On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Yellow Door

As jou woorde opraak...

───   ILSE SMALBERGER 09:56 Fri, 19 Apr 2013

As jou woorde opraak... | News Article

Woorde is vriende. Hulle sus, bemoedig, vermaak en kan selfs jou brood en botter wees. Tog, sê Ilse Smalberger, raak die woorde soms weg.

Woorde is my lewe. Letterlik. My dae bestaan daaruit om voor die rekenaar te sit en tekste te proeflees, te vertaal en te skryf. Saans klim ek in die bed met ‘n goeie boek en oor naweke sit ek dikwels op die stoep met ‘n tydskrif, wat ek van hoek tot kant deurlees. As die rugby op ‘n Saterdag te spannend raak, trek ek ‘n blokkiesraaiselboek nader sodat ek nie hoef te kyk nie en net die kommentaar hoor (amper soos wanneer mens ‘n bang fliek met jou hande voor jou oë kyk en net so nou en dan deur die klein skrefies tussen jou vingers loer).

As jy my sou vra wat die een ding in my lewe is, wat ek nooit sal kan opgee nie, is dit boek lees. Storieboeke is so deel van my lewe soos die moesie op my wang en my onvermoë om Wiskunde te kan doen. Dit is hoekom ek ook begin skryf het. Blogs soos hierdie, maar ook kortverhale.

Die vollengte, 200-bladsy boek is nog vir my 'n Everest wat ek nie heeltemal kans sien om te klim nie. Tog is dit my droom. Om eendag my naam op 'n blink, kraakvars boek op 'n winkelrak te sien - of nog beter, op iemand vir wie ek lief is se boekrak. Watter wonderlike gevoel sal dit nie wees nie; om te weet jy het iemand, wat jy respekteer en vir wie jy omgee, met 'n storie vermaak!

Op enige gegewe oomblik, is daar tonele, dialoë en idees vir karakters wat deur my kop flits. Dis 'n kakofonie van woorde en sinne en frases. Woorde was nog altyd my beste vriend; daar om my geselskap te hou, 'n manier om 'n inkomste te verdien en om my verbeelding vrye teuels te gee.

Deesdae voel dit egter asof my ou vriend vir my kwaad geword het. Die woorde is besig om weg te raak. Die gedagtes wil hulleself nie meer neergepen hê nie. Ek gaan sit soms voor die rekenaar reg om te skryf, maar dan is daar niks. Die karakters is tjoepstil. Die idees en gedagtes kruip weg. Wat eens maklik was, het nou vir my bitter moeilik geword.

Die goeters wat ek skryf, klink vir my flou en simpel. Ek dink aan die skrywers wat ek so gretig verslind en dan lees ek weer wat ek geskryf het en dink: Wil jy jouself nou regtig 'n skrywer noem? Skoenmaker, hou jou maar eerder by jou lees. Wees 'n taalversorger, of 'n kopieskrywer (at best). Moenie jouself flous nie.

Ek weet nie hoe om die verlore woorde weer terug te kry nie. Hoe kan 'n mens vir iets begin soek, as jy nie eers weet waar jy dit verloor het nie?

Ek wonder tog of die verlore woorde iets te doene het met die toestand van die wêreld die afgelope paar maande. Sedert die begin van die jaar, voel dit vir my asof die wêreld besig is om mal te word. Van die skielike en tragiese sterftes van 'n kollega-vriendin en die boetie van 'n goeie vriend vroeër vanjaar, tot by Oscar, Noord Korea, renosterstropery, mishandelde olifante en nou, die ontploffings in Boston.

Die stories kruip weg, want die realiteit verdring alles. Die stories staan nie 'n kat se kans teen die gru werklikheid van die wêreld nie.

Ongelukkig kan jy nie jou oë sluit vir die werklikheid nie. Hoe hard en ongenaakbaar gaan die storie nie moet wees, om bo die werklikheid van vandag uit te dring nie!

Ek weet nie hoe ek weer gaan begin skryf nie. Die idee van die boek lê diep weggebêre, soos 'n ou foto-album iewers in 'n kis op die solder. Jy weet dis daar, maar dit gaan harde werk kos om dit uiteindelik in die hande te kry.

Gelukkig is die Internet vol raad oor hoe om die sogenaamde "writer's block" te oorkom. Ek dink ek ervaar 'n bietjie meer as bloot writer's block, maar ek sal tog maar gaan kyk wat sê die "kenners". Ek het reeds hier en daar rondgesnuffel, en alhoewel ek maar skepties oor die meeste daarvan is, het ek tog hier en daar op 'n juweeltjie afgekom. En selfs al werk dit nie vir my nie, het dit my ten minste laat giggel.

Soos hierdie brokkie van Maya Angelou ('n Amerikaanse skrywer en digter, wat oor jare reeds dosyne toekennings en meer as 30 eredoktorsgrade verwerf het):

"What I try to do is write. I may write for two weeks 'the cat sat on the mat, that is that, not a rat.' And it might be just the most boring and awful stuff. But I try. When I'm writing, I write. And then it's as if the muse is convinced that I'm serious and says, 'Okay. Okay. I'll come.'"

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.