On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

NDBV open wreedheidsaak ná polisiehond Sky se dood

───   10:52 Tue, 06 Oct 2026

NDBV open wreedheidsaak ná polisiehond Sky se dood | News Article
Die NDBV gaan ’n strafsaak teen polisiebeamptes open ná die dood van ’n polisiehond, die Belgiese Malinois Sky. Foto: Instagram

Die NDBV gaan ’n strafsaak teen polisiebeamptes open ná die dood van ’n polisiehond.

Die Belgiese Malinois Sky is op 7 September ernstig beseer en vol bloed gevind in haar hok by die polisie se veeartsenyhospitaal op Roodeplaat in Pretoria. Sy is na Onderstepoort se akademiese veeartsenyhospitaal geneem, maar die vyfjarige se toestand het versleg en sy is twee dae daarna uitgesit, sê Samanta Stelli, NDBV-woordvoerder.

Die NDBV se spesialeprojekte-eenheid het daarna Sky se veeartsenyrekords, behandelingsgeskiedenis en nadoodse verslag ondersoek. Die organisasie meen dié inligting wys haar vermoë om haar omgewing te hanteer het oor minstens ses maande nie verbeter nie en dat haar aanhouding onnodige lyding veroorsaak het, sê Stelli.

Sky is reeds in Maart vir wonde aan haar gesig en bene behandel, terwyl tande uit haar kakebeen geskeur was. Haar rekords toon ook dat sy herhaaldelik uit haar hok probeer ontsnap en haarself verder beseer het. Ernstige hokstres en skeidingsangs is by haar gediagnoseer en sy het medikasie ontvang.

’n Veldtog word op sosiale media bevorder om geregtigheid vir Sky te verseker. Foto: Instagram

Teen Augustus het haar veeartsenyrekords aangedui dat haar vooruitsigte binne die polisie-omgewing swak was. Sy het volgens die NDBV nietemin in dieselfde omgewing gebly totdat sy enkele weke daarna ernstig beseer aangetref is. Die organisasie meen die geskiedenis moes tot ’n ander welsynsbesluit oor Sky gelei het.

Die nadoodse ondersoek het wydverspreide spierskade aan albei voorbene getoon wat met langdurige fisieke inspanning tydens ’n traumatiese gebeurtenis strook. Ouer, gehegte wonde, abnormale tandverwering vir haar ouderdom en veranderinge aan haar byniere het volgens die NDBV ook op chroniese spanning gedui.

Sky het as ’n brandstigtingsopsporingshond vir die polisie gewerk. Haar rekords het volgens die NDBV bepaal dat, wanneer sy nie meer kon werk nie, sy deur ’n voorsieningskettingproses as ’n “polisiebate” hanteer moes geword het. Stelli sê geen werkdier behoort bloot as ’n bate beskou te word wanneer sy dienslewe eindig nie.

Die saak plaas volgens die NDBV ook die hantering van ander werkhonde en perde in wetstoepassing en private veiligheid onder die vergrootglas. Dié diere word ingevolge die Wet op Dierebeskerming beskerm, en die mense wat vir hulle verantwoordelik is, het ’n sorgplig wat ook ná hul werkende lewe voortduur, sê Stelli.

Organisasies wat werkdiere gebruik, behoort vooraf voorsiening te maak vir aftrede, hervestiging en besluite aan die einde van ’n dier se lewe, meen die NDBV. 

Die organisasie sal die strafsaak teen die betrokke beamptes deur die regsproses volg en die welsyn van werkdiere landwyd bly dophou.

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.