Hoekom het niemand my gesê nie?
ELSABE PEPLER
20:29 Tue, 08 Jan 2013
Hoekom het niemand my gesê nie? | News Article
Elsabe Pepler dink sekerlik tien keer per dag, daagliks vir die afgelope ses maande, daaraan dat haar lewe nou vir altyd anders is. Sy voel elke uur of sy nooit weer 'n normale geroetineerde lewe gaan ervaar nie.
Ek kan nie ophou tob nie, ek kan nie ophou wonder nie. Want ek kan nie verstaan dat niemand my gesê het nie. En baie mense hét geweet, baie. Amper al my beste vriende en naaste familie en verlangse familie, en kennisse en kollegas oral om my. En hulle het waaragtig nie een nooit iets gesê nie. Ek voel so verneuk dat niemand my gewaarsku het nie. Ek is so onvoorbereid. Totaal onkundig oor hoe om hierdie hoofstuk in my lewe te doen.

Ek het nie geweet die werklikheid gaan vir my so onwerklik wees nie. Ek het nie voorsien dat ek drie maande na die tyd nog gaan voel of die seer in my lyf en kop klop-klop-klop nie, sonder ophou. Nou en dan vergeet ek vir ‘n oomblik en kry ek gelag. In sulke oomblikke kom die opwinding oor nog ‘n Kaap-somer weer boontoe, en oor ons hier aan die voet van die Moeder-berg bly.

Tot ek sommer vinnig weer die grys newels om my voel saambondel, wat ook beteken dat ek uit die baan van nugterheid en gesonde redenasie geswiep word. Dit gebeur gewoon sonder enige verweer of verdediging of ammunisie teen hierdie onbekende klassifikasie van pyn. Ek het geen verwysingsraamwerk oor hoe om rondom of deur hierdie soort ervaring te kom nie.

Dan begin die gepieker van voor af. Hoe, hoe kon ek nie geweet het nie? Het ek nie mooi gekyk en geluister na vriende en familielede en kennisse wat dit al ervaar het nie? Al het hulle dalk ook nie die regte woorde gehad nie? Ek is ‘n sogenaamde kommunikasiekundige, in hemelsnaam. Waarom het ek nie iets agter die feitelike weergawes van die hoekom’s en hoe’s met my befaamde intuïsie opgetel nie? Of is dit dalk net vir mý wat dit so onverwerkbaar moeilik is? Ek het dan soveel boeke oor die proses gelees? Van hulle het selfs sekere stappe en formules in wat mens kan volg om so-iets beter te maak. Miskien moet ek ‘n terapeut gaan sien; dalk kan ek dit nie alleen bemeester nie.

Teoreties was ek ‘n kundige. Ek het geglo dat ek dié soort gebeurtenis – wat ek wel geweet het onafwendbaar is – met groot rasionaliteit en analisekan beredeneer. Maar soos met miljoene dinge in miljoene mense se lewens, het ek geen benul van die praktiese implikasies en belewenis gehad nie. So much for that.

Ek dink sekerlik tien keer per dag, daagliks vir die afgelope ses maande, daaraan dat my lewe nou vir altyd anders is. Ek voel elke uur of ek nooit weer ‘n normale geroetineerde lewe gaan ervaar nie. As ek met mense daaroor praat, knik hulle begrypend hul koppe, vat vlugtig aan my arm of skouer, en sê vir my met sagte, jammer oë: “Tien jaar, dis hoe lank dit my geneem het om dit te glo”. Of: “Presies agt jaar later het ek op ‘n dag besef dis nou uiteindelik beter”. Selfs: “Na vyftien jaar neem my instink steeds oor en tree ek op asof dit nie verander het nie, totdat ek skielik onthou ek kan nie bel nie”.
Ek raak wanhopig en bekommerd oor ek nie beter voel nie. As ek in die oggende my oë oopmaak na ‘n nag se onrustige en nagmerrie-slaap, is my eerste gedagte een van loutere vrees. Want ek weet die dag gaan weer vol wees van somber gedagtes en dieselfde vrae as gister en ‘n week en drie en ses maande gelede. In die oggend is ek bang dat ek weer vandag nie gaan sien hoe verbysterend groot die berg en hoe blou Tafelbaai se water is nie. My oë, voel dit, het dof geword. Dis asof ek ‘n vuil, gewasemde bril ophet. My visie is versteur. (En ek klink soos ‘n drama queen.)

