On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

News Talk

Pas jou honne-kinners op

───   12:34 Tue, 31 May 2016

Pas jou honne-kinners op | News Article
Gallo Images

Dit laat ‘n mens yskoud. Paniekbevange, met trane wat vlak lê. Dít is die gevoel wat jou beetpak wanneer jou honne-kinders wegraak. Waar begin jy soek? Talle vrae duik by jou op. Hoe kon dit gebeur? Daar is selfs enkele verwyte.


Dit was ‘n Vrydagaand – die drie viervoetiges het verwytend na hul mense-ouers gegluur toe hulle in hul motor klim om die pad te vat. Hul ore het gehang; pure teleurstelling duidelik op hul gevrete sigbaar. Die vetste mopsie (puggie) draai haar kop weg, so asof sy haar ouers nou finaal afgeskryf het, want “hoe durf julle ry sonder om my saam te neem”. Haar jonger sussie, vaak en verstrooid, met tongetjie wat effens uithang, en boetie, ‘n swart brak, sy pa se soetste pavement special, wil nie alleen by die huis bly nie. 

Die motor ry stadig agteruit nadat die groot wit elektroniese motorhek oopgemaak het. Die drie se ma was later oortuig daarvan dat al haar “kuikens” veilig in hul nes was - hulle het dan op die gras gesit toe die motorhek weer stadig toegemaak het.

By hul terugkoms later die aand, begroet die vetste mopsie hulle alleen. Haar sussie en boetie is nêrens te vinde nie. Die huis word deeglik deursoek - sonder enige geluk. Bekommerde ouers loop nou om die blok en roep half fluisterend na boetie en sussie, want die bure moet nie so laat in die aand gesteur word nie. 

Hulle het spoorloos verdwyn. Dit is amper middernag. Die vette varkie (mopsie) lyk ook bekommerd oor haar boetie en sussie. Hulle is immers drie genote.  Moedeloos wend die honne-kinders se mamma haar half skepties na sosiale media. En sowaar, op die buurt se WhatsApp-groep verskyn die allerfraaiste foto van boetie en sussie, wat elk in twee mensekinders se arms pronk. Sussie mopsie se tong hang behoorlik uit van die moegheid. “Verlore”, lui die boodskap. 

Die verligte ouers skroom nie om die nommer te bel nie. ‘n Dankbare honne-pa praat met ‘n ouer Engelssprekende vrou oor die foon. Na ‘n lang verduideliking vind hy uit dat sy kinders nie by die vrou se huis is nie, maar wel by haar buurvrou. Dié het haar gevra om die foto met haar kinders en die verlore honde op die WhatsApp-groep te plaas. 



Groot is die vreugde toe die twee weglopers se pa toevallig die weldoeners ken. Hy stap toe sommer na die nabygeleë huis, want die viervoetiges moet vanaand almal in hul eie huis slaap. Later kom honne-ma en -pa tot die slotsom dat hul “stoute” kinders by die motorhek, wat stadig toegemaak het, uitgeglip het. Dit is toe net daarna dat die weldoener en haar twee kinders vir boetie en sussie in die straat naby hul huis opgemerk het. Die weldoener vertel later die twee honde het heel ingenome in hul motor geklim. Volgens haar is sussie glad nie street wise nie. Dié fraaie pofgesiggie het haar net by haar boetie geskaar. Die weldoeners se kinders het die twee weglopers behoorlik bederf en sommer herdoop. 

Die les hieruit – maak seker jou honde kan nie wegloop nie. Sit bandjies om hul nekke met jou kontakbesonderhede indien hulle sou wegraak. Daar is verskeie platforms op sosiale media beskikbaar waar verlore troeteldiere aangemeld kan word. Moet ook nie die Dierebeskermingsvereniging (DBV) vergeet nie. 

Baie keer kom verlore diere weer by hul eienaars uit, soos in die Bezuidenhouts van Bloemfontein se geval. Dié gesin se jong Doberman-reun, wat onder ‘n motor beland het en deur weldoeners gered is, het ná die drama weer sy plek in hul lewens ingeneem. Bruno het in stortreën voor ‘n motor ingehardloop en is sowat 50 meter ver gesleep voordat die bestuurder van die motor daarvan bewus geword het dat iets nie pluis is nie. 

Mandie du Plessis en haar ma Annelie met Bruno.

ER24 se takbestuurder in Bloemfontein, Lucas Bezuidenhout, en Wimpie Geyer van AfriForum se Sektor 4-buurtwag, het die beseerde hond onder die motor uitgehaal en na die plaaslike DBV geneem.

Bruno het meestal snywonde opgedoen en is behandel. Die hond se eienaars het eers die volgende oggend agtergekom hy is weg. Annelie du Plessis vertel sy het die middag vantevore tyd saam met haar vierjarige reun deurgebring. Hy het ook sy kos gekry voordat die gesin dié aand ‘n Pinkster-kerkdiens bygewoon het. Hulle het met hul terugkeer gedink Bruno is veilig in sy hok. 

Die Du Plessis was baie bekommerd oor hul liewe Bruno en  het oral na hom gesoek. Die polisie is selfs ontbied en later is die DBV gebel. Die verligting was groot toe hulle die volgende dag met Bruno herenig is.  

Die trane het gevloei. Bezuidenhout se dogter, Mandie, was aanvanklik skepties toe die DBV bevestig het dat hulle ‘n verlore swart Doberman-reun ingeneem het. Du Plessis sê met die eerste oogopslag het hulle geweet dit is hulle Bruno. Sy’t aan hom gesê, “hello ou Bruno’tjie,” en hy het net na haar gekyk. Du Plessis sê sy praat baie met Bruno, wat dan ewe gehoorsaam haar bevele uitvoer. Toe Bruno dadelik gereageer het op haar bevel om te sit, het sy geweet dit is haar hond.

Die Du Plessis-gesin is dankbaar dat Bruno veilig tuis is, maar weet steeds nie hoe hy uit hul erf gekom het nie. Hulle het aanvanklik vermoed hy is gesteel, daarom het Bezuidenhout die polisie ontbied. Geen hek in die erf het oopgestaan nie en Bruno het nooit vantevore oor hul heining gespring nie, het sy vertel. 

Besoek Missing Animals Bloemfontein, Huistoe en New Beginnings se Facebook-bladsye as jou troeteldier soek raak.  



Die mopsie-sussies en hul boetie.
Die mopsie-sussies en hul boetie.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.