On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Yellow Door

’n Nuttige vaardigheid vir die verantwoordelike burger

───   WILLEMIEN MARAIS 06:00 Tue, 30 Apr 2013

’n Nuttige vaardigheid vir die verantwoordelike burger | News Article

Daar is veel meer as net ‘n hartklop tussen lewe en dood. ‘n Kort-kortverhaal deur Willemien Marais.

Die Doodsengel het ’n netjiese pak aan. Ek is nogal ietwat verbaas. “Is jy nie veronderstel om ’n kleed of ’n ding te dra nie?”

“Of ’n ding?” Dit blyk die Doodsengel is ’n voorstander van suiwer taalgebruik. Nie dat ek my in dié stadium vreeslik daaraan steur nie. Ek sit op die dak van die gebou waar ek my vaal werkie verrig. Eindelose syfers in eindelose kolomme. Die Doodsengel sit langs my. Onder op die grond het ’n paar mense begin saamdrom.
“Ek weet hoekom jy hier is,” sê ek.
“Merkwaardige insig,” sê die Doodsengel egalig sarkasties.
“Jy is hier vir my.”
“Almal is hier vir jou,” antwoord die Doodsengel en loer na die groepie mense onder ons. “Dit is egter belangriker hoe jy hier gekom het as hoekom jy hier is,” gaan hy voort.
“Die brandtrap is hoe ek hier gekom het.” Ek kan ook sarkasties wees.
“Ek het ’n bietjie meer van ’n aanloop in gedagte gehad.”
“Die hysbak tot op die 18de vloer en toe die brandtrap vir die laaste twee stelle trappe?” Ek voel skielik nie meer so seker van myself nie. Die Doodsengel sit doodstil langs my. Doodstil. Dis vir my baie snaaks. Ek giggel. “As mense ‘dood’ as intensiewe vorm gebruik, bedoel hulle dis hoe jý voel of hoe jy húlle laat voel?”
“Vertel my hoe dit gekom het dat jy hier is,” sê hy weer in sy gemoduleerde stem. Ek voel skielik moeg en geïrriteerd. “Wat maak dit saak? Ons is almal hier vir dieselfde ding. Niks anders maak tog saak nie. Kan jy nie iewers anders gaan wag nie? Soos onder?”
Die wolke begin saamtrek. Dit lyk na reën.

***
Dit reën die dag toe ons by die militêre basis aanmeld. Dit reën dwarsdeur ons eerste week van boots en vloere polish en inspeksie staan en klere stryk. Dis meer soos ’n intensiewe oefening in die Kuns van ’n Skoon en Netjiese Huishouding as militêre opleiding. Niemand gee om nie; almal is moeg. Alles is nat; die reën is hel vir ons inspeksievloer, wat ons maar net nie skoon kan hou nie. Dit raak lewensbelangrik: Hoe om modderspore van die vloer af te hou. Ek wonder, sou daar dalk ’n oorlog wees, hoe die vyand oefen. When all else fails, sal ons darem die vloer met hulle kan vee. Ek dink dis baie snaaks. Ek giggel.

***
“Hoekom giggel jy so baie?”
Ek rol my oë. Van alles wat die Doodsengel my kan vra, sal ek nou tot in alle ewigheid moet vertel dat hy wou weet hoekom ek so baie giggel. Ek het nie juis ’n antwoord nie, so ek doen maar wat ek altyd doen: ek giggel. Die Doodsengel rol sy oë. By wyse van spreke. Ek probeer loer, maar dis moeilik om hom raak te sien. Hy bly al hier in die hoek van my oog, maar sodra ek my kop draai, is hy nie daar nie. Maar ek sal die stukkie van my lewe wat oor is daarop wed dat hy die ene benerige vingers en leë oogkaste is. Soos dit moet wees. Behalwe nou vir die pak. En die sekel.
“Is jy nie veronderstel om ’n sekel te hê nie?”
“Gaan nie goed saam met die pak nie.”
“Nou hoe ...” ek soek na die regte woorde “... hark jy hulle ... uhm ... ons dan in?”
“Wel, hulle ... uhm ... julle doen alles self, en wat die hark betref – hoekom het jy so ’n obsessie met implemente?”
Ek sou nie kon sê nie. Net soos ek nie kan sê hoekom ek op die dak is nie. Ek loer deur my voete na die groepie mense ver onder ons. Ek voel regtig vreemd.
“Ek voel regtig vreemd,” noem ek aan die Doodsengel.
“Soos dit hoort,” antwoord hy. “Dit is nie juis normale omstandighede nie.”
“Ja, maar moet ek nie bang of angstig of selfs net effens vieserig wees nie? Dis ’n bietjie van ’n antiklimaks.” Die Doodsengel knik instemmend.
“Jy herinner my aan ’n sielkundige,” merk ek op. “Vol ‘hmm’ en ‘mmm’ en nie ’n haartjie uit plek nie...” ek voel weer ’n giggeltjie, “trouens, nie ’n haartjie enige plek nie!” Die Doodsengel sit net. Dik wolke hang dreigend oor ons.

