International
Zelenski in VSA: Weste skepties oor Trump en Poetin se toenadering─── 14:33 Fri, 17 Oct 2025
 
                    
                    
                    
                    
                    
            Die wêreld se oë is op Washington gerig waar pres. Donald Trump Vrydagaand (17/10) om 19:00 met pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne vergader nadat Trump Donderdag tot ’n beraad met Rusland se pres. Wladimir Poetin ingestem het.
Die wêreld hou nou fyn dop hoe hierdie diplomatieke ontwikkelings ontvou, omdat ’n sagter benadering jeëns Poetin direkte implikasies vir Europese veiligheid, Navo se strategie en internasionale wapenhulp kan inhou. Veral Westerse ontleders is skepties oor Rusland se motiewe.
Die tydsberekening is duidelik nie toevallig nie. Die gesprek tussen Trump en Poetin ’n dag voor Zelenski se besoek aan Washington, waartydens hy na verwagting sal aandring op die lewering van Tomahawk-langafstandmissiele aan Oekraïne, wek heelwat vrae.
“Poetin het bang geword omdat Trump belowe het om Tomahawks aan Oekraïne te verskaf, en het toe besluit om voor te gee hy is gereed vir ’n ooreenkoms en kompromie,” het Oleksander Merezjko, ’n senior parlementslid uit Zelenski se party, aan die Kyiv Independent gesê.
Beraad oor twee weke
Trump sal om 19:00 met Zelenski vergader ná die president se twee en ’n half uur lange telefoonoproep Donderdag met Poetin.
Hy het later aan joernaliste gesê hy verwag om binne twee weke in Hongarye met Poetin byeen te kom vir gesprekke oor moontlike vrede, berig die BBC. Hy sê op sy sosialemediaplatform Truth Social hy en die Russiese president het ’n groot deel van die tyd gepraat oor handel tussen Rusland en die VSA wanneer die oorlog met Oekraïne verby is.
“Hooggeplaaste raadgewers” van albei lande sal volgende week by ’n onbekende bestemming vergader. Marco Rubio, die VSA se minister van buitelandse sake. sal aan die hoof staan van die VSA se afvaardiging. Trump onderneem om Zelenski in te lig, en voeg by hy “glo daar is groot vordering gemaak” met die telefoonoproep.
Verhouding gespanne
Die verhouding tussen Trump en Zelenski was in die verlede gespanne, soos geblyk het uit ’n stryery op internasionale televisie in Februarie, gevolg deur ’n versoenende gesprek in Augustus.
Die jongste vergadering, ’n middagete agter geslote deure, word beskou as ’n poging om VSA-steun aan Oekraïne te bevestig, terwyl Trump hom as ’n potensiële vredemaker tussen Moskou en Kijif wil posisioneer.
Intussen bevestig Kremlin-woordvoerders Poetin beskou die beplande beraad met Trump, wat in Boedapest gehou sal word, as ’n geleentheid om “strategiese stabiliteit” te bespreek.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
 
                
 
                             
                             
                             
                             
                             
                     
                     
             
             
            
 
                    