On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Sewejarige kankervry, maar kort nou dringend beenmurgskenker

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:22 Tue, 04 Aug 2026

Sewejarige kankervry, maar kort nou dringend beenmurgskenker | News Article
Mia-Lee Lamprecht. Foto verskaf

’n Sewejarige het reeds een van die grootste struikelblokke oorkom. Nou staan sy weer voor ’n lewensgevaarlike uitdaging. Haar enigste hoop lê by ’n onbekende beenmurgskenker.

’n Hoërisiko-behandelingsverwante miëlodisplastiese sindroom (MDS) is op 13 Julie by Mia-Lee Lamprecht van Johannesburg gediagnoseer. Die gr. 1-leerder aan die Alpha Study Centre het reeds as 17 maande oue baba stadium 4-hoërisiko-neuroblastoom oorwin, maar benodig nou dringend ’n allogeniese stamseloorplanting om haar beste kans op oorlewing te hê.

Vir iemand wat haar nie ken nie, lyk Mia-Lee soos enige ander sewejarige. Sy hou daarvan om te swem, te dans, in te kleur, kuns en handwerk te doen, buite te speel en tyd saam met haar vriende deur te bring.

“Haar droom is om eendag ’n dokter te word sodat sy ander siek kinders kan help, net soos die dokters en verpleegsters wat haar al soveel keer gehelp het,” sê Lezhanne Hartwell, haar ma. Daardie droom het egter op 7 Oktober 2020 skielik in onsekerheid verander toe een van die aggressiefste vorme van kinderkanker by haar gediagnoseer is.

Mia-Lee Lamprecht het skaars vyf jaar gelede kanker oorwin. Foto verskaf

Wat daarna gevolg het, was meer as twee jaar van uitmergelende behandeling. Mia-Lee het verskeie rondtes chemoterapie, groot operasies, bestraling, Peptiedreseptor-radionukliedterapie-behandeling (PRRT), immunoterapie, hoëdosis-chemoterapie gevolg deur ’n outoloë stamseloorplanting, talle skanderings, bloedtoetse, bloedoortappings, plaatjie-oortappings en lang hospitaalverblyf ondergaan.

Toe dokters bevestig daar is geen teken meer van kanker nie, het haar gesin geglo die donkerste hoofstuk van hul lewe is eindelik verby. Hulle het uitgesien na ’n normale lewe waarin Mia-Lee net weer ’n kind kon wees.

Maar tydens ’n roetine-opvolgondersoek het dokters afwykings in haar bloedtellings opgemerk. By die huis het haar ouers net gesien sy lyk effens bleker as gewoonlik, maar sy was steeds vrolik, energiek en opgewonde om skool toe te gaan.

Mia-Lee Lamprecht benodig dringend ’n geskikte beenmurgskenker. Foto verskaf

Verdere ondersoeke en ’n beenmurgbiopsie het egter verwoestende nuus vir die gesin gebring. Behandelingsverwante MDS is by Mia-Lee gediagnoseer,'n seldsame en aggressiewe beenmurgsiekte wat deur die chemoterapie veroorsaak is wat haar lewe jare gelede gered het.

Weens die skade aan Mia-Lee se beenmurg kan haar liggaam nie meer hierdie selle behoorlik vervaardig nie. Hoewel sy steeds kankervry is, waarsku dokters dat MDS in akute miëloïede leukemie (AML) kan ontwikkel indien dit nie behandel word nie.

“Hierdie is regtig vir my ’n verskriklik emosionele ding om deur te gaan. As mamma het ek persoonlik nog nie regtig die trauma van die vorige keer, toe Mia Lee so siek was en ons haar amper verloor het, verwerk nie,” vertel ’n hartseer Lezhanne.


Die gesin se lewe draai nou weer om hospitale, bloedtoetse, beenmurgbiopsies, spesialiste, bloedoortappings en wagtyd vir uitslae. “Elke koors maak ons bang. Elke bloedtoets bring hoop én vrees. Elke oproep van die hospitaal kan ons lewe in ’n oomblik verander.”

Sy sê die moeilikste deel van die reis was om te glo hulle het die eindstreep bereik, net om te hoor nog ’n stryd het reeds begin. “Om te hoor dat die behandeling wat ons dogter se lewe gered het, hierdie nuwe siekte veroorsaak het, was hartverskeurend.

“Tog probeer ons elke gewone oomblik koester, ’n gesinsete, ’n dag by die skool, ’n drukkie of ’n lag. Dit is die dinge wat vandag die meeste beteken.”

Mia-Lee en haar ma, Lezhanne. Foto verskaf

Mia-Lee verstaan die dokters help haar om beter te word, maar hulle beskerm haar teen die volle erns van haar toestand. “Ons wil hê sy moet steeds net ’n klein dogtertjie wees. Sy stap die hospitaal met soveel moed binne, glimlag vir die verpleegsters en kry selfs steeds rede om te lag. Sy inspireer ons elke dag.”

Dokters glo ’n allogeniese stamseloorplanting is haar beste kans op langtermynoorlewing, maar daarvoor is ’n byna perfekte beenmurgpasmaat nodig.

Vir Lezhanne het hoop nou ’n heel nuwe betekenis. “Ons glo daar is iewers in die wêreld iemand wat nie eens weet ons bestaan nie, maar wat ons dogter se lewe kan red. Mense dink dikwels dit is moeilik om as beenmurgskenker te registreer, maar dit is eintlik baie eenvoudig.

“Jy weet dalk nooit wie se lewe jy red nie, maar jou besluit kan beteken dat ’n kind nóg ’n verjaardag, nóg ’n eerste skooldag, nóg ’n Kersfees en uiteindelik ’n toekoms kry.”

Sy doen ’n dringende beroep op mense tussen 17 en 55 jaar om by DKMS Africa as beenmurgskenkers te registreer. “As Mia-Lee se storie net een persoon kan inspireer om te registreer het dit reeds ’n verskil gemaak. Vir gesinne soos ons is hoop nie net ’n gevoel nie, dis ’n persoon wat ons nog nie ontmoet het nie.”

Die registrasieproses behels ’n eenvoudige wangdeppertoets, maar daardie klein gebaar kan vir Mia-Lee, en duisende ander pasiënte wat op ’n geskikte skenker wag, die grootste geskenk van alles beteken: ’n tweede kans op die lewe.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.