Eerste liefde/Eerste verlies
ELSABE PEPLER
14:35 Wed, 21 Aug 2013
Eerste liefde/Eerste verlies | News Article
Elsabe Pepler wonder hoekom verhoudings en huwelikke waar mense in die begin so belangstel in mekaar se kleinste trofees, so vreeslik verkeerd loop.
‘n Ruk gelede sit ek geïrriteerd en wag – iets waarmee ek treurig is – by ‘n selfoonverskaffer vir hulp.  Ek het met die instap ‘n nommer gekry wat my ‘n plek in die tou gee.  Die simpel papiertjie voorspel selfs oor hoe lank ek gaan wag voor ek aandag gaan kry.  Iets soos 48 minute.


Nadat ek maar vir my van die gratis (en nogal nie aardige) koffie getap het, al die koerante deurgelees het en meer nukkerig word soos wat ek na die stadige aftelling op die elektroniese bord staar, hou ek uit verveling die ander mense dop. Soveel vir mobiliteit, waar ons almal tesaam in sogenaamde kommunikasie se naam moet stil raak en wag vir hulp.  


Ek kon haar nie miskyk nie.  My dogtertjies was dan nou die dag nog net so klein en onskuldig.  Sy dra nog ‘n doek en is seker so rondom twee jaar oud.  Sy staan saam met haar Pa en Ma in die lang ry van mense.


Haar blinkswart krulhare loop in netjiese paadjies oor die  klein koppie en sy is van haar vlegsel-kroontjie tot by haar fake Croc-toontjies uitgevat in skelpienk.  Ek noem haar sommer Pink. Sy woel verveeld elke nou en dan om haar Ma se bene, wat haar afgetrokke probeer wegklap dat sy kan konsentreer op die vrou agter die toonbank. Pink gaan lê bietjie op die grond en bekyk dinge van daar onder;  staan weer op en begin doelloos ronddwaal.


‘n Hele klompie mense verder in die tou staan hy daar saam met sý Pa.  Gelate staan die twee langs mekaar, groot en klein, arms presies eenders gevou, in die ellelange ry.  Sy gesig en houding is ‘n replika van sy pa.  Hy is seker so vier, met ‘n rooi streep-hempie en duur branded trappers aan die woelige voete.  ‘n Bondel lewe wat sorgeloos deur die groot saal begin galop toe sy energie die oorhand oor die tou kry.  Ek noem hom maar Red Bull.


Ek kry hulle so jammer, hierdie klein mensies wat niks weet van lang toue in winkels nie. Maar my jammerte is nie nodig nie.  Want die lewe self gryp in, soos dikwels met ons almal gebeur.  “Life is what happens to you while you are making other plans”, het John Lennon gesê.  Jip.


Red Bull sien skielik in sy rond-bonsery die eenkant wit miniatuur-tafel met ‘n verskeidenheid tekengoed daarop, en die vier gekleurde stoeltjies.  Hy pyl ekstaties op dié ontdekking af en vou die kleurkryt-kartonnetjie met verwagting oop.  Hy gaan sit op die groen klein stoeltjie en verander in ‘n kreatiewe klein kunstenaar.


En dis toe wat sý hom raak-sien: Pink, met haar baie vlegseltjies en Barbie-uitrusting. Dis of haar gedagtes momenteel lug sluk oor dié ontdekking.  Sy staan ‘n paar sekondes stokstil, en begin dan die tafeltjie op ‘n versigtige afstand sirkel terwyl sy Red Bull intens dophou.  Sy besluit om eers die ontdekking met haar Ma te gaan uitklaar.  Pink pluk aan ma se rok terwyl sy begeesterd na Red Bull beduie.  Ma is steeds in konsultasie en klap Pink geïrriteerd van haar been af.  


Die pienk kleuter besluit om haar lewe in eie hande te neem en skuifel vinger in die mond nader aan die tafeltjie, groot blink ogies op Red Bull.


