On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Yellow Door

Toep jou lewe

───   ELSABE PEPLER 06:00 Mon, 04 Mar 2013

Toep jou lewe | News Article

Elsabe Pepler wonder wat verkeerd is met die mensdom dat ons gevangenes van tegnologie, en veral selfone, geword het.

In an age of constant live connections, the central question of self-examination is drifting from “Who are you?” towards “What are you doing?”. If we are to thrive, we need to keep some sense of ourselves separate from this constant capacity to broadcast. We need other qualities of time (Chatfield, 2012).

Ek wonder: wat het gebeur dat ons ons lewens so gewillig begin oorhandig het aan tegnologie, aan toestelletjies wat beswaarlik jou handpalm vol maak? Dikwels vir die mees instinktiewe en oer-oue menslike funksies. Ek verlang na lang gesprekke met geliefdes, vriende en familie wat gesig-tot-gesig die beste ding was, met hope nie-verbale seine, soos oogkontak en aanraking en stem wat die grootste gedeelte van die boodskap dra. Nou tik ons die minste karakters moontlik op ‘n foontjie met ons duime in om diep emosies en gedagtes oor afstand te dra. Quora bereken dat meer as 200 000 teksboodskappe per sekonde gestuur word. (Ek vind dit so vreeslik hartseer.)

Nuwe terme is nodig vir nuwe verskynsels. Partykeer wil van dit nie lekker sit in my mond of my kop nie. Maar siende dat ek self nie met iets beters kan opkom nie, moet ek seker daarby volstaan.

So hoor ek op radio van ‘n toep. (Ja, ek luister nog radio.) ‘n Toep staan vir ‘n toepassing. Dis die Afrikaanse woordskepping vir ‘n app of applications op selfone. Enkelvoud toep, meervoud toeps. Vreemd. Maar nog nie naastenby so vreemd soos die funksies en ambisies van sekere toeps of applications nie.

Vertel ‘n langbeen, blou-oog-blonde drama-student een Saterdagaand onder my dak dat sy hierdie wonderlike app/toep op haar iPhone geïnstalleer het wat haar lewe net soveel beter en makliker maak. Die toep, lag sy jubelend, lig haar volledig in oor haar “period cycle”, sodat sy haar dae beter kan beplan. (Ek het ‘n oomblik geglo dat ek hallusineer of psigoties is. Of dalk net nie reg gehoor het nie.)

In my jongmeisie-dae het ons nie eers met mekaar gepraat oor siklusse en die moontlikheid van swanger word nie en periodes (behalwe jou klas-periodes) nie. Jy het maar stil in jou Calvinistiese binnekamer met skuld en gevolge gewroeg as jy beheer verloor en met die lus al op die smalle weg onderhandel het. (Ek wend my tot Google om seker te maak dat ek reg gehoor het, en my verwarring neem toe.)

Daar is dosyne van die toep/app: sommige vir meisies en vroue, soos Feminina, PMS Buddy, PMS Meter. Ander is ontwerp vir die manne, soos My Girl of Code Red. IamAMan is bedoel vir die verkul-meneer wat met verskeie vroue se gevaarsones gelyktydig moet rekening hou. Wanneer dit byvoorbeeld pms-tyd word, kry hulle ‘n rooi ikoon: ‘n sy-duiweltjie met horings. Die apps word bemark as “saving relationships, one month at a time”. PMS Buddy kommunikeer met sy “Bud” by wyse van klankeffekte, soos humeurige uitbarstings van die vrou in sy lewe. Skynbaar is hierdie periode-toeps uiters suksesvol, en van die beste verkopers op die mark teen twintig dollar. Mans meen dit is ‘n absolute winskopie. (Ek grim verontwaardig oor dié patriargale meerderwaardigheid en wat hulle alles vir mekaar hieroor vertel.)

Een van die oudste funksies van menswees, dié van geboorte, word ook nou met hoë tegnologie bestuur. As jou datum vir die bevalling nader kom, kry jy Contraction Master (let weer op die manlike vnw!) vir ‘n paar dollars. Die app sal noukeurig tyd hou van jou kontraksies, hoe lank elkeen duur, en wanneer dit tyd word om tassie te pak en aanstaltes te maak hospitaal toe. (Of waarheen jy ook al beplan om te gaan.) Vir eeue en eeue het vrouens hul op instink en vroedvroue beroep. Ek bekommer my: wat is verkeerd met ons dat ons gevangenes van tegnologie, en veral selfone, geword het?

