On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Yellow Door

Op die linkeroewer van die Seine in Parys

───   ELSABE PEPLER 09:27 Wed, 17 Apr 2013

Op die linkeroewer van die Seine in Parys | News Article
Nothing revives the past so completely as a smell that was once associated with it (Nabokov).

Blinde en dowe Helen Keller het gesê “reuk is ‘n kragtige towenaar wat jou oor duisende myle en al die jare van jou lewe heen kan swiep”. Sy was reg: die reuksintuig is die een wat binne sekondes wonderlike (of aaklige) tye in jou lewe terugbring, saam met hope ontwykende gedagtes. Maar as jou reukgeheue gesneller word, weet jy wat jy ruik, en waar en wanneer en wie daarmee geassosieer word.

Herinneringe is vasgemaak rondom geure en reuk: kaneel en kerrie, lemoensproei, braaivleis, die lente, sjokoladekoek, skoon wasgoed, babahondjie-asem, die aankomende reën, badseep, wintersop, soet, ryp appels en perskes, leersitplekke, roosterbrood, koffie, slaapwarm babalyfie, gesnyde gras, ‘n biblioteek met ou boeke, materiaalwinkels en lappe, ‘n soutige seebries, vloerpolitoer, varsgebakte brood, waatlemoen op ‘n warm someraand op varsgesnyde gras, braaivleis, rose en jasmyn, vars koekies in die oond, ‘n nuwe boek. Om te gaan fliek, is nooit dieselfde sonder die popcorn-reuk nie. Hoe sal ‘n fliekganger meegevoer raak in ‘n filmteater sonder die reuk van warm, soutige springmielies?




Ek maak onlangs halfhartig huis skoon, en staan uiteindelik in die badkamer met ‘n houer leë parfuumbotteltjies. Die botteltjies self is almal klein kunswerkies. Maar dis as ek die doppies afhaal, dat daar ‘n wolk van assossiasies en herinneringe loskom. Maak nie saak hoe lank terug, of hoe ver van hier af nie.



My hart is seer om hierdie botteltjies in die herwinningsak voor my huis uit te sit. Dis deel van my storie, herinnering-hoofstukke in fraai leë houertjies. Op ‘n houtrak in my huis het ek een kleine ou blikkie met ‘n klompie miniatuur babatoon-skulpies daarin, waarby ek 35 jaar gelede ‘n botteltjie – ek dink dit was ‘n sandelhout-parfuumolie – ingepak het. As ek vandag daardie blikkie oopmaak, onthou ek ‘n duiselige sokkie-aand in Stellenbosch met ‘n wellustige jong lugmagoffisier, wat iewers laat in die aand met my in sy arms oor die strand by Gordonsbaai dans, sonder musiek. Ek kan nie sy naam onthou nie, maar die reuk van daardie verruklike uitasem-aand is helder – ek het die olie op my polse gedra. Maar al is die detail verlore, verplaas die geur my na dekades gelede saam met ‘n vreemdeling op ‘n strand. Ek wonder wat van hom geword het ...

Ek verstom my aan die prys en verskeidenheid van parfuum van modehuise en celebrities, en die advertensies daarvoor. Die eerste parfuum was alreeds 1000vC gemaak, en was net vir die ryk heersersklasse bedoel. Maar vroue het nog altyd die reuksintuig aangewend om mans te beswymel – Cleopatra het roosblare op die vloer gegooi om Marc Antony te verlei.



Parfuum het immers te doen met verleiding, romanse, liefde, seks: só ruik die een wat jy liefhet. Al is my universiteitskêrel nie meer op aarde nie, het ek net die afgelope week weer uit pure sentimentele verlange aan Brut- en Tabac-naskeermiddel in ‘n winkel geruik om iets te probeer teruggryp van jong liefde en idealistiese hoop. Met my afgemete dag-geld deur Europa in my twintigs, het ek dit reggekry om ‘n blou bottel Rive Gauche (nogal van Yes St Laurent) uit Parys vanuit ‘n klein parfuumwinkel op die linkeroewer van die Seine in die rugsak te pak.




