'n Vrou en haar kind
ELSABE PEPLER
09:09 Thu, 04 Jul 2013
'n Vrou en haar kind | News Article
Elsabe Pepler bepeins die 'ongelooflikste ding op aarde'.
“Through the blur, I wondered if I was alone or if other parents felt the same way I did - that everything involving children was painful in some way. The emotions, whether they were joy, sorrow, love or pride, were so deep and sharp that in the end they left you raw, exposed and yes, in pain. The human heart was not designed to beat outside the human body and yet, each child represented just that - a parent's heart bared, beating forever outside its chest” (Debra Ginsberg).

“Being a mother is like trying to hold a wolf by the ears,” Gram said. “If you have three or four –or more – chickabiddies, you’re dancing on a hot griddle all the time. You don’t have time to think about anything else. And if you’ve only got one or two, it’s almost harder. You have room left over – empty spaces that you think you’ve got to fill up”
(Sharon Creech).

Iemand wat ek nou en dan raakloop, raai my die ander dag aan om ‘n homeopaat te gaan sien.

Sy weet ek is wanhopig oor die disfunksionele kommunikasie tussen mediese praktisyns en hulle betalende, siek pasiënte, die Eed van Hippokrates en die afleidings wat ek maar so by my selwers gedwing word om te maak tydens my futiele duur missies van bakboord- na stuurboord-spesialiste. (Ek het nie juis veel konstruktiefs te skryf oor die laaste onderwerp nie en laat dit vir ‘n volgende tierende blog.) 

So, vertel die persoon wat die homeopaat aanbeveel, kyk dié man in jou oë deur ‘n sekere instrument, wat dan foto’s daarvan neem en vergroot. Die Kaapse vrou laat haar nie afsit deur gesagsfigure nie en vra ewe vrypostig vir die homeopaat wát die een kol in haar oog dan beteken. “Tsk”, klap hy sy tong vir haar en sê geïrriteerd, “jy het mos een kind in die lewe gebring”. Dit het verskeie snellers in my brein – of in my hart – afgevuur.

Miskien is die sentimentaliteit situasie-gebonde. Ek het vanmiddag laat my dogter-kind, een van twee dierbare meisiekinders, op die Kaapstadse Internasionale Lughawe afgesien. Sy is Europa toe vir drie maande se rondslenter met ‘n rugsak.

Baie onlangs het ek lekker koffie gedrink saam met ‘n eertydse blonde beminde en minnaar van meer as 28 jaar gelede. Ek het gevrek oor hom. En wragtag, na al die jare kon hy ewe meerderwaardig nie weerstaan om die afspraak te bevestig sonder ‘n naskrif nie. “Ek wil graag koffie drink en gesels, maar ek soek nie drama nie”. Ekskuus tog? Het ek reg gehoor? Ek, ‘n drama-queen? Hoe durf hy? Ek ís heelwat ouer as 28 jaar gelede, maar ek het nog nooit gedink ek was lank gelede óf onlangs ‘n drama-queen nie. Ek vermoed hy onthou moontlik die verkeerde vrou en minnares. En hy is nie meer blond nie, maar grys.

Maar net vir ingeval hy nie verward is nie en insigte in my het wat ek self nie van weet nie, is ek dus toe half skrikkerig en versigtig vir myself op hierdie middag van koebaai-sê vir my klein, veeleisende, blonde pikkie wat nog heerlik onder ma se dak bly. Wat as ek nou ‘n drama daarvan maak dat die werpeling van my lende vir drie maande oorsee gaan rondflenter (al is ek hoegenaamd nie die drama-queen-tipe nie)?

Terwyl ek die naderende lughawe-afskeid bepieker en sjampanje vir ‘n jubelende vertrek-heildronk koop, besef ek weer hoe onbeskryflik en onverklaarbaar die naelstring tussen ma en kind is. (Vir my bly dit eenvoudig onverstaanbaar dat daar vroue is wat nuwe klein afhanklike skreeuende babatjies in swart sakke weggooi, maar my omstandighede was nie hulle s’n nie.)

Ek weet net een ding doodseker, bo alle ander wete en sekerhede in my lewe. Niks en niemand laat ‘n vrou en ma se hart so onrustig en altyd waaksaam rond-snuffel en oortyd-loop as haar kinders nie. Daardie kol in die oog, of dit nou ‘n appel of ‘n piesang is, kan nooit weer vervaag of weggaan nie. En omdat vrouens om hoeke kan sien terwyl mans reguit kyk, is die ma-hart soveel besiger en kloppender. Ek onthou hoe ontroer en sonder enige woorde ek was toe ek op my jongmens-toer in Rome voor die Pieta-beeld van die ma en kind in die St Peters Basilikum gestaan het. Verbyster oor iets wat ek nog nie verstaan het nie, en verbyster oor die skepping van Michelangelo wat op 24-jarige ouderdom die definisie van droefheid in marmer vasgekap het. Dis so duidelik hoe ‘n ma eerder self sal ly voordat haar kind siek of verlate of sterwend is.

