Vir die liefde van die saak en vir boeke
ELSABE PEPLER
20:19 Mon, 20 May 2013
Vir die liefde van die saak en vir boeke | News Article
Uiteindelik weet Elsabe Pepler van nog iets wat haar (hierdie jaar) opgewonde en gelukkig maak.
Hoewel ek in die tweede helfte van my lewe is (volgens selfhelpboeke en chronologiese syfers en NIE volgens my eie gevoel nie), beteken dit nie dat ek al weet (of ooit geweet het) wat ek die heel graagste wou doen as ek “eendag groot is” nie. Ek dink dis die vraag waaroor die meeste van ons dikwels wonder: waarvoor was ek gebore; wat is die hooflyn in my storie wat ek gaan nalaat? 

Die ding is, veral in die nuwe millennium: daar is duisende inspirerende dinge om te doen, en as mens meer as een lewe kon hê, sou jy sekerlik verskillende beroepe en passies kies om jou geld mee te verdien. Ek het, toe my kleinste dogtertjie een nag drie-uur ‘n outydse, angswekkende kroepaanval gehad het, vervaard vir my uitgeputte huisdokter gevra of hy weer ‘n dokter sou wees as hy kon kies. Hy het my sonder enige aarseling ingelig dat hy eintlik ‘n diamantduiker wou en moes word.

Daar word beraam dat die moderne Generasie Y-lede tot 14 verskillende beroepe sal beoefen, en dat die ou benadering van veertig jaar vir dieselfde maatskappy werk ten einde met ‘n geraamde sertifikaat en goue pen/koekskepper af te tree, vandag bykans lagwekkend is.

Ek kan bely dat die Liewe Heer vir my genoeg gawes en talente gegee het (waarvan linkerbrein-beroepe of aktiwiteite nooit na vore gekom het nie). Maar dit was nog altyd vir my regterbrein-aard makliker om te fantaseer oor beroepe wat meer opwindend of troostend of gerustellend of winsgewend sou wees – afhangende van die fase van jou lewe waartydens jy fantaseer.

Na ‘n soveelste nuwe draai in my eie storie het ek die afgelope jaar meer betrokke geraak by nie-regeringsinstansies – liefdadigheid, dus. Ek was verslae toe ek uitvind dat daar ongeveer 10 000 of meer van die tipe organisasies in Suid-Afrika is wat almal afhanklik is van skenkings, borgskappe, en donasies om ander mense in die samelewing mee te help. Ek het die laaste jaar of wat ook ‘n verlange begin ervaar wat waarskynlik tipies van die herfserige lewensjare is: om iets te doen wat ‘n verskil maak aan ander se lewens. Maar hoe doen mens dit as jy nog moet werk en ander verpligtinge/lysies ook het?

Kort nadat ons in die mooiste Kaap geland het, het ek die een storie-agtige liefdadigheidsboekwinkel na die volgende ontdek, al op ‘n streep in ‘n sirkel om die berg. Om in hierdie stowwerige winkels te beland, is soos om in die Rabbit Hole of Alice se Wêreld in te val.

Baie van die winkeltjies is in die ouer suburbs – Langstraat en Loopstraat, Groenmarkplein, Woodstock, Mowbray, Wynberg en Muizenberg, Kalkbaai, Seepunt en Simonstad. Daar is ‘n selfs verwese boemelaar wat in Liesbeekparkweg by ‘n kruising staan en tweedehandse boeke verkoop, waaruit hy in die middel van die kruising elke nou en dan demonstratief en dramaties ‘n paar bladsye lees. (Ek vermoed die boeke, soos die Jeffrey Archers en Wilbur Smiths, is dalk gesteel.)

Ek was so betoor deur een van die spotgoedkoop, outydse boekwinkels dat ek myself al twee jaar gelede impulsief as ‘n vrywilliger aangebied het. Hoe, het ek toe nie geweet nie, want die verpligtinge was reeds baie – maar hier wou ek meer wees, ongeag hoe. Na ‘n klompie maande was ek vies oor ek nooit gekontak was nie, en toe het ek mettertyd vergeet. Maar toe kom die oproep hierdie jaar uit die bloute. “Kom help ons vir drie ure, elke week, groot-asseblief-tog?”, vra die bestuurder. Ek het geen soebat nodig gehad nie.

Op die hoek van die besige hoofstraat in Mowbray, skree die venster van die tweedehandse meubelwinkel: Fridges wanted dead or alive.



Net oorkant glip mens by die smal deurtjie in. Die roekelose en spoedende taxi’s se verbal marketers skreeu pandemonies: Whinebirg, Plamsted, Retriet!

