South Africa
KI in die kollig op tweedaagse simposium van SA Akademie─── SUSAN MARÉ 10:12 Fri, 04 Sep 2026
Kunsmatige intelligensie (KI) kom in Oktober in die kollig op ’n simposium van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria.
Bywoning Donderdag 1 Oktober en Vrydag 2 Oktober is gratis en virtuele deelname is moontlik op versoek. Onderwerpe wissel van KI as navorsingsvennoot en die gebruik daarvan in taal en onderwys tot die invloed daarvan op kunsskepping, musiek, die reg en geskiedskrywing.
Die Akademieraad het die onderskeie kommissies van die SA Akademie versoek om kundiges uit hul vakgebiede te nooi om die invloed, moontlikhede en uitdagings van KI vanuit verskillende perspektiewe te belig.
Dr. Annelise de Vries, uitvoerende hoof van die akademie, sê KI het in ’n kort tyd deel van die alledaagse samelewing geword. “Dit raak mense se werk, navorsing en onderwys. Die vraag is wat KI vir óns kan doen en beteken.

Dr. Annelise de Vries, uitvoerende hoof van die akademie. Foto verskaf
“Die program bring sprekers uit taal en ontwikkeling, die natuurwetenskappe, beeldende en uitvoerende kunste, die regte, onderwys, geskiedenis en letterkunde byeen. Die buitelandse werkgemeenskap sal ’n internasionale perspektief bied.”
Die akademie speel ’n leidende rol in regulering, navorsing en bevordering van KI binne die Afrikaanse akademiese en wetenskaplike sfeer. Die fokus is veral op die enorme impak wat KI op navorsing en die samelewing het.
Die akademie fokus op die etiese riglyne, terminologie en die publisering van wetenskaplike artikels oor en met behulp van hierdie tegnologie.
Die ontwikkeling van Afrikaanse KI-terminologie is noodsaaklik om te verseker dat die wetenskap, onderwys en algemene publiek akkuraat in die taal oor tegnologie kan kommunikeer.
Via sy Taalkommissie en vaktydskrifte help die akademie saam met liggame soos PanSAT en VivA Afrikaans om die terminologie te standaardiseer.
Wat kommunikasie en taalmodelle betref het amptelike Afrikaanse terme in gebruik gekom vir onder meer “gletsbot” of “geselsbot” vir “chatbot”. Die “-bot” is bloot ’n verkorting van robot.
Ander terminologie is “generatiewe KI” (tegnologie wat nuwe inhoud soos teks, kuns of musiek kan skep), en “Kunsmatige Neurale Netwerk” (’n Afrikaanse term vir “Artificial Neural Network” of ANN, wat op die werking van die brein geskoei is).
“Algoritme” dui op ’n stel wiskundige reëls of instruksies wat die KI volg. “Hallusinasie” of “data-hallusinasie” verwys na die verskynsel waar ’n taalmodel feite opmaak wat oortuigend klink, maar heeltemal verkeerd is.

Vicus Bürger van Media24 praat oor “KI: ’n waterskeidingsoomblik vir die mensdom”. Foto verskaf
Terwyl die akademie na die wetenskaplike en taalkundige aspekte omsien, werk groter nasionale inisiatiewe hiermee saam, soos die Suid-Afrikaanse KI-instituut wat deur instellings soos die Universiteit van Johannesburg en die Tshwane-universiteit vir Tegnologie ondersteun word om digitale transformasie te dryf.
Die akademie het verskillende kommissies genader om vanuit hulle dissiplines na die moontlikhede van KI te kyk. ’n Wye reeks vakterreine sal op die simposium verteenwoordig word.
Een van verskeie gassprekers is die joernalis Vicus Bürger van Media24 met sy voordrag: “KI: ’n waterskeidingsoomblik vir die mensdom”.
Burger gaan besin oor die tegnologiese revolusie wat KI teweegbring, die ingrypende invloed daarvan op onder meer die ekonomie, arbeidsmark en die wyse waarop ons dink en kommunikeer.
Burger gaan ook praat oor die uitdagings én moontlikhede wat hierdie waterskeidingsoomblik vir die mensdom inhou.
De Vries sê bywoning is gratis en die referate word by die SA Akademie in Ziervogelstraat 574 in Arcadia, Pretoria, aangebied. Veilige parkering is beskikbaar.
Die simposium begin Donderdag 1 Oktober om 10:00. Die aand word ’n skemeronthaal van 18:00 tot 19:00 aangebied, gevolg deur ’n openingsplegtigheid om 19:00.
Belangstellendes moet teen 28 September hul teenwoordigheid per e-pos bevestig by melanie@akademie.co.za. Hulle moet aandui watter dag, of dae van die simposium hulle wil bywoon, asook of hulle die skemeronthaal en openingsplegtigheid die Donderdagaand gaan bywoon.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