Hoékom het ek dit nie gesien nie? Kon ek dit op ‘n manier dalk voorkom het? Wat die duiwel het die mense wat iets daaraan kon doen, nié gedoen nie?

Dit was die vreemdste belewenis, ten spyte van my reuse respek vir die verskynsel van sinchronisiteit. Ek het op ‘n stralende warm Maandag, in die middel van April 2012, die seerkry-koue-winters van Bloemfontein onthou. Die Kaapse winters is soveel sagter, genadiger, intiemer en nie so snerpend en snydend nie. En dis bowenal grasgroen. Toe koop ek vir haar die wollerigste, helderste seeblou slaapklere en bypassende sokkies met sterre op, en stuur dit deur Postnet tot by haar deur. Sodat sy nie so koud sal kry nie.

Op dieselfde dag wat die pakkie by haar afgelewer word in Bloemfontein, bel sy die aand om die nuus oor te dra.
Van daar af was my eerste instink een van rasionele ontkenning. Ek het besluit dat boeke soos The Secretof The Power of Now of The Tibetan Book of Living and Dying en die Bybel nou sal moet deliver. As ek net hard glo en genoeg energie in die heelal in vrylaat, sal dit verander. Daar is tog miljoene stories waar so ‘n verloop verander het.

Maar vir hierdie onbekende vyand was geykte propagandistiese oorlogstaktiek nie genoeg nie, en ook nie betyds nie.
My mamma is dood. Vinnig, onverwags, onbepland. Die kanker was berekenend, gemeen, giftig en woedend. Dit het alles uit die pad gevee. Alle energie, weerstand, medikasie, intervensies. My verstand ook.

Januarie 2012 het sy nog heerlik by ons gekuier in die mooiste Kaap en Greta, haar “beste kleinkind” se 21ste verjaardag help vier op ‘n sjampanje-bootrit. Ouma het soos ‘n jong volwassene opgewonde rondgewip; die ware jong volwassenes het amper almal miserabel gelyk met bruin papiersakkies voor hulle witlip-monde. Ek was so trots op dié tagtigjarige wat die lewe so in die oë kyk en rondskud, en altyd positief is oor alles. So lewensbly en dankbaar en diepsinning. Haar oplossing vir selfs die ernstigste probleem was meestal kos. Kook en bak vir mense, voer hulle, en dan is alles bietjie beter. Selfs op die mondigwording-skip het sy verbete klam snye Adelaide Sheet-cake uitgedeel.

Sy het my gebaar en grootgemaak. Sy het my geduldig geleer en gelei. Sy het ons tydig en ontydig herinner aan die konkrete waarde van dankbaarheid en positiwiteit en geloof. Sy het ons prakties onderrig in vergifnis, genade en geduld. Sy het ons eksentrisiteite en giere verdra. Ek het jammerlik nie al haar gawes geërf nie, en daaroor het sy ook gelag. Ek het haar dikwels so bekyk en na binne gevra: hoe oud gaan hierdie gesonde optimis word, want sy het ‘n onuitwisbare innerlike krag. En ek kon ook nie help om te wonder hoe haar Stil Generasie, gebore in die 1930/40’s se na-oorlogse armoede en verwoesting, se innerlike waardes opmeet teen vandag se Millennial Kinders en hulle tegnologiese onmiddellike gratifikasie nie.

