On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Yellow Door

Ilne Fourie deur die sleutelgat

───   20:40 Thu, 12 Sep 2013

Ilne Fourie, bekende Bloemfonteinse aktrise, dramaturg en regisseur en wenner van vanjaar se Vryfees-prys vir die beste Vrystaatse kunstenaar in toneel.

 
 
Watter sintuig speel die grootste rol in jou lewe
 
My sig. Omdat ek so lief is vir skryf is ek ‘n baie fyn waarnemer, ek is versot op mense, om hulle dop te hou, om te sien hoe hulle optree in hul verskillende omgewings – van kleuters wat tantrums gooi oor sweets of speelgoed in ‘n Pick & Pay tot ‘n karwag wat ‘n ou tannie se pakkies dra. Ek kom van die Karoo – daar lê ‘n ander tipe mooi in dit wat jy rondom jou sien – as die son by ons sak kyk jy tot binne in sy slaapkamer, jy sien hom totdat hy sy kop agter die laaste bergkoppie indruk, jy sien mense soos mense mekaar nog moet sien. Met deernis.

Beste kinderherinnering
 
My grootword-jare saam met my sussie. Sy is ‘n volle 7 jaar jonger as ek, my ander helfte en my beste vriendin. Ons kon vir ure onsself vermaak deur te speel, Barbie-huise te bou, Kook-en-Geniet programme aan te bied, konsert en modeparades te hou. Ek sal nooit vergeet nie – sy was skaars 4 jaar oud toe speel ons skool-skool, natuurlik was ek die juffrou en sy moes vir my wiskunde-somme doen en voorlees uit een van my Afrikaanse boeke...Sy het net daar gesit met ‘n “ek-het-nie-‘n-cooking-clue-waarvan-jy-nou-praat-nie” look op haar gesig en alles verkeerd gedoen. Ek het haar pak gegee met die liniaal en haar gesig vol swart kolle geplak en haar in die hoekie laat staan. My ma het in die kamer ingestap en op die ou einde van die dag was ek die een wat opgeëindig het met ‘n pakslae met daardie einste linaal! Tot vandag toe glo ek vas dit was danksy my dat Nanri ‘n absolute slimkop is! Sy het die A-simbole laat spat toe sy op hoërskool was en het veel beter as ek gedoen in haar akademie.

Death row-maaltyd
 
Donker sjokolade en whiskey. Ja, ek weet dit is glad nie ‘n maaltyd nie, maar glo my, van daardie twee kan ek verseker een maak!

Jou grootste tekortkoming
 
Geduld. Aijaijaijaijai...Ek dink toe die liewe Vader daardie eienskap uitgedeel het, het ek nie eers die ry gekry nie. Ek het ‘n vreeslike kort humeur en my geduld het iewers verlore geraak tussen lang rye, onbekwame kassiere en al die padstoppe in die Oos-Kaap.


Kosbaarste besitting
 
Ons familie-foto's. Omdat ek die oudste is het my pa my as baba gesleep na al wat ‘n fotograaf is en enige iets wat moontlik ‘n frilletjie of ‘n valletjie het oor my kop getrek en my laat afneem. Ons het ‘n magdom foto's, vakansiefoto's babafoto's, my ma-hulle se troufoto's, hulle studente-foto's en as jong verliefdes...My pa is oorlede toe ek 15 jaar oud was, en tot vandag toe is die foto's van my as klein dogtertjie saam met hom een van my kosbaarste besittings. Ek het dit ‘n instelling gemaak – oral waar ek kom, met feeste, saam met vriende, tydens produksies, saam met familie of as gesin word daar altyd ‘n foto geneem. Herinneringe is iets wat gekoester moet word en ‘n kiekie is die spieël van liefde en geluk.

