On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Brandstofpryse: Só lyk Woensdag se pyne

───   11:40 Mon, 31 Aug 2026

Brandstofpryse: Só lyk Woensdag se pyne | News Article
Motoriste kan hulle staal vir nog pyne by die brandstofpompe. Foto verskaf

Motoriste moet hulle maar staal vir nog pyne by die pompe nadat die regering ’n aansienlike styging in brandstofpryse bevestig het.

Die petrolprys (93 en 95 loodvry) styg Woensdag (2/6) met R1,34 per liter, terwyl die groothandelprys van diesel met R3,15 (0,005% swael) en R2,94 (0,05% swael) verhoog word, het die departement van minerale en petroleumhulpbronne aangekondig.

Die groothandelprys van diesel (0,05% swael) haal R29,11 per liter in Gauteng en R28,24 aan die kus, die hoogste sedert Mei toe diesel in Gauteng byna R31,18 gekos het. Aan die begin van 2026 was die groothandelprys van diesel in die provinsie R18,42.

Die verhogings bring die petrolprys op R26,92 per liter in Gauteng en R26,05 aan die kus te staan, die duurste sedert Junie, toe petrol vir meer as R28 per liter in Gauteng verkoop is. Petrolpryse het die jaar begin op sowat R20 per liter.

Oliepryse het die afgelope weke gestyg terwyl die Straat van Hormoes steeds geraak word deur die Midde-Oosterse konflik. Foto: Fiasa

Plaaslike brandstofpryse word grootliks bepaal deur wêreldoliepryse en die rand-dollar-wisselkoers, omdat olie in dollar verhandel word.

Hoewel die rand die afgelope maand versterk het tot ’n gemiddelde van R16,21/$ (van R16,46/$ voorheen), het die gemiddelde Brent-ruolieprys gestyg van $82,37 per vat tot $87,88.

Oliepryse het die afgelope weke gestyg terwyl die Straat van Hormoes steeds geraak word deur die voortgesette konflik tussen die VSA en Iran.

Daarby styg wêreldwye dieselpryse weens ’n tekort aan raffinadery-kapasiteit, terwyl Rusland se verbod op dieseluitvoer nadat Oekraïne sy produksie-installasies aangeval het, die aanbod verder beperk.

September se brandstofpryse sluit ook ’n verhoging in die kleinhandelmarge op brandstof in weens jaarlikse loonverhogings vir vulstasiewerknemers. Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumhulpbronne, het ’n verhoging van 4,9c/l (tot R3,20) goedgekeur om voorsiening te maak maak vir die loonverhoging, waarop vandeesmaand ooreengekom is.

Die skaalheffing is ook met 21,90c/l verhoog (tot 83,28c). Dit is ’n spesiale heffing wat gebruik word om ’n onder- of oorverhaling te balanseer. Dit vergoed brandstofinvoerders wanneer die gereguleerde pompprys laer is as die werklike internasionale invoerkoste.

Die groothandelprys van paraffien vir huishoudelike gebruik styg Woensdag met R2,13 per liter, terwyl die maksimum kleinhandelprys van vloeibare petroleum-gas met 79c/kg in die Wes-Kaap en 69c/kg elders verhoog word.

OFM Nuus dg

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.