On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Yellow Door

Die ander kant van ouderdom

───   ILSE SMALBERGER 21:02 Sun, 26 May 2013

Die ander kant van ouderdom | News Article

Die tyd stap aan en staan vir niemand stil nie. Ook nie vir Ilse Smalberger, en die gesig in die spieël nie.

Ek weet daar is al heelwat oor ouderdom geskryf, ook op die Yellow Door-blog. Maar ek het die afgelope tyd 'n bietjie van 'n "geopende oë" oomblik gehad wat ouderdom betref, en wil dit graag ook met jou, ons getroue Yellow Door-leser, deel.

Ouderdom is die afgelope tyd nogal heel voorlangs in my gedagtes. Die rede hiervoor is die feit dat die magiese 40 nie meer so ver weg is nie. Weliswaar 'n jaar of twee tot daar, maar ek kan die tekens van die ouderdom aan my eie liggaam nie meer miskyk nie. Ja, my hart is nog altyd 25, maar dit raak al moeiliker om die grys hare wat hier en daar begin uitloer, en die plooie op my voorkop (ek is 'n "fronser") te ignoreer.

Om nie te praat van die hele gewigkwessie nie! Ewe skielik is dit baie moeiliker om gewig te verloor. Eens op 'n tyd hoef ek net een maaltyd te mis en dan het ek sommer twee kilogram verloor. Nie meer nie. Dissipline, dissipline, dissipline en oefening is al wat die skaal laat sak. Nie juis twee van my gunsteling begrippe nie.

Om dus saam te vat, ek begin aan my lyf agterkom dat die tyd aanstap. Ek hoef nie meer na die kinders van vriende/familie te kyk om te sien dat die jare verbygaan en ek ouer word nie. En ek is nog nie heeltemal gemaklik met die gedagte nie.

Hier kom ek nou by die "geopende oë" oomblik van hierdie blog. Ek en die Eggenoot is onlangs in Spanje. Wonderlike vakansie en vir hom ietwat van 'n terugreis in die verlede, so dis ekstra spesiaal. Een aand in Seville gaan kyk ons 'n Flamenco-vertoning; iets wat toeriste "moet doen". Danksy die ongelooflike webwerf, Tripadvisor, kry ons 'n pragtige, knus (klein) teatertjie vir ons vertoning.

Ek geniet elke oomblik. Die danserseresse en troebadoere slaan jou asem weg en voer jou mee na 'n tyd van romanse en passie. Terloops, die troebadoere en die ou wat die kitaar tokkel is almal al bietjie lank in die tand, maar die danseressies is jonk en vars en beweeg soos nimfies oor die verhoog. En toe kom Sy. Heelwat ouer (kom ons wees eerlik - jy kan sien as dit skaap is in plaas van lammetjie), maar besit sy daai verhoog!

Ja, haar lyf is sagter en haar gesig lyk soos iemand wat al meer as 25 somers op hierdie aarde beleef het, maar die gehoor (die mans inkluis!) was vasgenael. Die jongetjies was tegnies foutloos, met gesiggies soos lentebloeisels en wilgerlatlyfies, maar die Señorita van daardie aand was net in 'n klas van haar eie. Jy kan sien sy besit elke vou en groef van haar lyf, sy weet wie sy is en waarheen sy op pad is, sy het al groot hartseer en groter vreugde beleef en elkeen van daardie ervarings is in haar bewegings en in haar lyf vasgevang.

Dit het my ook die anderkant van ouderdom laat besef. Onthou jy nog daardie koorsagtige begeerte om tog net in te pas? Ek doen. Voel ek dit nog? Nie in die minste nie. Ek het nog altyd geweet ek is 'n totale nerd, maar het dit eers die laaste paar jaar van my lewe aanvaar, en selfs embrace. Ek gaan nooit die mooiste, maerste, slimste, oulikste, sexy-ste vrou in die vertrek wees nie, en dis okay! Om die waarheid te sê, dit pla my nie in die minste nie!

Dis 'n wonderlike bevrydende gevoel, wat net met die ouderdom gekom het. Selfs so onlangs as twee of drie jaar gelede, sou ek nie bogenoemde vir jou kon sê nie.

Hoekom? Hoekom bring ouderdom wysheid en berusting? Dáár is nou 'n onderwerp vir die geestelike wetenskappe om na te vors. Daar is wel heelwat wetenskaplike bewyse en gepubliseerde studies wat toon dat ouer mense beter besluite as jonger mense neem. Tik net "age" en "wisdom" in Google in en dan kan jy self sien.

Voel ek al beter oor die feit dat ek ouer word? Ek weet nie. Dis 'n snaakse ding vir 'n vrou. Mans voel dalk anders oor ouer word. Ek weet net dat ek minder bang voel daarvoor. Ek het in my leeftyd al fantastiese "ou" mense ontmoet. Soos die uitgevatte 80-jarige ouma van 'n vriendin. Hulle het hul babatjie op 'n Saterdag by 'n spesiale geleentheid laat doop. Die ouma het die baba ingebring, uitgevat met nie 'n haartjie uit plek uit nie in 'n snyerspakkie en foutlose grimering. Later daardie middag het ek en die ouma 'n hoogs beskaafde gin & tonic saam geniet en oor die interessantste dinge gesels en ek het geweet, daardie prentjie van 'n versorgde, pragtige, interessante ouer vrou sal ek altyd onthou.

So wil ek oud word. Of liewer, ouer word, want kom ons wees eerlik, 40 is die nuwe 30, soos 50 die nuwe 40 is en so kan ek aangaan. Danksy legio roompies en leefstylaanpassings (sonblok enige iemand?) kan vroue baie langer jonger lyk, as wat hulle regtig is. Om van al die kosmetiese en chirurgiese opsies nie eers te praat nie (hier trek my keel sommer toe - ek is selfs te chicken vir 'n chemiese afskilfering).

Maar moet nooit sê nooit nie. In die jaar 2013, of nee wag, in die 21ste eeu, is ouer word nie so sleg nie. Ja, dalk is dit tyd om die kort-kort rokkies vaarwel toe te roep, maar dit is darem nie 'n slegte ruil vir wysheid en innerlike kalmte nie!

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.