On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

#Droogtehulp noodsaaklik om boere op plase te hou

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 25 May 2021

#Droogtehulp noodsaaklik om boere op plase te hou | News Article
FOTO: VERSKAF

Droogtehulp-inisiatiewe bring hoop vir boere wat jaar ná jaar gebuk onder erge droogtetoestande moet gaan.

Sybil Visagie, ‘n Noord-Kaapse boervrou en die stigter van ‘Save the Sheep’, sê dit is haar passie om hierdie boere te help. 

Sien onderstaande PODCAST

Visagie, wat saam met haar man tussen Sutherland en Calvinia boer, sê hulle ervaar self eerstehands die droogte. Dié omgewing staar nou al sy negende jaar van droogte in die gesig.

Van die onlangse droogtehulp-projekte sluit in twee vragte voer wat aan die Steinkopf-boerevereniging in die Namakwa-streek, wat uit sowat 15 boere in die droogtegeteisterde omgewing bestaan, geskenk is. Visagie deel dat Gift of the Givers die vervoer verskaf het om hierdie voer by die boere te kry.

Proefplase in Upington en Rietrivier het elk een vrag voer vir hierdie boere verskaf.

Visagie sê die 15 boere het gesamentlik ‘n skaaptrop van meer as 3 600, 120 beeste en steeds 35 werknemers op hulle plase.

“Ek was opgewonde om te sien, ten spyte van die feit dat hulle ook hulle negende jaar van droogte binnegaan, hulle steeds hulle werknemers het. Hulle het hulle skaaptroppe in plek. So, dit was ‘n baie belangrike uitreik vir ons want ons behou daai boere op hulle grond…” sê sy verder.

OFM-nuus het vroeër berig dat Visagie in November 2017 betrokke by droogtehulp geraak het om die publiek bewus te maak van die vernietigende droogte in Sutherland en die Karoo. 

LEES: #LandbouHoop: Boervrou streef om boere in nood te help

Sy streef nie net daarna om boere te help nie maar ook hulle families. “Huishoudings help jy in die eerste plek as jy vinnig wil help met ‘n kospakkie. Om in ‘n winkel in te stap om shampoo te gaan koop, of sweets, is luuks vir meeste boervroue,” verduidelik sy. Visagie voeg by dat haar begeerte is om op die langtermyn ‘n oplossing te bied en bemagtigingsprojekte van stapel te stuur.

Verder is daar ook hekelprogramme waarby plaaswerkers se vroue betrokke kan raak, waar verskeie produkte soos maskers en matte gehekel word en sodoende geld verdien word. Visagie sê hulle maak gebruik van enige geleentheid om ‘n boervrou of ‘n plaaswerkervrou, of enige vrou in dié stadium, te help omdat die Covid-19 pandemie mense wat selfs in dorpe bly, negatief geraak het. 

“So, ek kan praat van enige Karoo-vrou, om ‘n Karoo-vrou te bemagtig sodat sy haar rug weer kan reguit trek en sê 'ek is belangrik, ek is iets werd, ek kan na my eie kyk, ek kan my eie geldjie verdien, ek kan my kind skool toe vat, [en] ek kan vir my kind skoolskoene koop',” voeg Visagie verder by. 

Diegene wat meer wil weet oor hierdie inisiatiewe of ‘n bydrae wil maak, kan Visagie kontak by 071 256 6795 of besoek die ‘Save the Sheep Products’ Facebook-blad.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.