Agri Hour
Agri NK praat oor uitdagings─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 02 Jun 2021

Die droogte bly nog een van die landbougemeenskappe in die Noord-Kaap se grootste uitdagings.
Die onlangse reënval, wat oor dele van die provinsie voorgekom het, het nie die erge droogte in die provinsie gebreek nie. Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, het met OFM-nuus se Elsabé Richard, hieroor gesels…
Sien onderstaande PODCAST
Jansen sê die sentrale-, suid- en westelike dele van die provinsie – wat byna 50% van die oppervlakte van die Noord-Kaap uitmaak, gaan nou al vir agt jaar gebuk onder die droogte. Die organisasie bly voortdurend gefokus op hulpverlening vir boere wat onder hierdie erge droogte gebuk gaan deur by die plaaslike regering, sowel as die private sektor, se deure aan te klop.
Verder het die provinsie ook gebuk gegaan onder sprinkaanplae wat uitgebreek het nadat reënval in droë dele van die provinsie voorgekom het. OFM-nuus het vroeër berig Danie Jacobs, voorsitter van Agri Noord-Kaap se omgewingsake-komitee, sê dat hulle nie meer op die oomblik voetgangers spuit nie.
Dorpe waar daar swerms aangemeld is, sluit in Askham, Kuruman en Warrenton.
LEES: Publiek gevra om sprinkaanswerms aan te meld
Daarmee saam het Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), gesê boere in die Hertzogville- en Boshof-omgewing in die Wes-Vrystaat is die afgelope naweek begroet deur 'n donker sprinkaanwolk toe 'n groot swerm van die Noord-Kaap gemigreer het.
Hy het die publiek versoek om swerms aan te meld.
Indien die publiek betrokke wil raak by die organisasie se droogtehulp inisiatiewe of ‘n lid van Agri Noord-Kaap wil word, kan hulle die organisasie se webblad besoek vir meer inligting hieroor.
OFM-nuus