On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Kerke moet saam dink oor armoede, welsyn en godsdiensvryheid

───   SUSAN MARÉ 14:33 Fri, 05 Jun 2026

Kerke moet saam dink oor armoede, welsyn en godsdiensvryheid | News Article
Foto ter illustrasie: Google

Kerklike onafhanklikheid en godsdiensvryheid is die hooftema van die Helpende Kerke-kongres wat op 12 Junie in Solidariteit Helpende Hand se opleidingsinstituut in Pretoria gehou word.

Dié kongres word jaarliks gehou en bring kerkleiers, gemeentelede en gemeenskapswerkers van oor die land heen byeen. Saam sal besin word oor die rol van die kerk in ’n samelewing wat gekenmerk word deur armoede, werkloosheid en toenemende maatskaplike uitdagings.

Meer spesifiek sal die hoofsprekers op die kongres fokus op drie onderwerpe – die kerk en welsyn deur Hannes Noëth, die bekendstelling van die boek, Twaalf Bybelse oplossings vir armoede deur Flip Buys en ’n bespreking van Artikel 22 van die Grondwet deur adv. Dawie Spies.

Artikel 22 hou verband met die belangrikheid van godsdiensvryheid en onafhanklike geloofsgemeenskappe. Navorsing toon dat tot 55,5% van Suid-Afrikaners onder die broodlyn leef. Dit sluit ook die toenemende getal lidmate van Afrikaanse kerke in.


’n Groot rede vir krimpende lidmaatgetalle is dat Afrikaners deel van byna alle susterkerke was. Demografiese verskuiwings en maatskaplik-ekonomiese druk soos armoede het gelei tot ’n afname in formele lidmaatskap van dié kerkverbande, die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika, die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en later ook die Afrikaanse Protestantse Kerk.

Studies wat beskikbaar is op ScTELO SA dui aan dat kerke hul fokus verskuif het na maatskaplike projekte, vroeë kinderontwikkeling en gemeenskapsontwikkeling om die siklus van armoede te breek.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dis juis in tye van toenemende sentralisering dat kerke hul onafhanklikheid, roeping en rol in gemeenskappe moet beskerm. “Die kerk is waarskynlik die sterkste gemeenskapinstelling wat bestaan.

‘Die kerk kan dit nie bekostig om blind of doof te wees (nie)’

“Daarom is dit belangrik dat kerke nie net oor hul eie sake dink nie, maar ook saam dink oor die uitdagings wat hul gemeenskappe raak. Die uitdagings is nie net joune of jou buurman s’n nie.

“Dit is dikwels die hele gemeenskap, dorp of stad s’n. Dit is om hierdie rede belangrik dat kerke met mekaar praat, kennis deel en saam oplossings soek.”

Die kerk kan dit nie bekostig om blind of doof te wees vir die werklikhede waarmee Suid-Afrikaners daagliks gekonfronteer word nie, meen Noëth. Toenemende werkloosheid, armoede en maatskaplike uitdagings is eie aan die tyd waarin ons leef.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. Foto verskaf

“Die vrae is hoe ons kan help om welstand te bevorder, help om mense weer hoop te gee en hoe kan gemeenskappe gehelp word om saam sterker te word.”

Een van die kerngesprekke op die kongres sal handel oor die verhouding tussen die kerk en die staat, asook die beginsel dat geloofsgemeenskappe die ruimte moet behou om hul eie sake te bestuur.

“Kerke moet toegelaat word om vir hulself te dink en oor hul eie sake te besluit. Daarom is dit belangrik dat ons die gesprek oor godsdiensvryheid, onafhanklikheid en die desentralisering van besluitneming ernstig opneem.”


Die kongres volg ná maande se openbare debat oor die sogenaamde Artikel 22-komitee van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe.

’n Deel van dié openbare debat was die bedanking van professor eerwaarde Musa Xulu wat sy kommer uitgespreek het oor moontlike staatsinmenging in kerklike aangeleenthede

Noëth sê die Helpende Kerke-kongres sal dien as ’n ontmoetingsplek waar kerke, denominasies en gemeenskapsleiers saam kan dink oor die pad vorentoe, en oor hoe geloofsgemeenskappe ’n groter rol kan speel in die aanpak van Suid-Afrika se uitdagings.

Webinaar

Intussen reël die GKSA se Deputate Owerheidsake ’n webinaar vir 20 Junie oor belangrike ontwikkelinge in die kommissie se proses oor godsdiens in Suid-Afrika.

Francois van Deventer sê die sogenaamde Artikel 22-proses van die kommissie word voorgehou as oop en vrywillige oorlegpleging met kerke en geloofsgemeenskappe oor selfregulering en aanspreeklikheid in die godsdienssektor.

Dit blyk deur mediaverklarings van die voorsitter van die kommissie dat die bedoeling verder strek as bloot konsultasie. Daar word openlik gepraat van die instelling van ’n statutêre raad vir godsdiens, en die aanvaarding van wetgewing deur die Parlement om sodanige raad te vestig.

Van Deventer sê dit beteken dat die proses nie bloot vrywillige samewerking beoog nie, maar moontlik kan lei tot staatsbeheer oor die godsdienssektor.

“Implikasies vir kerke volgens die voorstelle wat tans bespreek word, kan lei tot die registrasie van kerke en geestelike leiers, ’n bindende gedragskode, ’n ‘sertifikaat van goeie status’ vir nakomende instellings, en sanksies vir nie-nakoming wat deregistrasie insluit.

“Een van die besware teen die moontlike regulering (deur die staat) van kerke is dat dit die staat ’n rol gee om oor godsdiens-etiek en -praktyk te besluit. Die voorgestelde raamwerk kan moontlik die grondwetlike reg op godsdiensvryheid in Suid-Afrika aantas.”

In die webinaar sal meer volledige toeligting gegee word en oor die belangrikheid van kerke se betrokkenheid in hierdie saak.

Kerkekongres

Helpende Kerke se kongres word beplan vir 12 Junie van 08:00 tot 13:00 in Garsfontein, Pretoria. Rig navrae aan Phillip Bruwer, mediaskakelbeampte, by 012 111 8360 of 081 374 5043 of besoek Helpende Hand se webtuiste. 

Besoek die Deputate Owerheidsake se YouTube-profiel om op 20 Junie van 09:00 tot 13:00 gratis op die GKSA se webinaar in te skakel.

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.