On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Tennis

Oranje staan sterk teen landsbeste in Amanda Coetzer-toernooi

───   MORGAN PIEK 12:05 Thu, 08 May 2025

Oranje staan sterk teen landsbeste in Amanda Coetzer-toernooi | News Article
Oranje se eerste span in 2025 is van links Ameli Bezuidenhout, Ansoné Theron (kaptein), Lika Claassens, Hendri Steyn (afrigter), Zané Volschenk, Donna le Roux, Mandie Claassens en Nestine van Rooyen. Foto: Oranje

Die 2025 Amanda Coetzer-tennistoernooi het Donderdagoggend in Bloemfontein afgeslaan en drie dae van opwindende aksie lê voor.

Die land se agt beste skooltennisspanne meet kragte tydens die 26ste weergawe van die spogtoernooi, en die gasheer, Oranje Meisieskool, is die span om te klop.

Hulle mik vir ’n vierde agtereenvolgende titel, maar spanne soos Rhenish, Bloemhof en Waterkloof kan maklik vir ’n verrassing sorg.

Oranje het wel hul titelverdediging goed begin deur Waterkloof te klop.

Die afrigter van Oranje, Hendri Steyn, het aan OFM Sport gesê daar is druk op sy span, maar dit is iets wat hulle verwelkom.

“Die spelers is ongelooflik opgewonde en hulle is baie, baie lus om te speel – natuurlik wil hulle ook wen,” sê Steyn.

“Ons het al drie jaar in ’n ry gewen, en dit is nie maklik om weer te wen nie. Want almal kyk na jou, almal kom vir jou, en soos jy sê, dit is maar baie stresvol.

Die Oranje span wat die 2025 All Girls’ Festival in Kaapstad gewen het, is Nestine van Rooyen, Donna le Roux, Ansoné Theron (kaptein), Lika Claassens en Mandie Claassens - Oranje

“Hulle is ’n bietjie op hulle senuwees, maar dis ook goed – dis altyd goeie senuwees.

“Ons is reg daarvoor en hulle is opgewonde. Ek dink ons kan net doen wat ons kan doen. Ons het hard geoefen, so ons moet nou net gaan speel.

“Ek sien uit na wat gaan gebeur, maar hulle is slaggereed vir enigiets wat die ander spanne na hulle kant toe gooi.”

Oranje se sterspeler is die land se nommer een, Donna le Roux, wat al jare lank ’n staatmaker vir die eerstespan en die skool is.

Donna le Roux. Foto: Morgan Piek

Dit is egter haar heel laaste Amanda Coetzer-toernooi, en sy sal graag die toernooi op ’n hoë noot afsluit.

Steyn sê daar is druk op Le Roux, maar hulle sal alles in hul vermoë doen om haar op ’n hoë noot te laat groet. “Iemand soos Donna is ’n ongelooflike speler – sy kon eintlik enige plek in die land gegaan het,” sê Steyn.

“Maar hierdie skool is vir haar baie belangrik en sy wil nie die skool verlaat nie – maak nie saak wat nie. Dis vir haar ’n groot eer om vir die skool te speel, en ek en sy wil so graag goed afsluit.


“Sy is al vir baie jare die beste nommer een-speler in Suid-Afrika. Maar vir haar is dit ook baie moeilik, want daar is baie spanning op haar skouers en sy voel sy móét wen. So ek haal my hoed af vir haar af, om as 17-jarige nog steeds vir elke wedstryd op te daag en op so ’n hoë vlak te speel, is merkwaardig.

“Maar sy wil dit goed afsluit, en ons gaan dit goed afsluit – vir haar part ook. Kom ons hoop net vir die beste.”

Vroeër vanjaar is Le Roux gekies om die senior nasionale vrouetennisspan in Cyprus te verteenwoordig.

Die eindstryde van die Amanda Coetzer-toernooi sal Saterdag beslis word.

 OFM Sport/Morgan Piek cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.