On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   05:00 Thu, 01 Apr 2021

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article
FOTO: SABRINA DEAN

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.

Sien onderstaande PODCAST

In vandag se insetsel praat Laubscher oor strategiese diskoers wat nodig is om koers te hou.

“Dit is interessant om te sien hoe voorgestelde regstellings vir ná die pandemie beslag kry.  Daar is byvoorbeeld twee denkskole. Die een bly vassteek by walgooi om reg te wees vir moontlike opeenvolgende vlae van die pandemie, terwyl die ander gereed maak om in die afsienbare toekoms met die pandemie saam te leef.

“Albei het bepaald meriete, maar die rol van die regering om met inperkings ‘n stop-ry te kan troef, noodsaak deurlopende strategiese besinning. Trouens, saakmakende besluitnemers verdiskonteer eerder verskillende opsies by die rig van hul besighede en probeer dan die regering te oortuig om meer te ry as te stop. 

“Ons kan net hoop dat daar gehoor gegee sal word en dat die regering nie eensydig mag in eie hande hou nie. Strategiese herbelyning is egter nou meer nodig as ooit, maar daarvoor is ‘n strategiese diskoers nodig. Dié aspek gaan van nader bekyk word.

“Primêre landbou bly grootliks aangewese tot ‘n volhoubare lewering van verkoopbare produkte tot by die plaashek, maar is eweneens afhanklik van afnemers wat weer gelei word deur ‘n mark wat vraag voorkeure moet verdiskonteer.  Boere is in wese prysnemers en plaasvlak besluite is ‘n afgeleide van wat die mark dikteer.

“Daar is egter ‘n redelike tydverloop betrokke. Stygende pryse op verbruikersvlak – die gevolg van baie faktore – word herlei, maar dit neem tyd voordat aanbodverhogings voordeel kan trek uit hoër pryse. Hierdie wisselwerking is blywend ontwrig deur die pandemie. Die jongste daling in die inflasiekoers is grootliks die gevolg van dalende kosinflasie, maar anders as onder normale vraag-en-aanbod balansering, is dalende kosinflasie eerder toe te skryf aan ‘n gebrek aan besteebare inkomste.

“Hoe anders verklaar 'n mens die toenemende huishoudelike voedselonsekerheid? Kortom, besluitneming te midde van die pandemie gaan deur ‘n ander meul. Vyf faktore behoort in ag geneem te word as die negatiewe impak van die pandemie effektief verreken word in enige strategiese herbelyning.

“Die eerste dui op moontlike optimisme sydigheid ten opsigte van hoe die situasie kan ontvou en dan loop besluitnemers die gevaar om te gou ‘n oorwinning te verklaar. Die werklikheid dui eerder daarop dat die situasie erger kan wees en as sodanig verdiskonteer behoort te word.  Hierdie aspek word bemoeilik deur die onstabiliteit van die inligting wat verdiskonteer moet word. Beplanning bly uiteraard onderhewig aan wat redelikerwys verwag kan word, maar die betroubaarheid van die inligting so benodig, moet verreken word. Die beste is dus om verskillende scenario’s te ontwikkel.

“Derdens is dit noodsaaklik dat die bestuursmodel besluitnemers in staat moet stel om aanvanklike verkeerde antwoorde vinnig te verreken/absorbeer en dan regstel om strategies op spoor te bly. Dié wisselwerking verg kopkrap en deurlopende besinning, want om so te beplan is om te probeer spring vanaf ‘n los klip. Feit is dat die aanhoudende verwerking van deurlopende veranderings aan die relevante data, aanleiding kan gee tot analitiese verlamming. Om te meet is om te weet, maar die doen met wat jy dan te wete kom, is nog belangriker. Dit verg strategiese fiksheid.

“Laastens is daar kommer oor die fiksheid van die organisasie in die geheel. Besighede binne die waardeketting wat so noodsaaklik is om die boer se produkte by die plaashek af te neem, raak uitgeput om onder sulke uiterste onsekerheid te opereer. Dit gee weer of kan lei tot kort paaie in plaas van strategiese ompaaie met gevolge vir die effektiwiteit van plaasvlak-beplanning, want die tydsduur van besluitneming wat op plaasvlak geld, is ‘n gegewe.

“ ‘n Plaas is nie ‘n fabriek waar produksielyne maklik aan en afgeskakel kan word nie. Die heropbou van sê kuddes is ‘n afgeleide van wat normaalweg in ‘n ekonomie moet gebeur. Hoe die nadraai van ‘n droogte gesinkroniseer moet word met wat aan die vraagkant gaan gebeur, vra vir kollektiewe besinning. 

“Veranderings aan albei kante van die plaashek was al voor die pandemie onderworpe aan die impak van die sogenaamde vierde industriële revolusie. Daar is daaroor gedink, maar die pandemie het die realiteit van ‘n sogenaamde nuwe normaal ongevraag en kru afgedruk. Die volgende aanbieding sal daaroor toeligting probeer gee,” sluit Laubscher af.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.