My ma het ‘n botteltjie Blue Grass van Elizabeth Arden gehad, en ek onthou hoe ek ure aan die botteltjie se kop geruik het en myself voorgeneem het dat ek eendag baie botteltjies Blue Grass vir myself sal koop. Só wou ek altyd ruik. Ek ruik my ma nog steeds in mý botteltjie Blue Grass



Nou onthou ek ook hoe my oom en tannie vir my verjaardag, toe ek sewentien geword het, ‘n astronomiese tienrand persent gegee het. Ons het in een van die eerste huise in die nuwe voorstad, Universitas, gebly. Daar was nog min strate, die bus het reg voor ons huis gestop, en ek kon veilig by die stadsbiblioteek afklim as negejarige skoolkind. Net om die hoek van ons af was daar ‘n Meditas-inkopiesentrum, met ‘n Nictus – die vroeë weergawe van ‘n Pick en Pay of Spar. Die Universitas-apteek was toe al daar, soos vandag nog, heel aan die regterkant van die sentrum met ‘n rotstuin in die middel. Centrepiece-tuine was hoogmode.

Met die tienrandnoot in my hand het ek uit die huis geglip terwyl oom en tannie nog verjaardagtee gedrink het. Ek het toe reeds baie minute voor die outydse glaskas met die parfuum in die apteek gestaan en so die dowwe glasbottel – eenvoudig genoem Wild Lemon – van Revlon begeer. Om te ruik soos suurlemoen: vars, lenterig, skoon, pure goedheid, onskuld en heilsaamheid. Ek het die bottel met ‘n bonsende hart gekoop en uitasem van blyheid huis toe gehardloop omdat ek soos ‘n suurlemoen gaan ruik.



My fatale romanse met parfuum het dus ‘n lang geskiedenis. Ek onthou ook hoe gek Phillip, my universiteitskerel, oor Gingham van Innoxa was. Vrydagaande het ek my rooi gingham-toeknoophemp aangetrek as ons gaan Pacman speel by die Bloemfontein Hotel, en lang glase Pimms met allerlei vrugte en skille daarin gedrink het, terwyl ek Gingham agter my ore en aan my polse gedra het. Toe was daar nie ‘n internet waar ek Gingham kon Google nie, maar vandag kan ek. En in my soektog kom ek op die volgende (mede)wanhoopskreet op Youtube af. I rest my case oor Gingham en die onvergeetlikheid van die geur:

Why have coty discontinued GINGHAM, it was [essencial], next to the word LOVE in the dictionary. The [arroma] is one you never let go. There are memories with GINGHAM that should not be lost. Anybody out there have a spare can, desperate for the memories, 1970s gang.” (http://www.youtube.com/watch?v=ATuIPBiX5vA)



Ek het Coty se soet Wild Musk-olie vir die meer hartstogtelike sokkie-aande by die universiteit gebere. Dit het die prinslike som van R7 gekos, meer as ‘n maand se sakgeld. Tot vandag toe het ek hierdie liefde-haat-verhouding met parfuum, want as Calvinis bevrug en gebore, het ek ‘n lang geskiedenis van koop-maak-skuld, en begeerte is onbybels. Maar tog het die Wyse Manne vir die Jesus-baba wierook en mirre gebring as teken van hulle toewyding en aanbidding. En Marilyn Monroe het geweet jy het nie nagklere nodig met Chanel Nr 5 nie.



As mens nie regtig so baie geld het nie – soos in die konserwatiewe raamwerk waarbinne ek in die ou Suid-Afrika grootgeword het – het jy dit gewoon uitgegee op luukses soos parfuum nie. Maar ongelukkig is my oorlog teen maniese parfuum-ruik en parfuum-koop uitstappies, die een van scent agter jou ore spuit en aan jou polspunte tik, ‘n lewenslange stryd wat ek steeds gereeld met myself verloor. “Wees tog nou verstandig en bêre daardie hope geld”, klink my spaarsamige ma se stem steeds op in my ore. Tot ek myself opnuut in Stuttafords se parfuum-afdeling verloor en agter my neus aan rondgelei word tussen die geure in kunswerk-bottels.

