Agri Hour
Kyk na jou diere om verliese te voorkom─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 22 Apr 2021
Daar is verskeie faktore wat ‘n rol speel in die gesondheid van kuddes.
Dr Lizanne Meiring, veearts by die Universiteit van die Vrystaat, sê hoë reënval, sowel as droogtes, kan onder meer ‘n negatiewe invloed op kuddegesondheid hê.
Sien onderstaande PODCAST
Meiring verduidelik dat hoë reënval ook kan lei tot meer siektes terwyl droogtes kan lei tot swak kosinname wat ook diere se gesondheid sal affekteer.
Sy sê hoewel kuddegesondheid ‘n belangrike rol in die winsgewendheid van ‘n veeboerdery speel, is dit nie die enigste bepalende faktor nie. “Daar is definitief ander faktore wat ‘n rol speel, soos genetika, voeding en algehele bestuur. Byvoorbeeld in ‘n skaapkudde, jou genetika kan uitstekend wees en jou dieregesondheid kan baie goed wees, wat kan lei tot ‘n hoë konsepsiesyfer en ‘n hoë lampersentasie, maar as jou bestuur baie swak was en later jou voeding baie swak is, dan gaan dit verseker jou lammers beïnvloed. Dit kan lei tot swak lammers, vrektes en selfs swak groei,” verduidelik Meiring.
LEES: African Swine Fever's detrimental effects discussed
Verder kan daar verhoogde finansiële implikasies ontstaan wanneer ‘n boer versuim om na sy kudde om te sien. Meiring sê inentings is belangrik en as diere nie ingeënt word teen ‘n siekte wat algemeen in daardie omgewing voorkom nie, kan dit tot hoë finansiële onkoste vir die boer lei.
Nog finansiële verliese wat boere kan lei weens onvermoë om na kuddes se gesondheid om te sien is melkproduksie. Meiring sê wanneer ‘n dier siek word, is die eerste ding wat geaffekteer word melkproduksie. “Dit kan so erg raak dat dit toekomstige melkproduksie affekteer of selfs [tot vrektes lei],” voeg sy by.
LEES: Wees op die uitkyk vir insek-oordraagbare siektes
Daarmee saam sê sy wat mense soms vergeet is dat hulle besmet kan word met sekere dieresiektes soos brucelose wat kan lei tot ernstige gesondheidsprobleme. Sy sê boere en hulle werknemers moet versigtig wees wanneer daar met siek of beseerde diere gewerk word. Handskoene en ander beskermedetoerusting moet gebruik word.
Bly ingeskakel op OFM-nuus se Agri-Uur weeksdae tussen 05:00 en 06:00 waar Meiring sal praat oor geslagsiektes en watter maatreëls getref kan word om dit te voorkom.
OFM-nuus
