On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Sewende vroueliggaam gevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:01 Tue, 15 Sep 2026

Sewende vroueliggaam gevind | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Die liggaam van nóg ’n vrou is in die Oos-Rand gevind, slegs ure nadat die sesde vrou se liggaam ontdek is.

Die liggaam is Dinsdag (15/9) in ’n rivier in Clayville, naby Mall of Thembisa, gevind. Dit sal deel vorm van die voortgesette ondersoek ná die sterftes, sê genl.maj. Fred Kekana, waarnemende Gautengse polisiekommissaris.

Dit bring die aantal vroue wie se liggame sedert Julie in die Ekurhuleni-gebied gevind is op sewe te staan nadat vier liggame die afgelope paar dae ontdek is. Elizabeth (Tsontso) Mokolo Moselakgomo (38), die vyfde slagoffer, se liggaam is Maandag (14/9) ontdek. Sy het die vorige Woensdag gaan draf en nie weer na haar huis teruggekeer nie.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, kon nie bevestig of die jongste liggaam met die ander vroue se sterftes verbind kan word nie. “Daar is ooreenkomste tussen sommige van die sake, en ’n multidissiplinêre taakspan is saamgestel om moontlike verbande te ondersoek. Speurders en spesialis-eenhede ontleed onder meer die beskikbare bewyse, tydlyne, liggings en die profiele van die slagoffers.”

Intussen het pres. Cyril Ramaphosa die polisie opdrag gegee om die sterftes van die vroue wie se liggame in en om Kempton Park gevind is, dringend te ondersoek. 

“Ek het opdrag gegee dat hierdie sake geprioritiseer word en dat geen steen onaangeroer gelaat word om diegene wat verantwoordelik is, voor die gereg te bring nie.”


Die president het ook sy medelye met die families en gemeenskappe betuig en gesê die moorde veroorsaak vrees en onsekerheid, veral onder vroue. Hy doen ’n beroep op die polisie en gemeenskappe om saam te werk. Inligting vanuit die gemeenskap kan volgens hom deurslaggewend wees om verdere aanvalle te voorkom en die skuldiges te identifiseer.

Enigiemand met inligting wat met die sake verband hou, word versoek om ao. Elvis Manyike by 082 465 7249 te bel, Stop Misdaad by 08600 10111 te bel of inligting by enige polisiekantoor aan te meld.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.