Die vloed van parfuumgeure, bottels en reklameboodskappe het my al baie laat dink hoe vatbaar ons vir beloftes is. Die beskrywings van die parfuum wat aan ons bemark word, is tog maar ‘n belofte. Clinique het duisende vroue regoor die wereld gevra wat hulle die graagste wil hê of wees. Die antwoord? Happy. Vandag is Happy steeds ‘n topverkoper van die brand.

Thierry Mugler het in 1992 die parfuumwêreld met sy blou (blou!) Angel-parfuum in ‘n sterbottel getref, die eerste met lekkergoedgeure van vanielje, karamel en sjokolade. Die parfuum self was bemark as “emotions of tender childhood memories together with a sense of dreamlike infinity … angelic flavors deep in the heart of our memories … sensual and passionate notes”.

 

En nou onthou ek skielik hoe ‘n ongeskikte Engelsman vir my ‘n anonieme nota op my lessenaar gelos het by die SAUK-TV nuus in Johannesburg, toe ek verslaggewer was. Hy het nie eintlik van my muskusolie-geur gehou nie en gevra ek moet dit ophou dra. (Ek het skelm ‘n druppel of twee onder sy tafel gaan drup.) ‘n Ander keer het ‘n mooie jong manstudent voor my kantoor op die Kovsie-kampus vasgesteek en uitgeroep: “Dis hoe ‘n vrou moet ruik! Wat IS dit?” Dit was Sunflowers, ‘n 20-jaarlange gunsteling van my.

Vandag is daar honderde fassinerende parfuum-webwerwe. Verloor jouself in die beloftes van belewenisse op Frangrantica.com. of gaan speel rond op Frangrance.net en CosmicPerfume.com. Vrouens op die webwerwe is baie verbaal oor die beloftes en geure wat hulle koop, deur ure van eksperimente. En terloops, het jy geweet pampoen, scotch tape en tennisbal is note in sekere parfuum?

So sit ek die letters van die parfuum-beloftes en afrym wat ons ten duurste koop, om iets te hê om voor te hoop en na te verlang, eendag in ‘n later tyd … Gaan koop vir jou ‘n botteltjie belofte – soos Pleasures, of Happy of Delicious – en skep herinneringe, toe!



Apple (Calvin Klein), Arrogant, Amor Amor, Aromatics Elixer, Angel

Beautiful, Beauty, Be Delicious, Baby Doll, Boss Woman, Blue, Blue Grass

Chanel Nr 5, Chance, Cool Water, Candy, CK One Summer

Daisy, Dune, Donna Karan, Dolce Vita (Dior), Dreaming, Dreams of Pink

Eternity, Euphoria, Ecstacy

Fire&Ice, Flora, Femme, Fantasy, Flowerbomb, Fuel for Life (Diesel)

Gucci Guilty, Guess Gold, Green Tea, Gorgeous, Glow

Hermes, Happy, Honey, Hypnotic Poison, Hoity Toity

Issey Miyake, Into the Blue, Intuition, Idylle

JeReviens, Jontue, Juicy Couture, Joy, Joy of Pink

Knowing, Kenzo Amour

Laughter, Love is in the Air, Lolita, Lovely, Lace, Little Black Dress

Miss Dior Cherie, Miracle, Monsoon, Moonshine

Narciso Rodriguez, Nude

Opium, One Shock, Organza, Obsession, Oscar de la Renta, O Lola!, Obsession

Poison, Pleasures, Pink Sugar, Pretty, Princess, Pure Poison, Poem, Paris

Queen of Hearts, Quadrille

Red Door, Rush, Rock and Rose, Rive Gauche (linkeroewer in Parys)

Sunflowers, Safari, Sublime, Sex and the City, Summer Cocktail, Simply (Clinique), So de la Renta, Splendour

Touch of Pink, The One D&G, Tommy Girl, Tresor

Ultraviolet, Unindentified (Kelso)

Viva la Juicy, Very Irresistible, Violet Eyes, Very Valentino, Very Irresistible, Volupte

Woman (Tommy Hilfiger), White Diamonds, White Linen, White musk, Womanity, Wrappings

XOXO, XS Pour Elle

Youth Dew, Yellow Diamonds, Young Sexy Lovely, You and Me

Zen, Zen White





@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.