***
“Mik hier,” beduie die sersant op die skietbaan, en wys na ’n kol wat die hart, lewer en longe insluit. Dan gaan hy voort om die voortreflikhede van skerppunt-ammunisie te besing. Ek dink. Oor hoe dit sou voel om iemand te skiet. Oor hoe dit sou voel om geskiet te word. Klein gaatjie voor, vertel die sersant opgewonde, en ’n groot gat agter.

***
“Moet ek wag vir ’n teken?” vra ek onderlangs aan die Doodsengel.
“Ek oefen nie keuses uit nie en ek is nie in beheer nie,” rol dit sag en diep uit die algemene rigting van sy keel. Ons sit in stilte verder. Die groepie onder ons beduie in my rigting. ’n Ambulans vlieg om die draai en stop reg agter die blitspatrollie.
“Dis soos ’n fliek,” sê ek in my skik.
“Vertel my,” sê my metgesel.
“Wat?”
“Jy weet wat.”
“Wel, jy ook. Kan dit wees dat hierdie uur van nood nou regtig myne en myne alleen is? Kan jy nie solank iemand anders gaan...” Ek weet nie lekker hoe om die sin te voltooi nie. “Doen jy dit al lank?” verander ek die onderwerp.
“Dis nie ’n betrekking nie.”
Dit is nou so, dink ek. Maar nogtans. “Maar nogtans, hoe het dit gekom...?”
“Dit het nie gekom nie, dit gaan nie, dit is net.”
“Jy’s nogal fyngevoelig vir ’n doodsengel.”
“Dié Doodsengel.”
“Presies.”

***
Ons is weer in die moeilikheid. Die helfte van die peloton het die akademies uitdagende vak “Salueer en Eerbewys” gedop. As straf kry ons ’n oppie. Korrektiewe opleiding. Al ons klere, beddegoed en ander aardse besittings lê op ’n hoop buite in die nimmereindigende reën. Hoe het dit gebeur, wonder ek terwyl ek iemand soek met wie ek ’n linkerskoen vir ’n regterskoen kan ruil. Ek hardloop stadig, ek sien sleg, ek skiet sleg en stryk nog slegter. Hoe het ek hier beland? Watter doel kan dit hoegenaamd dien om my ten duurste op te lei as spogproduk van die land se weermag?

***
“Ek was in die weermag,” knoop ek ’n geselsie aan.
Die Doodsengel knik. “Ja...?”
“Dit was nie ’n oorlog of iets nie. Daardie dae is vroue opgelei as deel van ’n indrukwekkende PR-oefening. Ons was die weermag se vertoonvenster. Meer winkelpoppe as soldate. Ons het ook gedril en geskiet en geskop en geskrop, maar wanneer dit nodig was om Die Beeld te Poets, moes ons alles net so los en parade hou. Besoekende generaals het soos diktators op die balkon gestaan en kyk en dan iewers heen verdwyn waar hulle op die weermag se toebroodjies en koek getrakteer is. En ons is weer terug vir ’n les in gevegsmaneuvers of eindelose kompetisies om te sien wie kan ’n outomatiese aanvalsgeweer die vinnigste uitmekaar haal en aanmekaar sit. Jy sal nie glo hoeveel goed ek geleer het wat my vandag die betroubare en volronde burger maak wat ek is nie. Ek kan ’n sandmodel van enigiets op aarde bou. Ek kan kaartlees doen en is vertroud met radio-etiket. Ek ken die orkesvolgorde van ’n revueparade.”
“Indrukwekkend,” sê die Doodsengel sonder ’n verbuiging in sy stem.
“En ek het geleer hoe bedrieglik die mens is, hoe moegheid en spanning gebruik kan word om die slegste in selfs die heel beste mens na vore te bring en ek het geleer dat niemand ooit werklik vertrou kan word nie.” Ek voel opgewerk, wat nogal ’n verbetering op die nie-hier-of-daar van vroeër is.
“En jy het leer skiet,” sê die Doodsengel.
Ek bly stil. Dit reën nou hard.

