International
Minstens twee sterf in aardbewing in Mexiko─── 11:05 Sat, 03 Jan 2026
Minstens twee mense is Vrydag (2/1) in die sentrale en suidelike dele van Mexiko dood in ’n aardbewing met ’n sterkte van 6,5.
Die BBC berig die aardbewing het omstreeks 07:58 plaaslike tyd gebeur naby die dorp San Marcos in die staat van Guerrero naby die gewilde toeristedorp Acapulco aan die Stille Oseaan. Skuddings is tot in Mexikostad gevoel en mense het hul huise ontruim.
Verskeie grondverskuiwings is rondom Acapulco en op snelweë aangemeld.
Evelyn Salgado, goeweneur van Guerrero, sê ’n vrou (50) vrou wat in ’n klein dorpie naby die episentrum gewoon het, is dood toe haar huis ineengestort het. ’n Hospitaal in Chilpancingo, Guerrero se hoofstad, is erg beskadig en die pasiënte is verwyder.

Talle huise en geboue is beskadig. Foto: Firstpost (skermgreep)
Inwoners en toeriste in Mexikostad en Acapulco het die strate ingevaar toe die skudding begin het. Clara Brugada, burgemeester van Mexikostad, sê ’n man (60) is dood nadat hy geval het terwyl hy ’n gebou ontruim het.
Naskokke
Minstens 12 mense is in die aardbewing beseer. Die Amerikaanse geologiese opname sê die aardbewing het plaasgevind op ’n diepte van 35 km. Meer as 500 naskokke het voorgekom.
‘Dit bewe’
Sheinbaum het haar eerste mediakonferensie van die jaar gehou toe die aardbewing plaasgevind het. 'n Video-opname wys hoe sy hoorbaar sê “dit bewe” terwyl ’n seismiese alarm in die agtergrond gehoor kan word. Sy vra dan die media om almal kalm uit te gaan. Sy het later die mediakonferensie hervat.

Die aardbewing het vroegoggend plaasgevind. Grafika: Houzes
Die seismiese alarmstelsel is ingestel ná die dodelike aardbewing van 1985 waarin meer as 10 000 mense dood is. In 2017 het 'n aardbewing van 7,1 meer as 200 lewens geëis en dosyne geboue in Mexikostad laat ineenstort.
Seismies aktiewe gebiede
Mexiko is geleë in een van die wêreld se seismies aktiewe gebiede waar vier tektoniese plate bymekaarkom.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg

