On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Britse drievoudige moordverdagte bly in aanhouding hangende uitlewering

───   12:28 Wed, 22 Jul 2026

Britse drievoudige moordverdagte bly in aanhouding hangende uitlewering | News Article
Ndodana Mkhanyisi Tshuma. Foto: X

Die vermeende Britse voortvlugtige Ndodana Mkhanyisi Tshuma bly in Suid-Afrikaanse aanhouding terwyl twee afsonderlike sake teen hom voortgaan.

Die een is ’n Britse uitleweringsaansoek oor drie moordaanklagte en die ander ’n plaaslike saak oor die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Tshuma het in die Johannesburgse landdroshof verskyn nadat die Britse amptenare sy uitlewering versoek het. 

Albei sake is tot 27 Augustus uitgestel sodat die uitleweringsdokumentasie afgehandel en verdere polisieondersoek na die vuurwapen gedoen kan word. Britse amptenare soek Tshuma in verband met die dood van sy vrou, Nothabo Zandile Tshuma (42), en hul dogters, Natalie (15) en Nala (5). Hul liggame is op 6 Julie in die gesin se woning in Great Denham, naby Bedford, ontdek.

Zandile, Nala en Natalie Tshuma. Foto: X

Polisie het die huis binnegegaan nadat kommer ontstaan het omdat die gesin etlike dae lank nie gesien is nie. Nadoodse ondersoeke het volgens Britse berigte bevind dat die drie aan stompgeweldbeserings dood is. Die Britse vervolgingsgesag het daarna drie moordaanklagte teen Tshuma gemagtig.

Tshuma, wat ook as Mark bekend staan, het die Verenigde Koninkryk op 5 Julie met ’n Britse paspoort verlaat, twee dae voordat die liggame ontdek is. Hy is ’n Britse burger van Zimbabwiese afkoms en daar is aanvanklik vermoed dat hy moontlik na Zimbabwe gevlug het.

Hy het Suid-Afrika wettig deur die OR Tambo-lughawe binnegekom, maar sy immigrasiestatus het verander nadat hy as voortvlugtige geklassifiseer is. Ingevolge die Immigrasiewet word hy nou as ’n verbode en ongewenste persoon beskou en is hy onwettig in die land.


Die polisie het Tshuma op 10 Julie tydens ’n gesamentlike optrede in Kensington, Johannesburg, in hegtenis geneem. Misdaadintelligensie, die georganiseerde misdaadondersoekeenheid en Interpol se Nasionale Sentrale Buro in Pretoria het aan die optrede deelgeneem.

Hy was na bewering in besit van ’n ongelisensieerde 9 mm-vuurwapen en ammunisie toe hy vasgetrek is. Ondersoekers vermoed hy het die wapen ná sy aankoms in Suid-Afrika in ’n township gekoop en probeer nou vasstel wie dit aan hom verskaf het.

Nasionale polisiewoordvoerder brig. Athlenda Mathe sê Tshuma se familie in Suid-Afrika het ’n belangrike rol in sy inhegtenisneming gespeel. Die ondersoek het geen bewyse opgelewer dat familielede hom gehuisves of doelbewus gehelp het om die polisie te ontduik nie.

Bly eers in aanhouding

Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, sê die inhegtenisneming toon dat Suid-Afrika nie ’n veilige hawe vir internasionale voortvlugtiges is nie. Die polisie sal volgens haar steeds met internasionale wetstoepassingsvennote saamwerk om verdagtes op te spoor.

Tshuma se regspan het nog nie om borgtog aansoek gedoen nie. Hy bly in aanhouding terwyl die Britse amptenare hul volledige uitleweringsdokumente, saakdossier en ondersteunende getuienis aan Suid-Afrika beskikbaarstel.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.