***
Dit reën die dag toe ek die moord pleeg. Dit was nie deel van my beplanning nie. Die moord; nie die reën nie. Dié sak al vir dae aaneen uit, ’n mens sou met redelike sekerheid kon voorspel dat dit ook op dié dag sou reën. Die reën red trouens my moord. Dit laat die moordtoneel goed lyk – skoon, blink, hier en daar ’n druppel wat soos ’n diamant aan ’n takkie blink of teen ’n blink stewel afloop en in die rooi plas drup. Die klank van druppels op blare is gerusstellend; die sny die res van die wêreld af en skep grense vir die moordtoneel. Dit is van hier tot daar en met ’n duidelike bo en onder. Reën ruik lekker. En dit proe na niks, maar dit gee jou iets om aan te proe. En om aan te vat. Dis net die daad wat nie beplan is nie. Die feit dat ek die sneller trek. Die feit dat ’n enkelronde skerppunt-ammunisie onsigbaar vir die blote oog die paar meter aflê. Die feit dat dit iemand anders se liggaam binnedring met verwoestende krag, dwarsdeur die ingewande, dwarsdeur die rugmurg, dwarsdeur die fyn draadjie so snaarstyf gespan tussen lewe en dood.

***
“Hoekom noem jy dit ’n moord? Dit was tog selfverdediging,” merk die Doodsengel op. “Iemand het immers by jou huis ingebreek en jou kinders se lewe bedreig.”
“Ek het myself daaraan probeer troos,” sug ek. “Hoe kan enigiemand hulle dit aanmatig om sommer net in te kom en my en my gesin te dreig? Dis wat ek gedink het toe ek daardie pistool aangeskaf het. Vir jare was dit soos ’n teenwoordigheid in my huis. Ek het myself vertel ek is opgelei, ek kan dit gebruik. Maar die opleiding was net om die sneller te trek. Niemand kan jou oplei vir wat daarop volg nie.”
Dit reën so hard dat ek nie meer die mense onder ons kan sien nie. Dalk stel hulle nie meer belang nie. Ek dink skielik aan iets anders. “Was jy daar? Daardie dag?”
“Jy weet tog.” Miskien frustreer hy mense dood.
“Maar nie vir my nie. Ek het jou nie gesien nie.”
Agter ons hoor ek voetstappe. Mense roep. Ek voel ver. Van alles.
“Ek het iemand doodgeskiet,” sê ek in die storm in. Niemand hoor nie. ’n Stem agter my praat sag. ’n Hand krul ferm om my boarm. “Is dit tyd om te gaan?” vra ek die Doodsengel en kyk om. Dis ’n polisieman. Ek kyk verward rond.
“Waar is hy?” stamel ek.
“Wie?” vra die polisieman.
“Die Doodsengel.”
Ek kry ’n paar simpatieke kyke, maar niemand sê ’n woord nie. Hulle help my by die brandtrap af. Sagte hande help my om in die ambulans te klim. Die deure klap toe. Vir ’n oomblik is ek alleen.
“Ek was daardie dag daar,” praat die diep stem skielik weer langs my. “En ek was daar vir jou. Ek het reeds kom haal wat ek moes.”
“Ek weet,” antwoord ek. “Maar ek het gedink dit sal gaaf wees as jy vandag die res van my kan kom haal.”
“Dood is meer as net om dood te gaan.”
“Ek sal graag nou heeltemal wil doodgaan.” Ek smeek hom, maar hy is nie meer daar nie.
Dit reën steeds toe die ambulans wegtrek.

@scout5303


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.