South Africa
Deurbraak in moord op negende Ekurhuleni-vrou: Drie verdagtes in hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:23 Mon, 21 Sep 2026
Drie verdagtes sal na verwagting Maandag (21/9) in die hof verskyn ná ’n deurbraak in die ondersoek na die moord op die negende vrou in ’n reeks sake in die Oos-Rand.
’n Man en twee vroue is oor die naweek in hegtenis geneem en sal na verwagting vandag in die Boksburgse landdroshof verskyn. Verdere besonderhede oor die saak behoort in die hof bekend gemaak te word, sê brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder.
Die drie verdagtes is deur lede van die Gautengse moord- en roofeenheid in hegtenis geneem. Jabulile Ntimba se liggaam is Donderdag (17/9) in Dawn Park, Boksburg, gevind. Haar moord is die jongste van nege sake wat die polisie ondersoek nadat die liggame van nege vroue sedert Julie in verskeie dele van Ekurhuleni gevind is.
Lt.genl. Tebello Mosikili, adjunk-nasionale polisiekommissaris, het gesê dit is moontlik dat dié saak nie verband hou met die ander nie.
“Ons wys nie enige band met daardie sake af nie, maar in Jabulile Ntimba se geval blyk daar ’n aanduiding te wees van ’n moord wat voortspruit uit ’n verhouding wat as ’n liefdesdriehoek beskryf word. Dit is wat die span tans waarneem. Ons gaan egter nie in hierdie stadium verdere besonderhede bekend maak nie, omdat ons nie die ondersoek wil benadeel nie.”
Busisiwe Mahlangu is eerste gevind. Haar liggaam is op 15 Julie in Kempton Park aangetref. Itumeleng Kekana se liggaam is op 3 Augustus in Kempton Park gekry, en Nomfesane Mjobo s’n op 26 Augustus, ook in Kempton Park.
Op 7 September is die lyk van ’n onbekende vrou wat in ’n rivier by Clayville in Olifantsfontein gedryf het, gevind. Gracious Nkomo is op 10 September in Kempton Park gekry, en Elizabeth Moselakgomo op 12 September.
Die liggaam van ’n sewende vrou, wie se naam nog nie bekend gemaak kan word nie omdat haar familie eers ingelig moet word, is op 14 September in Olifantsfontein aangetref. Dineo Motapane se liggaam is op 15 September in KwaThema gevind. Twee dae later is Ntimba se liggaam in Dawn Park ontdek.
Die polisie het ’n multidissiplinêre taakspan aangestel om die moorde te ondersoek en sê al nege sake ontvang voorkeurbehandeling. Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, sê die polisie bly verbind tot die ondersoeke.
“Ons ondersoekbeamptes volg alle beskikbare leidrade op en werk onverpoosd om diegene wat verantwoordelik is, voor die gereg te bring.” Die polisie het voorheen gesê daar is ooreenkomste tussen sommige van die sake, maar dit is nog nie bevestig dieselfde persoon of persone is vir al nege moorde verantwoordelik nie.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

