Yellow Door
Verby in 'n oogwink...─── ILSE SMALBERGER 17:57 Mon, 15 Jul 2013

Die lewe is so kort soos 'n asemteug. Ilse Smalberger het weereens besef dat 'n mens nooit een dag van jou lewe as vanselfsprekend kan ervaar nie.
Ek het hierdie blog heel anders begin. Dit het alles gegaan oor hoe paranoïes ek is. Hoe ek drie keer na my kar toe terugloop in die parkeerarea van 'n winkelsentrum om seker te maak dat hy gesluit is, hoe ek soms snags in koue sweet wakkerskrik en eers moet opstaan om te kyk of my trouring en my ma se trouring nog in hulle boksie op die spieëlkas is, en hoe ek soms doodmaklike woorde (wat ek WEET hoe om te spel), in die woordeboek opkyk, net om seker te maak ek spel dit nie al 'n leeftyd lank verkeerd nie. Paranoïes.
Maar die afgelope paar dae het ek twee tragiese stories gehoor, wat my eie paranoïese geaardheid en simpel geite-goeters regtig soos die bepeinsinge van 'n selfbehepte prima donna laat klink het.
Die een storie is aan my vertel deur 'n vrou wat ek skaars ken. Ek het haar net 'n maand vantevore in Upington ontmoet. Sy het 'n pasiënt na 'n kliniek toe vergesel - sommer net om geselskap in die motor te wees en 'n koppie tee by die hospitaal aan te dra as dit moet. Ons het lekker gesels; sy het my van haar lewe vertel en al die draaie wat sy al deur ons pragtige land gemaak het, en hoe sy uiteindelik in hierdie hoekie van Suid-Afrika beland het om nader aan haar kinders te wees.
Die afgelope Donderdag loop ek haar weer in Upington raak. Ek vra hoe dit gaan. Haar pragtige blou oë skiet vol trane.
"Weet jy," sê sy, "'n week nadat ek en jy gesels het is my dogter oorlede. Sommer net so. Sy het longontsteking ontwikkel en vinnig agteruitgegaan. Sy was maar 31 jaar oud, en boonop het sy twee klein seuntjies."
Ek voel hoe die koue hospitaalgang sommer nog kouer word. Ek het nie woorde nie. Onbeholpe probeer ek troos, sonder om al die gewone ou leë woordjies wat mense soms in sulke situasies uiter te gebruik.
"Nou, wat nou van die kinders?" vra ek.
"Hulle gaan by hulle pa bly," sê sy, "maar ek voel ek moet hier wegkom. Ek weet nie hoe ek andersins hieroor sal kom nie."
Net daarna kom die pasiënt, wat sy vergesel het, uit die spreekkamer en ek groet hulle voordat hulle terugry na die klein dorpie waarvandaan hulle gekom het. Ek bly staan in die koue hospitaalgang.
Die volgende dag ry ons terug Kimberley toe. Op pad kry ons slegte nuus. 'n Vrou, haar dogter en kleindogter is daardie oggend in 'n gruwelike motorongeluk net buite Kimberley oorlede. Ek ken een van die gesin se ander dogters - ek besoek haar vir die afgelope vier jaar elke twee maande. Sy is my skoonheidsterapeut en met die jare het ons al die klein detail van mekaar se lewens leer ken. My hart breek vir haar.
Nodeloos om te sê, die afgelope naweek het ek baie oor die lewe gedink. Oor hoe vinnig dit verbygaan, hoe vinnig dit van jou weggeneem kan word. Die menslike liggaam is 'n wonderlike skepping, waarvan die volle werking selfs vandag nog nie heeltemal verstaan word nie. Maar dit is ook so verskriklik broos, so weerloos teen die aanslae van die lewe.
My skoonsussie het 'n paar maande terug vir my 'n boek persent gegee - The Book Thief, deur Markus Zusak. Dis nie 'n nuwe storie nie, maar word uit 'n interessante perspektief vertel. Dit is die storie van 'n negejarige Duitse dogtertjie, Liesel Meminger, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog by pleegouers in Molching, naby München gaan woon. Dit vertel van haar wedervaringe en hoe sy die oorlog beleef. Maar die interessante gedeelte, is dat dit uit die perspektief van die Dood vertel word. Dood vertel hoe hy Liesel leer ken en al haar avonture dophou terwyl hy regoor die land siele bymekaar maak.
Ligte leesstof vir 'n Saterdagmiddag is dit nie, maar dis tog een van daardie boeke wat jou laat nadink. Wat is die lewe dan nou eintlik? Hoekom wil ons so met alle mag en geweld daaraan vasklou, maak nie saak hoe sleg dit met ons gaan nie? Is dit die instink om oorlewing, of is ons bloot bang vir die onbekendheid van die dood? Of klou ons vas aan die lewe omdat ons dink aan dié wat moet agterbly?
Ons het almal al ietsie van die dood beleef; hetsy of dit 'n geliefde troeteldier, 'n ouma of oupa, 'n kollega of buurman was. Sommige van ons het die dood in al sy felste pyn en ongenaakbaarheid beleef, met die afsterwe van 'n eggenoot, ma of pa, of sekerlik die swaarste en seerste van alles - 'n kind.
Om die ou cliché te herhaal - "The only things that are certain in life, are death and taxes." Volgens Wikipedia sterf die meeste mense in die wêreld aan hartsiekte, gevolg deur beroerte of ander serebrovaskulêre siektes, en dan respiratoriese siektes. As mens of dier alle siekte, trauma of ander moontlike oorsake van dood oorleef, sal hy eendag aan veroudering, of die staking van alle biologiese funksies, sterf. Die eindpunt is dus vir ons almal dieselfde.
Wat nou verder? Wat het al hierdie bepeinsinge oor die dood my nou eintlik in die sak gebring? Wel een ding is seker, dit het my opnuut van die lewe bewus gemaak. Dit het my vir 'n oomblik laat ophou jaag na môre, sodat ek vandag ten volle kan beleef en geniet. Ek het onthou dat elke dag 'n geskenk is, en ja, party dae se geskenk is weliswaar lekkerder of mooier as ander dae s'n.
Maar elke sonsopkoms of sonsondergangs, elke keer as jy die wind oor 'n grasveld sien streel, elke keer as jy die gesing van voëltjies hoor, branders op die rotse sien breek, of na die reën op die dak luister, is dit 'n spesiale geskenk - net vir jou, net vir daardie oomblik. Geniet dit, want binne 'n oogwink, is dit weer verby...
Twitter: @ilse123