On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agri Hour

Lesotho-grens in kollig tydens vergadering tussen VS- en Lesotho rolspelers

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 04 May 2021

Lesotho-grens in kollig tydens vergadering tussen VS- en Lesotho rolspelers | News Article

Die kwessie van die onwettige instroming van Lesotho-burgers in die Klaarwater-omgewing, op spesifieke roetes en plase vanuit Lesotho, het onlangs tydens ‘n vergadering onder die loep gekom.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê onwettige instromings vind byna daagliks vir die afgelope dekade plaas en meen dit hou verband met die toename in misdaad-aktiwiteite. 

Sien onderstaande PODCAST

Diegene wat deel gevorm het van dié vergadering, sluit in die Vrystaatse LUR van Polisie, Paaie en Vervoer, Sam Mashinini, Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS), plaaslike landbougemeenskappe en eweknieë uit Lesotho.

Wilken deel met OFM-nuus dat die doel van die vergadering was om die onwettige binnekoms van Lesotho-burgers en vee in die Klaarwater-area te bespreek.

Daar is uitgewys dat vee- en veral motordiefstal vanuit Suid-Afrika van die kwellende kwessies is wat dringend aandag moet geniet.

Wilken sê Mashinini het onder meer gesê dat hekke in die Klaarwater-omgewing toegespan gaan word. Hy sê daar is ook besluit dat die grenspad aan die Suid-Afrikaanse kant met behulp van die provinsiale geel vloot geskraap gaan word ten einde die SANW en die polisie te bemagtig om patrollerings te doen en ook om hul reaksietyd te verhoog.

Verder het die Lesotho-polisiebeamptes versoek dat hulle beter samewerking met die SAPS wil hê; dat die plaaslike polisie vinniger sal optree wanneer hulle in kennis gestel word van Suid-Afrikaanse oortreders wat in Lesotho gevang is. 

Nog ‘n kwessie wat Lesotho-rolspelers geopper het, is die indiensneming van Lesotho-burgers deur Suid-Afrikaanse boere. Daarmee saam het Wilken boere versoek om dit nie te doen nie. “Dit is ook duidelik uitgewys dat hulle die nodige permitte en kontrakte van boere moet bekom om te verseker dat gehoor gegee word aan die Wet op Basiese Indiensneming.”

Verder sê Vrystaat Landbou in ‘n verklaring “dat misdaad deur sekere groeperinge en/of sindikate wat in die onderskeie areas werksaam is, die gemeenskappe aan weerskante van die grens benadeel. ’n Versoek is daarom gerig dat beter samewerking tussen Lesotho en Suid-Afrikaanse wetstoepassers sal plaasvind ten einde reaksietye op te skerp," asook om kriminele wat oor die grens bedrywig is, vas te trek.

Wilken sluit af deur landbougemeenskappe te versoek om alle misdaad by die polisie aan te meld. Die polisie sal, in samewerking met die SANW, gesamentlike misdaadoperasies in die area beplan en van stapel stuur.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.