Yellow Door
Vriendinne soos Juwele─── ILSE SMALBERGER 14:26 Thu, 03 Dec 2009

Die tyd wat ek met my vriendinne spandeer herlaai my batterye. Ilse Smalberger se al skeep sy hulle af, bly hulle kosbaarder as juwele.
Tyd is kosbaar. Niemand het meer tyd om te mors nie. Tyd is soos water en elektrisiteit; dis 'n beperkte hulpbron wat jy goed moet bestuur as jy die meeste waarde daaruit probeer haal. My dae is vol geprop met werk-, huis-, man- en familieverantwoordelikhede. Saans val ek moeg in die bed en soggens begin ek klaar weer lysies in my kop maak, nog voordat ek behoorlik wakker is. Die tyd wat vir myself oor is, bewaar ek jaloers * soos Bloubaard sy skatte.
Daarom het ek nie tyd vir my vriendinne nie. My hegte vriendskapsbande is beperk, maar kosbaar. Binne my selfsugtige, selfgesentreerde dag-tot-dag bestaan, is my vriendinne daar soos 'n kring van helder ligte wat my omring en wat my pad verlig sodat ek elke dag vorentoe kan beweeg. Dis net jammer ek het nie tyd vir hulle nie.
Daar is die vriendin wat ek min sien, maar wat my elke nou en dan op die ingewing van die oomblik nooi vir koffie. Vir 'n uur gesels ons land en sand en sy laat my onthou dat die lewe 'n avontuur is wat geleef moet word en waarvoor 'n mens nie moet wegkruip nie.
Daar is die vriendin wat gereeld e-posse stuur met snaaksighede en grappies, wat my elke nou en dan nooi vir koffie of wyn en by wie ek gemaklik kan kla oor mans, werk, die lewe en die wêreld. Sy sê self daar staan oor haar gesig geskryf "deel met my". Dus deel ek. En ek voel veerlig as ek klaar met haar gedeel het.
My rooikopvriendin, wat nou in Abu Dhabi woon, is jare ouer as ek en het die wysheid van Salomo. Ons kontak is min en soms verloop daar maande waar daar nie e-posse of SMSe oor en weer gestuur word nie. Dan uit die bloute stuur sy 'n e-pos met soveel omgee en warmte en dan onthou ek weer hoe baie ek haar mis. Sy is my vriendin wat wysheid en lewenservaring deel, luister sonder om te oordeel, deel sonder om te skinder en sy kan vir my sê as ek verkeerd of onredelik is.
Ek het 'n dierbare niggie, wat op 'n plaas in Tweespruit bly. Sy het 'n besige Fisioterapie-praktyk in Ladybrand, maar verras my gereeld met 'n SMS of 'n oproep as sy op pad tussen haar praktyk en huis is. As sy in Bloemfontein kom, loer sy gewoonlik en dan gesels ons familiesake. Sy is vir my 'n belangrike skakel met die verlede. Ons dink aan hoe ons saam haar kleinsus geterg het en konsert vir ooms en tannies gehou het. Saam giggel ons oor die speletjies wat ons uitgedink het en praat ons oor wat ons nog uit die lewe wil hê. Vir haar is daar geen geheime en niks wat gesensor hoef te word nie.
Dan is daar my katvriendin. Ons is albei lief vir diere en daarom eet ons albei nie rooivleis nie. Sy eet ook nie vis of hoender nie, maar ek sal swaar sluk daaraan om vir ewig garnale gebraai in botter, en Thaise hoenderkerrie vaarwel toe te roep. Aanvanklik het ons net katbekommernisse en *vrae gedeel, maar nou gesels ons diep lewensgoed. Sy het 'n nugter, rasionele uitkyk op die lewe. Sy verstaan dat 'n mens so lief kan wees vir 'n kat soos vir 'n mens en dit maak haar baie kosbaar in my boekie.
My beste vriendin is die heel spesiaalste. Sy is ook my sussie. Ek weet dis nie vanselfsprekend dat susters oor die weg kom nie en daarom is ek diep dankbaar dat daar so 'n hegte band tussen ons is. Sy is brutaal eerlik as ons klere koop en raas met my as ek myself onderskat. Ons gaan drink koffie en kruip van die lag as ons terugdink aan vakansies saam met die ouers, ou kêrels en ons eerste eksperimente met klere en grimering. Ons huil saam oor ons ons ma mis, terg my pa dat hy 'n regte "grumpy, old man" raak en gesels oor haar drie kinders, waarvoor ek nie liewer kon wees as dit my eie was nie. In my lewe is sy bloed en water.
Hierdie vriendinne is die pêrels van 'n halssnoer wat ek elke dag dra. Dit is hoekom ek besluit het om my slegtigheid te los en tyd vir elkeen van hulle te maak. Kontak en kommunikasie met elkeen is in my dagboek opgeskryf soos werksafsprake. Dit is neergelê in ink en ek sien uit daarna soos klein vakansies. Die tyd wat ek met my vriendinne spandeer herlaai my batterye sodat ek kans sien vir al die honderd ander goed wat gedoen moet word en waaroor ek nie beheer het nie. En dit maak hulle kosbaarder as juwele.