Agri Hour
Dis lekker om elke dag in die natuur te wees, sê wildboer─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 22 Apr 2021
Die wildbedryf, soos talle ander bedrywe, het sy daaglikse uitdagings. Ten spyte hiervan sê Franco Joubert, ‘n wildsboer van Swartruggens in Noordwes, is daar ook talle positiewe aspekte wat met dié bedryf gepaard gaan.
Een hiervan sê hy is om elke dag in die natuur te wees.
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê deur elke dag in die natuur te wees stel dit die boer in staat om sy diere en omgewing te leer ken. “Jy weet waar loop elke dier op jou plaas. Jy weet watter dier is die man en watter manlike dier is die dominante dier. Dit raak amper soos beesboerdery om jou beste bul by jou beste trop koeie te sit,” sê hy.
Joubert sê hy is al vir sowat 15 jaar aktief betrokke in die wildbedryf en al sy fasette, wat toerisme, jag, teel, versorging van die wild en bemarking van wildsvleis insluit.
Verder sê hy dat meeste mense dink dat wildboerdery ‘n vinnige manier is om geld te maak, maar hy sê egter dat dit nie die geval is nie. Volgens hom neem dit sowat vyf jaar vir die besigheid om ekonomies vatbaar te wees. Dit is ‘n langtermyn belegging, sê hy.
Wat opkomende boere in die bedryf betref, sê Joubert: “Kennis is mag.” Hy sê opkomende boere moenie bang wees om raad te vra by diegene wat reeds in die bedryf is nie.
Hy doen ‘n beroep op die regering en publiek om opkomende boere te ondersteun. Daarmee saam voeg Joubert by dat daar baie keer gevalle ontstaan waar die regering opkomende boere grond gee en versuim om hulle die nodige opleiding te gee om ‘n sukses van hulle boerdery te maak.
“Die wildbedryf is nie ‘n maklike boerdery nie, maar ons doen dit vir die liefde van die passie. ‘n Boer bly ‘n boer en ‘n boer het ‘n passie vir grond, die natuur en vir gras. So, ek dink elkeen van ons is bevoorreg om hierdie beroep te beoefen met al sy uitdagings,” sluit Joubert af.
OFM-nuus