Wat verveel jou
 
Mense wat die heel tyd oor hulself praat en spog met hul prestasies, ”name-dropping” en titels soos Mevrou Dokter-Dominee-Voorsitter-van-die-Stadsraad, praatjies oor geld en beleggings, jong verliefdes se gekoer, pasgetroudes se troualbums (die rok en die bruid lyk vir my op AL 600 foto's dieselfde) , foto's en slide-shows van mense se oorsese-vakansies – om te sit en te oe en te aah oor ‘n blikkie coke wat R80,95 gekos het laat my lang gape gaap, jong mammas met hulle eerste baba...ons almal het tande gewissel en brabbeltaal gepraat op daardie ouderdom en dit is glad nie cute as jou sweetie pie sy glasie Oros op my handsak uitgooi nie.

Trotsste oomblik in jou lewe
 
My SPAT (Sanlam Prys vir Afrikaanse Teater)-toekenning in 2008 en hierdie jaar se Vryfees-toekenning as Beste Vrystaatse Kunstenaar. Dit gaan nie oor die toekennings nie, maar die besef dat iemand jou harde werk raaksien, jou kuns en talent waardeer en daarvoor dankie sê.
 
Die dag toe my sussie gekies is as hoofmeisie, dit is iets wat ek vreeslik graag wou word, maar nooit het nie – my hart wou bars toe sy op daardie verhoog stap om haar balkie te gaan haal.

Noem een ondeug
 
Selfsug en ego. Hierdie twee loop hand aan hand en is vernietigend. Sodra selfsug oorneem word die ego gevoed en skielik sonder om dit te besef, in ‘n oogwink, bly daar nie meer veel van die mens se mooi, hart en siel oor nie.

Wat maak jou bang
 
Vliegtuie, SAL-express aka die muskiet met sy baie klein windpomp-waaiers wat hulle vlerke noem, spinnekoppe, slange, die aand voor ‘n opening van ‘n vertoning, elke halfuur voor ‘n vertoning – daardie absolute vrees wat jy wonder of jy al jou woorde ken en jy jouself mal maak deur te hoop dat die gehoor van die toneelstuk gaan hou en dat jou werk suksesvol gaan wees, die toekoms, die onsekerheid van of daar volgende jaar werk gaan wees? Waar gaan ek inspirasie kry om ‘n nuwe toneelstuk te skryf? Gaan ek weer iets kan skryf wat mense se harte sal aanraak? Gaan die feeste my werk aanvaar sodat ek vir die volgende maand ‘n salaris kan verdien? Gaan iemand my gebruik of cast in ‘n toneelstuk?
 
Maar die meeste van als – my vrees vir die dood of dat ek ooit een van geliefdes moet verloor. Ek het al te veel kere gesien hoe ongenaakbaar die dood is, dit is selfsugtig en vat sonder om te verduidelik. Nog elke keer kon ek nie ordentlik groet of koebaai sê nie en die wete dat so iets weer kan gebeur maak my bang. Maar ek vat elke dag net 5 minute om bietjie bang te wees oor alles wat my bang maak..., want as ‘n mens alles sou neerpen wat die hart vrees sou jy nooit jou neus by jou voordeur uitgesteek het om te kan lewe nie.

In watter land, buiten SA sou jy graag wou woon en hoekom
 
Griekeland (dit is nou te sê as ek die 16 uur lange vlug sou oorleef en nie halfpad met ‘n valskerm uitgespring het nie!) Groot families en gesinne waar almal gelyktydig gesels en praat, tafels wat oorlaai is met brode, salami en olywe, ‘n paartie waar almal borde stukkend gooi en dit nie beskou word as huismoles nie, die pragtige omgewing en argitektuur....verseker Griekeland! En ek het iewers gelees/gehoor die Griekse mans hou van groot vroue...wel, in daardie geval is my vliegkaartjie gebook! want op die stadium dink ek nie ek sal gou tot trou kom nie...tensy ek miskien volgende jaar inskryf vir Boer soek ‘n vrou...en ek met ‘n voortrekkerkappie en ‘n voorskoot gaan nooit gebeur nie!

More from Yellow Door

You May be Interested in

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.