On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Yellow Door

'n Stryd om oorlewing

───   WILLEMIEN MARAIS 12:00 Tue, 30 Nov 2010

'n Stryd om oorlewing | News Article

Met 'n lang, donker geskiedenis van moord, doodslag en onverklaarbare genetiese afwykings is Willemien Marais straks nie die beste mens om 'n ogie oor jou troeteldiere te hou nie.

Ek het vriende wat ‘n woonstel in Kaapstad besit. In Kloofstraat nogal. Een keer ‘n jaar gaan hulle soontoe en maak of hulle baie kosmopolitaans is. En ek pas hulle mankolieke hond op. Dié is behoorlik antiek – in honde- en in mensjare. Dis maar beter om bo die wind te bly as sy in die omgewing is, want ek vermoed gedeeltes van haar is dalk reeds dood.

Ek het ‘n ernstige probleem met dié pleegsorg, want ek het ‘n baie realistiese vrees dat sy dalk na daai hondemandjie in die lug sal verhuis voordat hulle terug is. My grootste probleem is natuurlik hoe om die slegte nuus oor te dra. Maar ‘n meer praktiese uitdaging is wat om met die stoflike oorskot te doen: Moet ek dit in my tuin begrawe? Moet ek dit in hulle tuin begrawe? Vat mens dit veearts toe? Of kan ek dit aan ‘n Chinese take-away-plek verkoop? Ag, toe, moenie nou jou oë rol nie – waar ‘n rokie trek...

Met een van hulle vorige ekspedisies moes ek juis ‘n vis in hulle tuin begrawe. (Dis nou my vriende, nie die Chinese nie.) Dit was ‘n heel plegtige seremonie: Ek het “Ek sien ‘n nuwe hemel kom” gesing en vir ongeveer vyf sekondes oor my eie sterflikheid gedink. Die grafsteen is ‘n baksteen en dit kom nou heel handig te pas wanneer dit reën en die tuinpaadjie effe modderig is. Stof is jy, en as dit reën, sal jy onder die klip uitspoel...

Intussen drentel Ouma styf-styf in my huis rond en gluur my honde aan. Gelukkig vir haar is die hounds of hell tans ook nie in my goeie boekies nie, want een van hulle het my gebyt. Ja, die hand wat hulle voer. Om jou simpatie te wen, behoort ek die storie nou net hier te stop. Maar die waarheid is dat dit my eie skuld is.

Ek het – vir ongeveer die vyfde keer in ‘n jaar – my sleutels in my huis toegesluit. En vir die tweede keer in ‘n jaar moes ek ‘n buurman vra om my te help om met ‘n visstok my sleutels uit my huis te vis. Give that man a Bell’s! Nog erger is dat hierdie voorval plaasgevind het binne twee weke nadat ek alle sleutels wat ek besit in my kantoor toegesluit het. ‘n Mens wil nie sommer oorreageer nie, maar ek dink ek mag dalk ‘n probleem hê. Een waarvoor daar nie pille is nie. In elk geval, die opwinding was vir my arme klein Harley te veel en sy het my per ongeluk gebyt. Nie dat ek weet hoe so iets per ongeluk kan gebeur nie.

Soos altyd maak dit meer sin wanneer ‘n mens na die groter prentjie kyk. So, vir sielkundiges, psigiaters en FBI profilers daar buite wat hiervan ‘n gevallestudie wil maak, sal die volgende agtergrondinligting belangrik wees: Ek is geneties verwant aan iemand wat al twee keer deur my ouerhuis se plafon geval het. En ons praat nie hier van ‘n voorstedelike meenthuisie nie; nee, dis ‘n plaashuis wat meer as 60 jaar gelede gebou is. Jy val ver. Hierdie bloedverwante van my het ook al twee keer amper ‘n huis afgebrand. Wel, een keer het ons een tot op die grond afgebrand; die ander keer net ‘n vertrek en verskeie gordyne.

Ons skryf karre af, ry troeteldiere dood, laat goed ontplof, skiet mekaar raak en my broer het self een keer per ongeluk ‘n reuse-daggaplant op sy balkon gekweek. Met my ouers se medewete, want hulle was nuuskierig. En dis nie dat ons nie van mekaar hou nie; ons is om die waarheid te sê nogal erg oor mekaar. En ook erg dankbaar dat ons tot dusver nog hier is om hierdie ietwat ongeloofwaardige stories te vertel.

Dis egter alles die reine waarheid; al waaroor ek gejok het, was die stukkie oor “Ek sien ‘n nuwe hemel kom”. Maar dis nog nie te laat nie – daai twee kom eers oor twee weke van die Kaap af terug.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.