On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Laurika
Listen Live Streams

International

Al hoe meer kunstenaars weier optrede in Trump-teater

───   10:24 Wed, 31 Dec 2025

Al hoe meer kunstenaars weier optrede in Trump-teater | News Article
Die Kennedy-sentrum kry ’n nuwe naam. Foto: BBC

Steeds meer kunstenaars kanselleer hul optredes in die Kennedy-sentrum nadat die instelling oornag herdoop is tot ‘The Donald J. Trump and The John F. Kennedy Memorial Center for the Performing Arts’.

Volgens die BBC het die veteraan-jazzgroep The Cookers hul twee Oujaarsaand-vertonings gekanselleer. Die dansgeselskap Doug Varone and Dancers het intussen laat weet dat hulle nie hul vertonings in April sal aanbied nie.

“Ons kan onsself nie daarheen neem of van ons gehore verwag om dié eens wonderlike instelling te betree nie,” sê hulle.

Steeds meer kunstenaars kanselleer hul optredes in die Kennedy-sentrum. Foto: Facebook

Die Kennedy-sentrum se president, Richard Grenell, beskryf die kansellasies as deel van ’n “ontwrigtende sindroom”. Hy beweer kunstenaars wat nou onttrek, is “vroeër deur die uiterste linkse leierskap van die sentrum verkies”.

“Hul optrede bewys die vorige bestuur het kunstenaars verkies wat linkse politieke aktiviste was, eerder as kunstenaars wat bereid is om vir almal op te tree, ongeag hul politieke sienings,” sê Grenell.

Die folksangeres Kristy Lee het ook onlangs aangekondig dat sy haar Januarie-vertoning kanselleer. “Wanneer Amerikaanse geskiedenis hanteer word as iets wat verbied, uitgewis, hernoem of herverpak kan word om iemand se ego te streel, kan ek nie op daardie verhoog staan en snags rustig slaap nie,” skryf sy op sosiale media.

Die folksangeres Kristy Lee het onlangs aangekondig dat sy haar Januarie-vertoning kanselleer. Foto: Facebook

Die jazzmusikant Chuck Redd het verlede week sy jaarlikse Kersaandoptrede gekanselleer. Hy tree sedert 2006 elke Kersfees in die sentrum op. Hy skryf die besluit toe aan die naamsverandering.

Grenell het daarop gereageer deur $1 miljoen se skadevergoeding van Redd te eis. Hy beweer die kansellasie was ’n “politieke foefie” wat die sentrum “beduidend skade berokken het”.

Die raad van die Kennedy-sentrum, wat uit Trump-bondgenote bestaan, het vroeër vandeesmaand gestem om Trump se naam by dié van Kennedy te voeg. Die nuwe naam is reeds die volgende dag aan die buitekant van die gebou aangebring.

Regsmenings verskil oor wettigheid

Sommige wetgewers en regskenners voer aan net die Amerikaanse Kongres kan ’n amptelike naamsverandering goedkeur.

Joe Kennedy III, voormalige kongreslid en kleinneef van wyle pres. Kennedy, sê die lokaal is “’n lewende gedenkteken vir ’n gevalle president en is deur federale wetgewing na John F. Kennedy vernoem”.

“Om die naam te verander, is net so onwettig as om die Lincoln-gedenkteken te hernoem.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.