Yellow Door
Maandag, o liewe Maandag─── CATHY DE LANGE 11:01 Thu, 02 May 2013

Vir Cathy de Lange is Maandag ‘n moeilike dag. Is dit regtig? Of is dit net ‘n stigma?
Kyk ek is nou maar eenmaal nie ‘n vreeslike voorstander van Maandae nie. Ek kan nie regtig met volle oortuiging vir jou sê hoekom Maandae my so dwars in die krop steek nie, maar feit bly staan om op ‘n Maandag op en wakker en aan die gang te wees is nou maar eenmaal vir my ‘n groot uitdaging. Baie groot. Plein weg moeilik man. ‘n Bitter pil om te sluk. Een van daai wat so in jou keel gaan vassit. Dwars. Jy sien in my gees trek ek nog by Saterdagmiddag en dan is Maandagoggend al op my. Dit het my aan die dink gesit: is dit net stigma wat maak dat ons Maandae as “blou” ervaar of is dit regtig so erg as wat ek dit wil maak…?
Miskien is Maandae so oorweldigend omdat dit – na die rustigheid van ‘n Sondag – voel of alles jou op een slag soos ‘n Dawid-klippie vir Goliat reg tussen die oë tref die oomblik wat jy die kantoor binnestap. Ek meen, mens het nog nie eers behoorlik jou handsak neergesit, om nie eers te praat van jou eerste koppie koffie gemaak nie, dan begin die telefoon al lui. En as jy eers jou e-posse oopmaak en almal soek NOU ‘n antwoord op al 73 navrae dan sink my moed sommer in my skoene.
Is mens nie veronderstel om fris en vars en uitgerus te voel op ‘n Maandag oggend nie? Moet die stof van die vorige week se ontsteltenis en sukkel-dinge nie teen die nuwe Maandag al van jou skoene af geskud wees nie? Helaas is dit geensins hoe ‘n Maandagoggend homself in my boek aanteken nie. Omdat ek twee klein rakkers in die huis het, moet ek egter ook bieg, is naweke nou nie juis ‘n tyd vir uitrus, ontspan met ‘n DVD of middagslapies vang nie. Dit is ‘n verjaarsdagpartytjie hier en ‘n kuier met maatjies daar en voor jy jou oë uitvee sit jy in die kerk, is Sondag middagete daarmee heen en net soos dit tyd word vir die gebruiklike (of sal ek eerder sê gewenste) Sondag middagslapie besluit die kinders dis tyd vir rofstoei bo-op die beddens en mekaar teen die spoed van lig in die gang af jaag en dan moet jy net links en regs keer dat iemand nie in ongevalle beland nie! Teen Sondagaand is ek poegaai. Dit kan dalk die rede wees dat, kom Maandagoggend, ek voel dat ek eintlik nog ‘n dag nodig het om te herstel van die pas-afgelope naweek!
As ek nou eerlik moet wees, en glo my hierdie is vir my ‘n baie sensitiewe saak en ‘n gewigtige erkenning om te maak, is Maandae egter seker ook nie nét sleg nie. Jy kry darem kans om met kollegas op te vang oor wat in almal se naweke gebeur het en saam met die ander mammas te giggel oor wat die klein kriminele in die huis als aangevang het. Ook bring dit nuwe uitdagings en die kans om ‘n nuwe blaadjie vir ‘n nuwe week om te slaan. As jy dan eers aan die gang kom (en alhoewel ek die risiko loop dat my baas hier gaan lees moet ek noem dat op ‘n Maandag dit eers so teen tienuur die oggend vir my gebeur) en jy het darem so twee goed op jou moet-gedoen-word-lysie doodgetrek voor een uur die middag dan voel jy darem of jy Maandag so effe onder die knie het.
Ek het nou al my kop in ‘n skeelhoofpyn in gedink aan planne om Maandae vir my beter te maak. Dalk moet ek agt uur op ‘n Sondagaand in die bed klim. Nee wag, dis wanneer die kinders in die bed gesit moet word. Miskien moet ek die kinders by ouma en oupa los en ‘n middagslapie inwerk! O nee wag, ouma en oupa bly nie in Bloem nie, so dit kan effe problematies wees. Ek het dit! Die oplossing is om naweke ‘n dag langer te maak. Jy weet, dat die nuwe week eers op ‘n Dinsdag moet begin. Eureka! Wag ‘n bietjie... die probleem met dit is nou weer dat daardie Dinsdag soos ‘n Maandag gaan voel omdat jy die Maandag soos ‘n Sondag deurgebring het en… Ag vrek. Stigma? Miskien. Feit bly staan hierdie meisie is nou maar eenmaal nie ‘n Maandag-mens nie. Punt!