Hy kyk gesteurd op uit sy kreatiewe konsentrasie. Die volgende oomblik kan ek letterlik sien hoe hy hard hard getref word deur die pyl uit Kupido se boog.  Hy kom stadig regop, onmagtig om homself te beheer en op te hou terugkyk.  


Oervrou Pink draai haar vlegsel-koppie skuins, krul ‘n haarstring om ‘n piepklein voorvingertjie en val instinktief terug op argetipiese flirt-tegnieke met fladderende wimpers en (gemaakte) skaamheid.  Hy nooi haar met die hand om saam met hom skeppend te raak, (voorlopig) met kryt en papier.


Dis nie heeltemal duidelik in watter kode hulle kommunikeer nie, want sy is nog nie te veel sinne magtig nie. Die kundiges se navorsing bewys in elk geval dat net sewe persent van alle kommunikasie by wyse van verbale taal geskied. Wie het gesproke taal dus nou eintlik nodig as lyftaal en oogkontak, feromone en auras, gebare en aanraking, alles beter boodskappers as enige woorde kan wees?  


Vinnig ontwikkel ‘n geanimeerde gesprek;  hulle gee oor en weer raad oor watter kleure hulle prentjies nog helderder kan maak.   Hulle is so volledig in mekaar geïnteresseerd.


Pink se mond hang oop oor Red Bull se kreatiwiteit.  Hy word nog manliker onder die stuwing van al die bewondering. Hulle teken, kleur in en kyk met bewondering na mekaar se kunswerke.  


Dan, net soos in die regte lewe, slaan die noodlot toe.  Die hoofstuk is onvermydelik besig om jammerlik te begin eindig, asof dit nooit gebeur het nie.  Pink se verligte en haastige ouers is gretig om hulle lewens daar buite te hervat met nuwe selfoonverbindings.  “Pink, come!”, word sy ongeduldig ontbied op hulle pad na die deur toe.  


Daar trek ‘n desperaatheid oor Pink se gesiggie.  Haar nat ogies loop oor en sy slaan gillend haar hakke met die crocs in die vloer in om haar Ma se uittog te stop en by die wit tafeltjie en Red Bull te bly.    


Hy staan op, verbyster oor die skielike wending wanneer Pink sonder meer deur haar pa opgeraap en al skoppend deur die glasdeure weggedra word.  Al sy fut is daarmee heen; hy lyk beteuterd en glad nie meer skeppend nie.  Hy is nou net ‘n onthutste peuter wat betrap is deur een van die lewe se bekendste truuks.  Liefde wat so skielik kom, en net so vining weer verdwyn.


Hy loop ‘n paar maal om die tafel wat skynbaar nou oninteressant en kleurloos lyk en skop aggressief na die geel stoeltjie waar sy nou net nog gesit het.  Hy kyk verleë om hom rond.  Sy pa is darem uiteindelik voor in die ry by die toonbank.  Red Bull sleep-voet stadig deur toe; tuur deur die glas om te sien waar Pink heen verdwyn het.


Sy enigste raad is om dan nou maar die tafeltjie waar hy nie rerig meer wil wees nie, te orden soos hy dit gekry het voor hy en die pienk dogtertjie daar gespeel het.  Hy pak die kryte bedruk terug in die kartonnetjie, stapel die papiere netjies op mekaar, en slenter energieloos terug na sy pa toe.


...  


Intussen sit ek en wonder hoekom alle verhoudings en huwelikke waar mense in die begin so belangstel in mekaar se kleinste trofees, so vreeslik verkeerd loop en eindig waar hulle niks meer vir mekaar te sê het oor enige iets nie.


Gelukkig is Red Bull nog net vier jaar oud en sal hy weer en weer presies so verlief raak.  


Maar hy sal eendag dalk wonder: het daardie verstommende gevoel van binne af gekom, daardie skielike gelukkigheid en inspirasie, of van buite af, in die gedaante van ‘n pikante pienk pikkie?  


Dis uiteindelik my beurt, net mooi 46 minute later.
 
 

Related Articles:

Cookies help us deliver our services. By using our site, you agree to our use of cookies. Tell me more