Central SA
Welkom vereer plaaslike held─── 13:41 Tue, 05 Mar 2019

’n Plaaslike held en taxi-bestuurder van Welkom, Johannes Leboleneng, is vandag vereer nadat hy ‘n ontvoerde laerskoolseun op Vrydag 22 Februarie te hulp gesnel het.
Volgens die Facebookblad, Welkom City/Stad, het Gold FM Dinsdag aan hom ‘n sertifikaat van waardering oorhandig.
Jacques Nel, ‘n graad 6-seun van die Laerskool Naudeville, het dié Vrydagmiddag in die woonbuurt Bedelia gaan draf toe hy deur twee mans in 'n swart Kia-paneelwa gegooi en ontvoer is. Hy is geblinddoek, sy mond is toegeplak en hy is ook teen die kop geklap.
Hy het homself in die nywerheidsgebied losgewikkel, die deur oopgeskop en weggehardloop. Leboleneng het gesien wat gebeur het en hom te hulp gesnel.
Hy het hom gehelp om sy ouma te bel en hom tot by 'n Sasol-vulstasie in die stad geneem waar sy ouma en pa hom kom haal het. Jacques se pa vermoed dat die ontvoerders zama-zamas was. Jacques is Leboleneng ewig dankbaar en sê hy sal nooit weer alleen gaan draf nie.
Jacques het nie ernstige beserings opgedoen nie. Hy was net erg getraumatiseer en is daarvoor behandel.
OFM-nuus