So weet ons tog almal van daardie warm opgewonde lyfie, nat neus, sagte poot van ons troeteldier. Mens hoef net bietjie te Youtube om te sien hoe lief mense hulle diertjies het. Dit gee sin en soveel doel aan ons lewens wanneer ons hulle liefie, versorg, voed, vertroetel.

So het ek geglo. Maar nie te lank gelede nie, lig my oudste my een aand in dat sy nou moet ophou praat op die foon, want sy wil met haar katjie speel. Askies? WAT? Wanneer het sy ‘n kat gekry? Sy weet ons is almal allergies vir katte? Wie gaan na die dingetjie kyk terwyl sy werk en uitgaan? (Ek slaan in koue sweet uit, nou nog, as ek dink aan die turkoois Tamagotchi wat ek 24 uur per dag vir meer as ‘n week, omtrent dertien jaar gelede, aan die lewe moes hou toe sy op ‘n skooltoer was.)

O nee, lag sy. Dis nie ‘n regte katjie nie! Dis die TalkingGinger op haar nuwe iPhone. Dis die heel oulikste katjie. Hy (of sy) gesels met jou in jou eie taal; in Afrikaans. Sy, lid van die Y-Generasie, meen ‘n kat-app is meer vermaaklik as ‘n regte kat, vra baie min aandag en regte kos, en niks skoonmaak nie. En anders as ‘n regte katjie, hou die app-enetjie verskriklik baie van bad en hoef jy nie met hom of haar daaroor te stoei nie.

Ek wou sien. Waaragtig herhaal hy/sy elke woord in vlot, aksentlose en welluidende Afrikaans. Jy moet hom/haar voer en sy/haar tande borsel – dis ‘n higiëniese katjie. As die tandepasta op is, moet jy nuwes koop voor jy verder kan gaan in die speletjie. (Soos in rêrig.)

‘n Kennis vertel nou die dag dat sy (weer) op dieet is. Dié keer gaan dit werk – want sy het nou ‘n wonderlike app/toep. Dié waarsku haar wanneer sy te veel geëet het, hoeveel verder/flinker sy aanstons moet stap, sodat die inname en uitset presies balanseer. Die verstommendste is dat sy wel klomp kilogramme afgeskud het. (Nog ‘n verontwaardigde grim op my gesig.)

Ek het self ‘n gawe app. Baie streng en wetlike app, die ene. Toe ek onlangs sukkel om ‘n plek te kry en vir kind opdrag gee om vir Waze te vra hoe ons nou moet ry, is die eerste ding wat die app vir haar aggressief terug-vra: “Moet net nie vir my sê jy bestuur terwyl jy my hierdie vraag vra nie. Sê asseblief vir my dat jy in ‘n passasier is voor ek jou help”. Toe Waze tevrede was dat dit nie die bestuurder van die motor is wat vra nie, het hy uitstekende instruksies gegee. Ek het intussen by ‘n tuinman gestop en geskree-vra waar is die plek. En hy het my baie goed beduie. Draai eers om, dan draai jy links by die hoek, dan tot doer onder by die robot; draai daar regs by die PicknPay, en net as jy by Kampsbaai uitry, sal jy dit sien. (Hy sal hom seker doodlag vir Waze.)

‘n Vreemde toep, Virtual Pie of Pie in the Face. Kiek iemand (met jou foon) van wie jy nie hou nie, of wat jy net so klein bietjie wil verkleineer. Tik die skerm om daai paai na die foto-gesig te gooi. Stuur ‘n epos van die “pied face” vir almal. Daar is ook Facemelter, waarmee jy selfs mooi vriende se gesigte grotesk kan verwring dat hulle onherkenbaar lelik is. Wraak sonder enige nare gevolge. (Ek voel in versoeking.)