Ons weet almal dat mans hoofsaaklik kompartementeel dink as gevolg van hulle minder ontwikkelde corpus collossum tussen die twee breinhelftes. As mans by die werk is, is hulle by die werk. As hulle rugby kyk, kyk hulle net rugby. As hulle jag, is hulle slegs besig om te jag. Op die gholfbaan sal geen man ooit wonder of die kinders se truie warm genoeg is nie en of die hondjie skuiling het teen die skielike reën nie, en geen man sal (sonder ‘n vrou se briesende bevele) agter ‘n koor-bus aanjaag wat weggery het sonder die nagtegaaltjies se kos nie. My arme twee dogters, waarvan een nou Europa toe vlieg soos ‘n swael agter die somer aan, was in die einste bus omtrent vyftien jaar gelede en is tot vandag grondig vernedered oor haar en haar sussie se ma die bus van die pad afgetrek het met ‘n dringende getoeter en flikkerende ligte, sowat 15km buite Bloemfontein. (Maar wat as niemand vir hulle enigiets te ete aangebied het nie, wat dan? En WAT as iemand vir hulle gelag het oor hulle nie ook mooi en lekker kossies het nie?)

Die ma-hart hardloop ewiglik daarbuite haar lyf en gebied rond, snuffelend en instinktief, beskermend en wakend, in onsigbare newels om die kind, selfs oor duisende myle. ‘n Pa-mens en ‘n man het natuurlik ‘n kind ook lief, verby verklaring en begrip, maar dis daardie baarmoeder-orgaan wat van ‘n ma-liefde iets meer primitiefs en onverwoordbaar maak. Die woord sê dit tog alles: die moeder wat die kind groei en baar. Die Engels is ewe mooi: womb.Yeats het geskryf: “I carry from my mother’s womb a fanatic’s heart”. Daar begin dit uit niks, die fanatiese band tussen ma en kind.

Niemand wat vooraf weet wat die emosies gaan behels terwyl jy die baba in jou dra, sal dit vrywillig doen nie. Dit oorheers elke gedagte en elke daad, elke slegte en alle lekker dinge: hierdie wesentjie wat met elke sonar meer soos ‘n volmaakte mens lyk en skamerig agter ‘n klein handjie wegkruip terwyl jy van binne gekarnuffel word met die omdraai. Die baarmoeder, het ek uitgevind, is sterker as ek en my drome en ideale van verslaggewer-wees en die beroepsleer klim en individualistiese ekspedisies.

Talle van my voormalige studente verskyn nou gereeld op Facebook. Die prentjies van prettige partytjies en avontuurlike uitstappies droog skielik op, asof dit in ‘n vorige lewe was. Ek sien die nuwe foto’s van hulle gesigte, die effense verslaentheid en onbeskryflike betowering, die onbegrip en die nuwe dimensie. Húlle kry nou babatjies en kindertjies; hulle post foto na foto van die gekreukelde pasgebore baba’s en poegaai ma’s en struikelende peuters en kattekwaad-kleuters. Skielik is die stad se gewoel te onveilig, en soek hulle herberg meer uit die trendy inner city in die vervelige voorstede met goeie babasorg en bure wat kan help.

Ek lees hoe die media se koppe half uithaak oor Prins William-met-sy-Diana-ma-gesig, en die lieflike Catherine en haar swangerskap. Ek lees hoe die wêreld ween oor die afskeid van Madiba, maar ek sien hoe die vreugde oor ‘n nuwe baba, een van sewe biljoen, selfs in die opstêrse Queen Elizabeth se kasteel, groter is as enige verdriet.

