On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Stormsriviermond se hangbrug sluit tydelik vir finale opknappingswerk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:37 Thu, 16 Jul 2026

Stormsriviermond se hangbrug sluit tydelik vir finale opknappingswerk | News Article
Die hangbrug. Foto verskaf

Besoekers aan die Tsitsikamma-afdeling van die Tuinroete Nasionale Park sal vir twee weke nie toegang tot die Stormsriviermond se hangbrug hê nie.

Toegang tot al drie hangbrûe sal van Maandag (20/7) tot 31 Julie gesluit wees. SanParke voltooi in dié tyd die finale fase van die opknappingsprojek om die veiligheid van besoekers en konstruksiewerkers te verseker, sê JP Louw, SanParke-woordvoerder.

“Die opknappingsprojek vorder goed en is die voltooiingsdatum vervroeg. Die werk sal na verwagting teen 31 Julie afgehandel wees, waarna die publiek weer vanaf 1 Augustus toegang tot al drie hangbrûe sal hê.”

Die opknappingsprojek word reeds sedert vroeër vanjaar in fases uitgevoer om die invloed op toerisme so klein moontlik te hou. Besoekers kon gedurende die meeste van die werk steeds gedeeltes van die Stormsriviermond-roete gebruik. Die finale fase vereis egter ’n volledige sluiting van die hangbrûe sodat kontrakteurs die oorblywende werk veilig en sonder onderbreking kan voltooi.


Die brûe, wat sedert 1969 deel van die gewilde staproete is, is met die jare deur die strawwe kusklimaat en voortdurende blootstelling aan wind en seelug aangetas. Die projek behels onder meer die vervanging van die brugstrukture en die herstel van staal- en betononderdele om die brûe se veiligheid en lewensduur te verbeter.

Die Stormsriviermond-hangbrug is een van die bekendste besienswaardighede in die Tuinroete Nasionale Park. Die 77 m lange brug vorm deel van die gewilde Stormsriviermond-roete van sowat twee kilometer en bied besoekers sedert 1969 uitsigte oor die Stormsrivierkloof waar die rivier die Indiese Oseaan ontmoet. Sowat 69 000 mense het die brug die afgelope jaar besoek.

SanParke bedank besoekers, toeroperateurs en plaaslike belanghebbendes vir hul geduld en samewerking gedurende die opknappingsprojek. “Die verbeterings sal die veiligheid, lewensduur en algehele besoekerservaring by een van die Tuinroete Nasionale Park se bekendste besienswaardighede verbeter,” sê Louw.

SanParke vra om verskoning vir die ongerief wat die tydelike sluiting mag veroorsaak en sê hy sien daarna uit om besoekers by die volledig opgeknapte hangbrug te verwelkom.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.