Die chirurg in Bloemfontein het my tydens ‘n aandklas vir honneurs-studente gebel en ek het uit die klas gehardloop om die feite te gaan neerskryf, sommer agter in ‘n handleiding met ‘n stomp potlood. Maag en pankreaskanker, stadium 4, 18 tot 24 maande. Dalk bietjie chemoterapie. Maar dit lyk sleg. Pfft, dokters, vir hulle ken ek. Maar ek het gesteier.
Ek het drie keer in drie maande in ‘n vliegtuig geklim, van my nuwe groen Kaap-tuiste na die bar winter van Bloemfontein en die Vrystaat. Elke keer het ek gevoel of ek die vliegtuig net bietjie wil aanjaag en of ek nie vinnig genoeg uit my sitplek kan kom nie. Twee keer wat ek daar aangekom het, moes ek haar in die hospitaal laat opneem, want sy het nie laat blyk hoe siek sy was nie. Dalk om te ontken, dalk om nie ‘n oorlas te wees nie, want dis hoe haar Stille Generasie-geslag was.
Drie maande later, in die middel van die fel, uitsiglose koue winter in Bloemfontein moes ek kyk hoe die lykswa wegry met haar daarbinne. Ek het gevoel of ek agter daardie afgryslike lang swart motor wil aanhardloop en met my vuiste daarop slaan en haar daaruit pluk en wakkerskud.

Die derde keer in drie maande kon niemand meer help nie, en was ons in die aftree-oord se konsistorie. En op ‘n daaglikse basis wil ek nog selfs die begrafnis oor-doen, her-doen – want dit was nie goed genoeg om vir haar te laat weet hoe lief ons haar gehad het nie. En ek sal nooit haar naamgenoot-kleinkind Mia se gesiggie vergeet nie, toe sy onbegrypend sê: “Maar Ouma moet by my troue wees!”

Want waar is my begin nou? Waar is my herkoms in ‘n menslike, tasbare vorm? As jou ma en pa altwee dood is? Dis die eerste twee mense wat ek leer ken het, in hemelsnaam.

Mens se ma, selfs al sit julle nie altyd langs dieselfde vuur nie, is jou enigste biologiese ma. Sy is die een wat deur barensnood gegaan en jou van die eerste oomblik af liefgehad het, sonder rede of regverdiging. Sy is die een wat jou altyd vergewe, nog ‘n kans gee, jou vertrou, in jou glo. Sy klou daaraan dat haar kinders goed is en reg sal doen. Sy verlang altyd na jou, wil die beste vir jou. Dis oor jou, haar kind, wat haar hart so gereeld buite haar liggaam rond-draf soos ‘n honger wolf.

Soms, as ek soveel mense om my sien in ‘n wêreld van sewe biljoen, wil ek vir almal om my skree: “Weet julle dat elkeen van julle uit ‘n ma se baarmoeder gekom het? Onthou jy dat ‘n moeder-mens en moeder-orgaan jou gebaar het? Verstaan jy dat daar geen mensdom sal wees sonder ma’s wat kans sien om ‘n kind te dra en te baar nie?”

Wie gaan nou vir ons bid soos wat sy dit gedoen het, elke dag? Ek het nie nodig gehad om daaroor te kommer nie, want sy het in die gap gestaan. Wie gaan nou vir ons lag en die lewe saam met ons geniet? Wie gaan vir ons eenvoudige lesse leer van moedhou en vasstaan, van vergewe en weer begin? Wie gaan ons inspireer om te bly glo?

Ek voel soos ‘n plant sonder ‘n wortel. Ek voel soos ‘n weeskind. Ek voel soos iemand sonder oorsprong of herkoms. Ek voel of ek deur die dae dwaal. Ek voel kruppel, half, uitgeprop sonder my pa en ma.

My vriende glimlag broos en onoortuigend, en sê dit sal beter word. So oor tien of agt of vyftien jaar. Nie gouer nie. Na so ‘n hele klompie jare sal jy weer begin weet waar is jou Ware Noord. En sal jy nie meer foon toe loop in die aande om haar te te bel en te vertel hoe erg die Suidwester-wind in die Kaap waai nie.

Related Articles:

Cookies help us deliver our services. By using our site, you agree to our use of cookies. Tell me more