On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
Show Background
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Yellow Door

'n Poncho vir Onthou

───   KARIEN JORDAAN 08:18 Wed, 02 May 2012

'n Poncho vir Onthou | News Article

Klere is klere, maar Karien Jordaan het 'n kledingstuk wat sy nooit ooit kan weggooi nie.

Iemand vra my nou die dag wat my gunsteling kledingstuk is. Dit het nie lank geneem om te verklaar dat ‘n nederige poncho die nommer een plek in my kas inneem nie.

My poncho is dié winter 34 jaar oud. Dis van gebreide stof gemaak en vaalbruin. Dit hang tot ver onder my knieë, eindig in honderde wolfraiings en het ‘n ruim kappie wat teen die koudste koud beskerm. My poncho is rekbaar en vou om my lyf soos ‘n kombers. Dis oop aan die kante, maar so ruim dat die oopheid nooit pla nie. Met my poncho sal ek met groot selfvertroue die Andes aandurf. Met of sonder ‘n perd.

My ma het die poncho vir my gekoop. Tydens ‘n besondere koue Kaapse winter. By Stuttafords. “Omdat dit saam met jou baba kan groei,” het my praktiese ma gesê.

Daai hele winter het ek my eersgeborene binne-in my poncho gedra. Die eerste fladdering van haar voëltjielyf in myne het ek gevoel terwyl die poncho nog splinternuut was - nog min stories kon vertel. En vier jaar later, my tweede baba. Nou was die vrou binne-in die poncho ‘n bietjie ouer en ‘n klein bietjie wyser en weer het ek een ysige oggend haar babavlerkies voel vibreer.

Snaaks, ek’s nie regtig so oor ander “ou” goed nie. Wel, miskien tog oor ons (vantevore se) Kimberley-huis wat uit die voor-vorige eeu dateer – met sy fyn afgewerkte staalplafonne en die breë houtplankvloere, of miskien die koperklokkie wat op my klavier staan – die klokkie wat dekades lank gebruik is om ‘n hele familie na die etenstafel te roep. Maar ek gaan my beslis nie tot YouTube wend om te leer “how to make perfect holes in your jeans” nie (ja regtig – dit gaan glo als oor die blou draad wat in die lengte af loop en die wit draad wat in die breedte loop)- net om klere te hê wat “oud” lyk nie.

Die woord “antiek” geld glo net items wat ouer as 100 jaar is – dus weet ek nie of my poncho ooit as antiek geklassifiseer sal word nie – iewers in die toekoms gaan die wol seker begin verweer en sal gate noodwendig ontstaan.

My poncho word aan die einde van elke winter in ‘n plastieksak met motballetjies en ‘n koekie Lux-seep weggepak en ses maande later weer uitgehaal.

My poncho is ‘n onvoltooide boek met 34 episodes. ‘n Dagboek van winters in alle uithoeke van die land. Van hartseer aande en vrolike partytjies, van kuier om ‘n vuur, van sorgvrye wandelings. Daar was selfs ‘n tyd dat my dogters die poncho graag gedra het, en kennis van dié subhoofstukke sal ek natuurlik nooit ten volle dra nie, maar deesdae is dit weer alleen net myne. Ek sal nooit ooit van die poncho ontslae raak nie. Dit sal deel van my klerekas bly tot die dag dat ek sterf. Noem my gerus maar saam met Laurika Rauch, ‘n nostalgie-vraat:

KOM SIT STYF HIER TEEN MY
JOU KOP AGTEROOR
HOOR JY HOE SAG VAL DIE REËN
DIE DAG IS VERBY
NOG 'N WEEK NOG 'N MAAND
WAAR LOOP DIE TYD MET ONS HEEN?
ONTHOU JY HOE VER MOES ONS SKOOL TOE STAP?
EN SOU JY MY FLIEK TOE VRA
DAN MOES ONS JOU TJOR AAN DIE BRAND KRY, EK EN JY
JA, DIT WAS DIE GOEIE OU DAE

MY HELD WAS ELVIS, MY ELVIS
MY 'HEARTBREAK HOTEL'
TOE JY NOG VIR MY MET
'N TIEKIE KON BEL
KOM ONS KLINK 'N ROOI GLASIE WYN
OP ONS SKETE EN PYN
EN GEE ONS OOR AAN DIE NOSTALGIE

DIE KIEKIES IS DOF
DIE ALBUM VOL STOF
KYK ... HIER BAK MA HAAR BESKUIT
DAAR STAMP STEPHANUS VIR MIEN IN DIE DAM
O HOOR JY DIE WIND TEEN DIE RUIT?

DIE KINDERGESIGGIES, DIE STERRE SE LIGGIES
LAAT JOU VAN VOOR AF ONTHOU
OU VRIENDE IS DOOD
DIE KLEINSPAN WORD GROOT
KYK NET WAAR STAAN ONS NOU

DRAAI WEER DAAI 'RAMBLIN' ROSE'-PLAAT
VAN NAT 'THE KING' COLE
EN 'YOUR CHEATIN' HEART'
EN 'HE'LL HAVE TO GO'
KOM ONS RUIL VANDAG SE RUMOER VIR 'N OUTYDSE TOER
EN GEE ONS OOR AAN DIE NOSTALGIE

(Woorde en Musiek – Kalla Bremer / Don Clarke)

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.