On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Gasa op rand van ‘katastrofiese hongersnood’

───   14:06 Mon, 28 Jul 2025

Gasa op rand van ‘katastrofiese hongersnood’ | News Article
Hierdie krisis is volkome voorkombaar, sê die WGO in ’n verklaring. Foto: Unicef

Ondanks Israel se onlangse aankondiging van daaglikse humanitêre onderbrekings waarsku agentskappe van die VN teen “katastrofiese toestande”, wat lei tot ’n hongersnoodkrisis in Gasa met ongekende wanvoeding en sterftes, veral onder kinders.

In aanloop tot die Palestynse Konferensie in New York Maandag (28/7) dring die Verenigde Nasies (VN) aan op wêreldwye optrede om Israel se besetting te beëindig, Gasa se vernietiging te stop en ’n tweestaatoplossing na te streef.

Van die 74 wanvoeding-verwante sterftes wat vanjaar in Gasa aangeteken is, is 63 in Julie aangemeld, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). Dit sluit 24 kinders onder vyf, een kind ouer as vyf en 38 volwassenes in – die meeste is dood met hul aankoms by mediese fasiliteite of kort daarna, met liggame wat duidelike tekens van ernstige uittering toon.

“Hierdie krisis is volkome voorkombaar,” sê die WGO in ’n verklaring en wys op “opsetlike blokkering en vertraging van hulp” as die hoofoorsaak van die groeiende dodetal. Die kinders word die swaarste getref, sê die VN in ’n verklaring. 

In die eerste twee weke van Julie is meer as 5 000 kinders onder vyf behandel vir wanvoeding, 18% van hulle met erge akute wanvoeding – die lewensgevaarlikste vorm. In Junie is meer as 6 500 kinders opgeneem vir behandeling – die hoogste getal sedert Oktober 2023. 

Hospitale is oorweldig, met slegs vier gespesialiseerde behandelingsentrums in die hele Gasa-strook wat na verwagting in Augustus sonder brandstof en voorraad sal wees. “Die gesondheidstelsel is op die rand van ineenstorting,” waarsku die WGO en sê dat meer as 40% van swanger en borsvoedende vroue nou ernstig wangevoed is.

Toegang tot skoon water en sanitasie versleg steeds, wat siektes en ’n bose kringloop van lyding veroorsaak. Die krisis word nie net gemeet aan hongersnood nie, maar ook aan die desperate soektog na kos. Sedert einde Mei is meer as 1 060 mense dood en meer as 7 200 beseer tydens pogings om hulp te bekom – dikwels onder gevaarlike en chaotiese toestande. 

Teen hierdie agtergrond verwelkom die VN Israel se onlangse belofte om daaglikse humanitêre onderbrekings in militêre operasies te implementeer om die toevloei van noodvoorraad te vergemaklik. 

“Ons verwelkom die aankondiging van humanitêre onderbrekings in Gasa om ons hulp deur te kry,” sê Tom Fletcher, VN-noodlenigingskoördineerder, op X. “Dit is vordering, maar massiewe hoeveelhede hulp is nodig om hongersnood en ’n gesondheidskrisis af te weer.”

Fletcher noem dat meer as 100 vragmotors Sondag deur is, met tekens dat bewegingbeperkings effens verslap het, maar hy beklemtoon die noodsaak vir “volgehoue aksie, en vinnig” – insluitend vinniger klarings by grensposte en ’n konsekwente toevloei van noodvoorraad.

“Die wêreld roep vir hierdie lewensreddende hulp om deur te kom,” sê hy. “Ons sal nie ophou werk daarvoor nie.”

Unicef beskryf ook die onderbreking as ’n “geleentheid om hierdie katastrofe te begin omkeer”, maar benadruk dat “een uit elke drie mense vir dae nie geëet het nie en 80% van alle aangemelde sterftes weens hongersnood, kinders is.”

Intussen doen die VN se Hoë Kommissaris vir Menseregte, Volker Türk, ’n dringende beroep op lande voor Maandag se Palestynse Konferensie in New York, dat hulle wat versuim om hul invloed aan te wend, “medepligtig aan internasionale misdaad” mag wees.

“Die mense van die wêreld sal hierdie konferensie beoordeel op wat dit lewer,” sê hy en beskryf Gasa as ’n “distopiese landskap van dodelike aanvalle en totale verwoesting”. 

Weens massa-lyding onder burgerlikes, hongersnood en meer as 200 000 aangemelde ongevalle, word ’n permanente wapenstilstand, volle humanitêre toegang en verantwoordbaarheid as ’n wêreldwye noodsaaklikheid vereis. 

Hy doen verder ’n beroep op die vrylating van gyselaars en ’n massiewe hupstoot in humanitêre hulp.

Die WGO beam dié oproep: “Hierdie noodvoorraad moet konsekwent en ongehinderd invloei.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.