On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Vermeende skieter eers nie vervolg ná padwoede in Emmarentia

───   MORNÉ VAN ROOYEN 16:16 Tue, 21 Apr 2026

Vermeende skieter eers nie vervolg ná padwoede in Emmarentia | News Article
’n Skermskoot van ’n video oor die voorval. Bron: Facebook

Die NVG meen nadere ondersoek is nodig voordat ’n opspraakwekkende voorval van padwoede in Gauteng hof toe kan gaan.

Die polisie ondersoek die voorval Sondag (19/4) in die Johannesburgse voorstad Emmarentia. ’n Botsinkie tussen twee voertuie het daartoe gelei dat ’n man op die toneel doodgeskiet en sy vrou in ’n kritieke toestand die hospitaal beland het, berig eNCA.

“Die NVG het, ná deeglike oorweging van die beskikbare bewyse, besluit om nie die geval wat met beweerde padwoede in Emmarentia op 19 April verband hou, in dié stadium op die hofrol te plaas nie,” sê Magaboke Mohlatlole, Gautengse NVG-woordvoerder.

Die besluit is geneem nadat die bewyse tans tot die vervolging se beskikking, behoorlik ondersoek is, voeg hy by. “Daar is vasgestel dat verdere ondersoek nodig is om toe te sien dat alle tersaaklike feite deeglik nagegaan word voor ’n besluit geneem kan word om te vervolg.”

Die toneel in Barry Hertzoglaan, waar ’n man sy lewe verloor en sy vrou ernstig gewond is. Foto: Facebook/Streetwise Legal

Die NVG het opdrag gegee dat bykomende bewyse eers ingewin word om die saak te versterk, sê Mohlatlole. “Sodra die ondersoek afgehandel is, kan ’n besluit oor moontlike vervolging geneem word.”

Sosialemediagebruikers reageer verontwaardig oor die besluit om nie die 58-jarige te vervolg wat glo die man doodgeskiet en sy vrou ernstige gewond het nie. “Vir eers, sê hulle,” skryf Facebook-gebruiker Anthea Heugh-Engelbrecht.

“Ek wil net graag weet waarom (die vermeende skieter) reeds gewapen uit sy kar geklim het. Kon dit die man en vrou paniekbevange gemaak het? Het (hy) ook vooraf beplan om die (vuurwapen) te gebruik?”


Die 58-jarige was veronderstel om Dinsdag te verskyn het in die Johannesburgse landdroshof nadat hy aangekeer is vir die moord op Faisal ul Rehman (48) en sy vrou, Tehseen, berig IOL. Hulle was onderweg met hul twee jong kinders in die motor.

Die vermeende skieter se regspan het in voorleggings aan die staat aangevoer dit was selfverdediging. Hy voer aan die egpaar het hom uitgeskel en te lyf gegaan ná die botsing.

Tehseen het na bewering die situasie vererger deur ’n vuurwapen te voorskyn te bring en ’n skoot te skiet, voor sy dit vir haar man gegee het, wat ook ’n skoot in die 58-jarige se rigting geskiet het.

Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, spreek die media toe oor die besluit om nie te vervolg nie. Skermskoot: Facebook

Hy erken na bewering hy het self skote geskiet, maar sê dit was uit selfverdediging ná die ongelukkie in Barry Hertzoglaan.  

’n Familielid van die egpaar het voor die besluit van die NVG aan IOL gesê hulle beplan om alles in die stryd te werp sodat reg kan geskied.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.