Op met die smal trappies, tot in die eerste vertrek met die staalplafon en houtvloer. Hier val jy met die boek in die huis met al die godsdienstige literatuur, Afrika-letterkunde en -fiksie en reisboeke, biografiee. Rakke en rakke vol. Jy kan nie help om die dikste een op te let nie: ‘n massiewe boek van 600 bladsye oor die die eerste familie van die Amerikaners, The Kennedy Wives.

Mens hoor van die dood van die gedrukte boek, maar in hierdie winkel is dit moontlik om te twyfel aan dié doemvoorspellings, want berge donasies van nuwe en baie klassieke ou boeke word daagliks hierafgelaai. Dosyne mense stroom daagliks die winkel binne.






In ‘n smal goudgeel gangetjie stap jy, op met nog drie trappies, tot in die groot kamer op linkerhand met al die fiksie. Daar is bedroef min skrywers van populêre leesstof van wie jy nie hier amper elke titel sal vind nie. Ook geskenkboeke, en pragtige joernale waarin nog nooit geskryf is nie, en lieflike leer-gebinde Africana vir ‘n appel en ei (R35 per kopie).






Net langsaan is daar die vertrek vir al die klassieke literatuur: Jane Austen, Charles Dickens, die Bronte-susters, Dostoyevsky, Oscar Wilde, Tolstoy, Forster. Jy staan voor rye en nogmaals rye Shakespeare-boeke, verslae oor hoeveel boeke een mens in vier dekades geskryf het. Toneelstukke, kritiek en silly Giles en grapgatboeke. Hier kan jy vir R10 ‘n koppie filterkoffie sit en drink, terwyl Bach en Scarlatti-musiek saggies speel en jy mag blaai en blaai en blaai (sonder dat jy gewaarsku word om eers die boek te koop voor jy dit lees). Peinsend of R40 dalk nie te veel is vir ‘n goeie boek nie.





Nog op met die smal houttrappies … op pad is daar dosyne boeke oor film, teater, restourasie, kostuums, meubels, die kunste, almal knus gerangskik onder die trap. Selfs ‘n rak vol ou bladmusiek, en ou kassette en CD’s en langspeelplate wat vir R5 elk verkoop word.

Tuin- en kinderboeke is links teen die trap uitgesprei – trap versigtig dat jy dit nie omskop nie. Internasionale reisboeke woon regs bo by die houttrap met ‘n gemaklike stoel, waar niemand eers sal vermoed dat jy ure en ure deur groot fotoboeke blaai nie, dromend oor jou reis na Marokko of Indië, die Grand Canyon of die Boland of Skandinawië.
Verder regs is ‘n klein kamertjie met dakvenster: hier is die wonderlikste kinder- en kleuterboeke, en al die bekende reekse vir tieners dig gepak teen R10 per kopie.



Nog opper met ‘n paar trappies is jy in ‘n betowerende dakkamertjie met ‘n breë vensterbank waarin jy kan sit en die frenetiese kom-en-gaan en gegil onder in Main Street kan dophou. Besigheidsboeke, vakliteratuur, sielkunde, self-help en verwysingsboeke. Mmm, ook feminisme en ander mediese raad, met twee leunstoele vir lank-sit.




Uit by die tweede deur in die kamertjie, en uiteindelik die heel hoogste dakkamer waar jy versigtig moet wees om nie jou kop teen die skuins dakkies te stamp nie. Akademiese tweedehandse boeke, veral oor finansiële bestuur en rekeningkunde, die Reg, rekenaarprogrammering en groot kookboeke. Al die handwerk-boeke – of jy nou kwilt of ‘n motor se enjin wil opknap of brei of noodhulp toepas, spotgoedkoop instruksieboeke sal jy vind.





Nou bevrou ek Dinsdag-oggende die telefoon as iemand op soek is na ‘n spesifieke boek. Ek skarrel soos ‘n bejaarderige muis entoesiasties op en af met die trappies, snuffelend agter die regte titel aan. Ek gooi alle boeke uit wat reeds ses maande op die rak is wat herwin word, of na skole toe gaan. Ek wig nuwe boeke in, werk die alfabet heen en weer, en skuif boeke na die regte kamers toe. Half-elf kry ek koffie en Lemon Creams.

En uiteindelik weet ek van nog iets wat my (hierdie jaar) opgewonde en gelukkig maak. Om Dinsdagoggend verniet te werk in die mooiste ou boekwinkeltjie in Kaapstad, waar ‘n boek selde meer as R35 kos. Hierdie werkie kan ek nog vir ‘n lang ruk doen.

Sonder vergoeding of salaris, vir die liefde van die saak. En vir die liefde vir boeke.

Related Articles:

Cookies help us deliver our services. By using our site, you agree to our use of cookies. Tell me more