Ek hét as jong meisie gedroom van ‘n sielemaat ontmoet en trou en gelukkig wees. Maar ek het veel meer gedroom van baba’s en kinders wie se sagte, fluwelerige en rosige liggaampies ek kon versorg, wie se broos harte ek kon verbind het, wie se vatbare breintjies ek kon voed en vir wie ek kon skoentjies aantrek en storieboeke lees. Ek het iets primitiefs in my voel groei en opstaan soos wat die baba’s onder my hart en binne in my lyf gegroei het. Ek het geweet, sonder om te twyfel: vir jou, kind-onder-my-hart, sal ek storms en rampe en bedreigings en armoede en sukses konfronteer en onderhandel. Ek wou dolgraag ‘n opspraakwekkende joernalis word, maar nou en dan het die uitgeknipte tydskrif-foto’s van vuil seuntjies en soet dogtertjies uit my boeke geval en met my beplanning gemors. (‘n Baie suksesvolle verslaggewer het in my joernalis-dae vlerk gesleep … totdat ek hom nog voor die eerste afspraak vertel het hoe graag ek baba’s wil hê. Hy het dieselfde eerste afspraak gekanselleer.)

Toe het ek ervaar hoe ‘n oervrou en afgetrokke dromer stadig in my groei saam met die baba’s en ek het sonder wete geweet: help die persoon wat my pad kruis op hierdie reis van lewe-gee en kind-grootmaak en liefhê. Die hemel help jou as jy iets slegs van hulle sê of iets aan hulle doen. Die duiwel sal jou verslind as jy nie dink hulle is mooi en oulik en slim nie (al is hulle nie mooi en oulik en slim nie.) Die queen bitch hou jou dop en wag vir jou met haar ontblote wolfnaels grimmig bo haar kop. Want dis my kind, uit my lyf gebore, met gene van mense wat ek nie geken het nie, wat in haar voortgedra word. En vandag is ek so eindeloos dankbaar dat ek nie daardie enkellopende, ambisieuse joernalis en redakteur is nie, maar eerder kinderboeke vir klein mense gelees het en vir hulle briewe van die tandmuis geskryf het.

Ons geliefde, wonderlike Duitse Herdershond, Bee von Bergheim wat die huis soos ‘n direkte afstammeling van Hitler regeer, het dit weer by my ingeskerp; dié ding van die wêreld se onverklaarbare gefassineerdheid met klein baba’s en kinders. My blonde vriendin se verrassing-baba aan die heel verkeerde kant van 44 kom gereeld by ons vroumenshuis kuier, met die poplap op die arm. Al ons vrouens begin vreemde, patetiese, onsinnige geluide maak en baklei en stoei om besit van die 15-maande oue pienk en blonde, rondemaag-waggelende-koerende dogtertjie met die persstrikkie-skoene. Maar van ons almal, is Bee-hond die mees patetiese. Sy gee nie een snars vir haar voorgeslagte en nageslagte se Duitse meerderwaardigheid om nie en begin soos ‘n regte wolf te skree en howl as baba by die voordeur inkom. Sy verloor alle rede, selfrespek en beheer en stamp die baba se ma weg. Want Bee het haar baba’s gehad, agt van hulle, en sy was ‘n ma duisend voor sy hulle moes weggee. Miskien verlang sy nog na hulle …

Die onverstaanbare verskynsel van liefde van ‘n ma vir haar kinders is die ongelooflikste ding op aarde. Vir die ma is dit nie altyd gemaklik of lekker of selfs verkieslik nie. Die liefde en kommer hou net nooit op klop in jou lyf en kop en hart nie; dit gaan net aan jaar na jaar, twaalf maande en 52 weke en sewe dae van elke week, uur na uur en minuut tot sekonde. Dit steel jou energie wat jy in jou loopbaan wou stort, dit verongeluk die fokus op ander verhoudings, dit mors met jou eertydse sexy kurwes, dit slurp al jou beskikbare finansies op. Dit irriteer jou en almal om jou, want dit oorheers elke gedagte van elke dag. En almal weet dit. Is hy veilig, is sy gelukkig, is sy oukei? Kry sy nie dalk koud nie, en boelie iemand anders haar dalk nie?

Dis soms so onwaardig en klaaglik om te weet jy sien nie hierdie mens-uit-jou-lyf voor jou met rasionaliteit en rede en logika nie. Jy weet jy het dit verloor, die dag toe die liggaampie en siel in jou arms gesit is, en jy het dit nog nooit weer teruggekry nie.
Een ding weet ek sekerder as enige iets anders: as dit nie hiervoor was, vir hierdie waansinnige, onredelike liefde van ma’s vir hul kinders nie, was die wêreld ‘n onbewoonbare plek. As dit nie vir baarmoeders en moeders wat liefde baar was nie, was die mensdom in die moeilikheid. Al is moederskap soms só ondraaglik dat jy wonder of jy mal was toe jy na die kind verlang het nog lank voor hy of sy daar was.

Reis veilig, kind van my, terwyl ek in die newels om jou die omgewing dophou.

Related Articles:

Cookies help us deliver our services. By using our site, you agree to our use of cookies. Tell me more