Dié ene is vreesaanjaend. Soek jy na die ideale stress-verligter om te cope met druk van vandag se vinnige wêreld? vra hierdie toep begrypend. Soek nie verder nie as IVoodoo. Druk eenvoudig voodoo-naalde in ‘n foto van ‘n ander person met ‘n verskeidenheid van sewe emosies (van positief tot aaklige pyn) en jy is ontslae van jou ongevraagde gevoelens en projeksies op die ander. (Daar is ‘n paar boelies wat ek sal wil bykom met naalde, jip.)

Apple het in 2009 in ‘n storm van kritiek beland nadat hulle app, Babyshaker, vrygestel was. Dit was ‘n speletjie wat ‘n drukbare babatjie gewys het. Die punt was om die iPhone te skud tot rooi X’e die skattebol/terroris se ogies vervang het. ‘n Stophorlosie het tyd gehou van hoe vinnig jy die baba doodgeskud het. Apple was deur die Nasionale Sentrum vir “Shaken Baby Syndrome” geforseer om die app te onttrek. (Ek sou so dink.)

Meer primitief kan die toep nie. As jy dalk oorsee in ‘n wedloop met Moeder Natuur beland, kan jy SitOrSquat, When Nature Calls of Where’s the Bathroom op jou foon installeer, gratis en vinnig. Dit help jou selfs om die mees onhigiëniese fasiliteite te vermy. (Hemel alleen weet hoe een toep dit alles kan weet.)

En moenie stry nie: jy, soos alle ander, vrek om bubble wrap te pop. Laai dié app af, en pop die borrels tweedehands, sonder die werklike sensasie van jou vingerpunte, enige tyd en plek op jou foon. (Jammer, ek soek die ware gevoel en geluid.)

Dan is daar Siri. Siri is die vroue-stem op die iPhone, ‘n gemene, straatwys nommer. Jy vra haar nie sommer vas nie. “Siri”, vra ons, “wat is die betekenis van die lewe?” ‘n Paar sekondes stilte. Toe antwoord sy: “Ek weet nie. Eintlik het ek self ook al daaroor gewonder.” (Geitjie. Vra vir Siri ‘n knock-knock grap, en sy laat jou soos ‘n opperste gek voel.)

Slotsom. Dit voel vir my of ons ons mees basiese, natuurlike ritmes, instink en intuïsie, reflekse, vermoedens en emosies nou op algoritmiese programmetjies en skermpies projekteer en deurleef. En dan steeds – al is ons gekroek – beter voel oor wat ons daaruit kry. Is ons nie besig om ont-mens te raak nie? Is die media, tegnologie en moontlike effekte nie waarteen Neil Postman (Amusing ourselves to death, 1985), Aldous Huxley (A brave new world, 1982), Orwell (1984, 1949), Marshall McLuhan (The medium is the massage, 1964) en Einstein ons gewaarsku het nie? Is dit regtig waaroor menswees handel: dat ons media verlengstukke van ons moet wees? En MOENIE vir my kom sê dat dit gaan oor vraag en aanbod nie; dat omdat mense dit wil hê, dit in orde is nie. (Moenie.)

Dit was presies die vrese van die Frankfurtse Skool se navorsers en akademici. Hulle grootste argumente was onder meer dat klassieke kultuur en media uitgewis sal word deur populêre kultuur, en dat geweld in die media mense toenemend sal desensitiseer. Dat die media ons lewens so sal oorneem dat ons ‘n verwronge kultuur en tweedehandse lewe sal ervaar. Hulle was waarskynlik, al was hulle oningelig oor die toekoms van die media, bevrees dat mense eendag ‘n gemedieerde lewe deur selfone en toepassings sal lewe.

Hoe is dit dan dat ons soveel asemrowende en aaklige menslike avonture en ervarings tweedehands wil beleef en bestuur en nog steeds dink dis die lewe? (Ek hou my hart vas as ek sien hoe ons minder en minder wil en kan dink.)
Ons oorhandig ons siklusse, kalorie-innames, kaart-lees en ons woede/liefde aan ‘n foon. Dalk moet ons ‘n app of ‘n toep ontwikkel wat vir mense kan sê watter apps of toeps benede normale menslike intelligensie, gevoelens en kritiek is.
(En weer kan ek nie help om te wonder wat van ons regte menswees en emosies gaan word nie.)

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.