On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

#Covid19: Agri SA doen 'n beroep op die regering om in te gryp

───   05:00 Wed, 23 Jun 2021

#Covid19: Agri SA doen 'n beroep op die regering om in te gryp | News Article

Agri SA pleit, namens die landbousektor, dat die regering hul versoek oorweeg om voorkeur te gee aan noodsaaklike werkers binne die sektor en hulle so gou as moontlik vir die Covid-19-entstof registreer.

Sien onderstaande PODCAST 

“Die derde vlaag Covid-19 infeksies het drasties toegeneem die laaste paar dae regoor Suid-Afrika. Die nasionale regering, wat primêr verantwoordelik is vir die uitrol van die nasionale inentingsprogram, het gesondheidswerkers, persone ouer as die ouderdom van 60, en nou onlangs onderwyspersoneel geprioritiseer sonder om kritiese noodsaaklike sektore soos die landbousektor in ag te neem. Die landbousektor is ook natuurlik verantwoordelik om voedselsekerheid nasionaal te verseker en Agri SA doen ‘n spesifieke beroep op die nasionale regering om hierdie sektor ook in ag te neem in die uitrol van hierdie inentingsprogram. Agri SA is ook bekommerd dat indien boere en plaaswerkers, hetsy in die primêre of sekondêre landsbousektor, nie geprioritiseer word nie, dit ‘n nadelige uitwerking op hierdie uitsonderlike sektor sal hê in terme van werkskepping om nasionale voedselsekerheid te verseker en ook buitelandse verdienste te verdien,” sê Andrea Campher, Risiko- en Rampbestuurder van Agri SA. 

Verder sê Campher dat die impak van die derde vlaag van Covid-19 infeksies ‘n nadelige impak sal hê op die landbousektor en boere.

“Wat die derde vlaag Covid-19 infeksies betref, bedreig dit nie net ons boere en hul families nie, maar ook ons plaaswerkers, hul landelike gemeenskappe en natuurlik die personeel wat in winkelsentrums werk. So dit is nie net ons primêre sektor nie, maar ook ons sekondêre landbousektor wat hierdeur geraak word. Wat die derde vlaag so dodelik maak, is dat die infrastruktuur in landelike gebiede om te toets vir die virus, ons inentingsfasiliteite in sommige dorpe, heeltemal ontbreek. Wat die landbousektor dan nog verder kwesbaar maak, is dat die infrastruktuur in landelike areas nie die kapasiteit noodwendig het om Covid-19 hospitalisasies te huisves nie. Daarbenewens is daar ook nie in elke dorp inentingsfasiliteite nie, wat die uitrol van hierdie entstof in hierdie gebiede kan kniehalter.”

Sy sluit af deur te sê dat “ten spyte [daarvan] dat ons landbousektor tans nie geprioritiseer word in ons nasionale inentingsveldtog nie, doen AgriSA ‘n spesifieke beroep op die nasionale regering om die landbousektor se pleidooi te oorweeg om geprioritiseer te word. Daarbenewens rig AgriSA ook ‘n pleidooi aan boere en plaaswerkers wat ouer as die ouderdom van 60 is om vir die entstof te registreer. Dit sal verhoed dat verdere lewens as gevolg van hierdie pandemie verloor [word].”



OFM-nuus/Lee Simmons


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.