen net 35% van sy kapasiteit bedryf weens groot volumeverliese wat direk toegeskryf word aan die groei van onwettige tabakhandel. “Dit is ’n uiters moeilike dag vir BATSA en die sowat 230 werknemers en hul gesinne wat geraak word.”

Die Heidelberg-fabriek sluit einde vanjaar en 230 werkers word geraak. Foto: BAT South Africa
Die maatskappy het bevestig ’n formele konsultasieproses ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge begin Donderdag (15/1) en behoort teen Maart afgehandel te wees.
Suid-Afrika het ’n vinnige toename in die onwettige sigaretmark beleef, veral sedert die algehele verbod op rook tydens die Covid-19-pandemie. Die Covid-19-mark het misdaadkartelle, sindikate en bendes gemotiveer om betrokke te raak by die onwettige sigaretbedryf.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het voorheen gewaarsku internasionale misdaadkartelle en plaaslike netwerke werk saam om die onwettige mark te versterk. Belastinginvordering uit tabakverkope stagneer al die afgelope vyf jaar, ondanks ’n toename in verbruik, sê die SAID.

Die einde van ’n era breek aan wanneer British American Tobacco (BAT) einde vanjaar sy enigste sigaretfabriek in Suid-Afrika sluit. Foto: Facebook
Dit het ’n R40 miljard-tekort in belastinginvordering ná die pandemie veroorsaak.
Navorsing toon die onwettige tabakbedryf maak tans tussen 60% en 75% van die hele sektor uit, wat geraamde belastingverliese van tussen R51 miljard en R84 miljard meebring. Moloto waarsku die probleem is nie net tot tabak beperk nie.
Reuse-belastingverliese
“Alle aanduidings is dat onwettige handel ’n beduidende probleem word in verskeie nywerhede, insluitend alkohol, farmaseutiese produkte, kos, klere en selfs speelgoed. As dit met ’n aanleg (soos die een in Heidelberg) kan gebeur wat al 50 jaar bestaan, kan dit met enigeen gebeur.”
BAT vervaardig en versprei handelsmerke soos Peter Stuyvesant, Rembrandt van Rijn, Paul Revere, Benson and Hedges en Dunhill.
Die groep, waarvan die plaaslike eenheid op die Johanneburgse Effektebeurs genoteer is, sê hy bly egter toegewyd aan Suid-Afrika, berig News24. Hy gaan nou oor van ’n plaaslikevervaardigingsmodel na ’n invoer-gebaseerde voorsieningsketting om steeds sy kliënte plaaslik te bedien.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

